Brande op Wits-kampus gestig ure voor universiteit heropen

Studente betoog by Wits  (Oktober 2015) Foto: Wits, Facebook

Studente betoog by Wits (Oktober 2015) Foto: Wits, Facebook

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) moes Woensdag veiligheid by sy Braamfontein-kampus opskerp nadat eiendom op die kampus deur brande beskadig is.

Sharon Patel, woordvoerder van die universiteit, het gesê die vier voorvalle het vroeg Woensdag plaasgevind, terwyl die instansie voorbereidings getref het om lesings te hervat. “Twee voertuie wat aan ons kontrakteurs behoort, is aan die brand gesteek, maar veiligheidspersoneel kon daarin slaag om die brande te blus,” het Patel gesê.

“’n Motorband is buite die studentesentrum aan die brand gesteek en die vensters van die boekwinkel in die sentrum is gebreek en boeke is aan die brand gesteek,” het sy gesê. Nog ʼn buiteband is later naby die biblioteek aan die brand gesteek. Patel het gesê al die brande is geblus voordat dit kon versprei en verdere skade kon aanrig.

Adam Habib, visekanselier van die universiteit, het die voorvalle veroordeel. “Gelukkig was Kampusbeheer byderhand om die brande te blus en niemand is beseer nie,” het hy gesê. “Ons veroordeel hierdie lafhartige voorvalle van geweld en vandalisme te sterkste. Enigiemand wat vir sulke optrede verantwoordelik is, sal in hegtenis geneem en aangekla word.”

Habib het gesê veiligheid sal verder opgeskerp word, aangesien lesings Woensdag ná meer as 10 dae van studentebetogings hervat sal word. “Die veiligheid en sekuriteit van ons personeel en studente is van kardinale belang en veiligheid is versterk op die kampus om te verseker dat die universiteit vandag sonder enige verdere voorvalle heropen. Die polisie is ook op bystand.”

Die voortslepende betogings by Wits het verdeeldheid onder studente gesaai oor of daar voortgegaan moet word met die #FeesMustFall-beweging, nadat pres. Jacob Zuma Vrydag aangekondig het daar sal geen verhoging in studiefooie vir 2016 wees nie.

ʼn Groep studente wat deur enkele werkers by die instansie ondersteun word, het beloof om aan te hou betoog vir gratis tersiêre onderrig en om ʼn einde te bring aan die uitkontraktering van dienste op die kampus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JWK ·

So het hulle in die 70tigs ook skole en biblioteke gebrand, ook oor “Education”
Haha – Zumpie, jy en jou maatjies het hulle opgelei om nes jy geen verantwoordelikheid te aanvaar nie, en net aan selfverryking te dink!! Ek het van te vore gesê, hierdie is stedelike terrorisme……SAPS moet dienooreenkomstig optree……..baie gou ook.

Peet Schabort ·

Môre se leiers, lyers, luiers, luies? Eish!! (Jiggie).

Charmaine ·

En dit is altyd net sekere mense wat so vandalisties aangaan. Ons breek nou af en as ons nie deurkom nie dan breek ons weer af! Want druip hulle gaan dit weer iemand se skuld wees. As daar verhogings is omdat wat afgebreek en gebrand is geld kos dan breek ons net verder af.

Winston ·

Vinnig besig om die land in n ashoop te verander. Daarna kan daar weer hande bak gehou word buiteland toe vir China en Rusland. Hierdie optredes gaan ons almal se ondergang beteken. Totdat daar n diktator heers wat voor die voet sy opposisie doodmaak.

Gerhard Bezuidenhout ·

Maroela Media jule haal elke dag my kommentaar af . Wat was vandag weer die fout ? Nou kan julle gaan doppies blaas met jul blad en al.

Lettie ·

Wat hierdie klomp “studente” vergeet is, al die goed wat hul vernietig en beskadig moet weer reggemaak word en daar moet geld wees om dit te doen.

KarenG ·

Lettie ek kan jou belowe dis die laaste ding waaroir hulle bekommerd, want baie van hulle het nou maar een maal n slagoffer mentaliteit en die houding van julle skuld ons. As hulle die insig gehad het dat hierdie n selfvernietigende optrede is, sou hulle in die eerste plek so opgetree het nie…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.