Brande: “Verklaar Oos-Vrystaat tot rampgebied”

Argieffoto

Argieffoto

Die VF Plus eis dat die Oos-Vrystaat as ʼn rampgebied verklaar moet word nadat meer as 100 000 hektaar weiding deur veldbrande vernietig is.

Wouter Wessels, lid van die provinsiale wetgewer, sê die geweldige verlies het ʼn groot sosio-ekonomiese impak op die plaaslike gemeenskap.

“Om voedselsekerheid, werkskepping en landelike ontwikkeling te verseker, moet die regering meer doen om hierdie tipe natuurrampe deur effektiewe rampbestuur te voorkom, te beperk en na afloop daarvan vinniger voldoende rampverligting te bied.”

Wessels sê dit is onaanvaarbaar dat die provinsiale regering sloer met die aansoek by die nasionale departement om rampverligtingsfondse.

“Oor die algemeen neem die rampverligtingsproses onnodig lank. Die provinsie verklaar die betrokke gebied as ʼn rampgebied en doen by die nasionale departement van landbou, bosbou en visserye aansoek om fondse, waarna die rampgebied bekragtig moet word en ʼn aansoek om fondse by nasionale tesourie ingedien word.”

Wessels sê indien dit goedgekeur word, betaal die tesourie die fondse aan die nasionale departement en die betaal dit oor aan die provinsiale departement waarna dit aan die betrokke munisipaliteite waar boere aansoek gedoen het om hulp, betaal word.

Wessels sê die VF Plus sal die status en optrede van die regering in hierdie verband monitor en sal nie toelaat dat die proses op enige vlak weens ʼn gesloer of onbevoegdheid vertraag word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.