Brande woed voort in Suid-Kaap, nóg inwoners ontruim

Brandbestryders veg steeds ná ʼn week teen vlamme in die Suid-Kaap. Foto: Working on Fire via Twitter (@wo_fire)

Daar is tot dusver geen aanduiding wanneer inwoners van Garcia naby Riversdal in die Suid-Kaap sal kan terugkeer huis toe nie.

Dít nadat hulle Sondagaand hul huise moes ontruim nadat ʼn brand die Garcia Bosdorp-gemeenskap begin bedreig het. Inwoners is as voorsorgmaatreël na die Riversdal-rugbystadion geneem tot die brand uitgewoed of heeltemal in bedwang gebring word. Niemand is beseer nie.

Brandbestrydingspanne is ook steeds op die toneel om enige brande wat weer opvlam, te stuit, en veral om die dorpie te beveilig.

CapeNature sê intussen daar is steeds smeulende stompe in die inheemse woude in die omgewing van Boosmansbos wat fyn dopgehou word.

Kruisrivier sukkel met beperkte hulpbronne en boere en amptenare van die Hessequa-munisipaliteit monitor die situasie en hanteer opruimingswerk.

ʼn Hond word vir rookinaseming behandel by die Knysna Animal Welfare Society. Foto: Knysna Animal Welfare Society via Facebook

Die brande wat die afgelope week op verskeie plekke in die omgewing van Rheenendal, De Vlugt, George en Karatara gewoed het, het al meer as 80 000 hektaar verwoes. Dit het hoofsaaklik uit drie groot brande en verskeie kleiner brande bestaan.

Verlede jaar se verwoestende brande by Knysna was minstens vier keer kleiner.

Die Tuinroete-rampbestuursentrum het vanoggend gesê die koeler weer en die vooruitsig van reën later vandag behoort opruimingswerk in die omgewing te vergemaklik.

Die sentrum sê ook dit hoop om vandag van die pootuit brandbestryders met uitgeruste spanne om te ruil. Die koel, reënerige toestande gee werkers ʼn kans om te rus vir wanneer dit later in die week weer warmer word.

Amper 40 voertuie en 323 brandbestryders is vanoggend ontplooi om brande te help bestry.

Altesame 14 helikopters en vliegtuie is ook vandag by brandbestryding betrokke.

  • By De Vlugt woed brande steeds by Jonkersrust waar heelwat uitheemse plantegroei is. By Dubbelberg, Jonksrus, Enselin en EP van Rooyen is opruimingswerk aan die gang en word brande nog in bedwang gebring.
  • Skoonmaakwerk duur voort tussen Buffelsnek en George en pogings duur voort om die brand daar te beheer. Bedrywighede fokus op die Goudveld-lyne.
  • Lyne van die Jonkersberg- en Groeneweide-plaasbrand het nog nie saamgesmelt nie en brandbestryders maak goeie vordering om die brande te beheer en opruimingswerk te doen.

ʼn Werknemer van die Knysna Animal Welfare Society voer ʼn klein trop varke wat by Farleigh agtergebly het toe inwoners daar moes ontruim. Foto: Knysna Animal Welfare Society via Facebook

Die dierewelsyngroep Kaws (Knysna Animal Welfare Society) sê intussen hulle kry deurlopend oproepe van mense wat vra hoe hulle diere wat deur die brande geraak word, kan help. Kaws sê op dié stadium het hulle veral honde- en katkos (nat en droog), komberse, kosbakke en katsand nodig.

Skenkings kan onder meer by die Spar in die Knysna-winkelsentrum, by Kaws se hokke of by skenkingsbokse by Knysna Vets en Pet and Pool afgegee word.

Kaws-woordvoerder Retha Havenga sê hulle hokke is stampvol. Die DBV op George help met tydelike huisvesting.

Havenga sê die meeste diere is afkomstig van gebiede waar mense hulle huise moes ontruim, of van troeteldiereienaars wie se huise afgebrand het of ernstig beskadig is. Sy sê die diere word ook gesteriliseer voordat hulle terug aan hulle eienaars besorg word.

Enkele diere het brandwonde aan hul pote opgedoen waar hulle op kooltjies getrap het en ʼn hond en ʼn kat is vir rookinaseming behandel. Hulle toestand is bestendig.

Die organisasie versorg ook nagenoeg 70 hoenders en ʼn klein trop varke wat by Farleigh agtergebly het toe inwoners daar moes ontruim. Die diere is ongedeerd en word vandag na Kaws se sentrum geneem waar dit makliker is om na hulle om te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jaco ·

hierdie brande word gestig. net jammer niemand weet deur wie nie. Dis heel moontlik een van die volgende 2, of dalk albei:
1. working on fire se mense wat veronderstel is om ander werk ook te hê en dan vir ekstra inkomste brande blus. In praktyk doen hulle egter niks om ander werk ook te kry nie en stig eerder brande, waarna hulle betaal word om dit te blus.
2. Die ANC-EFF wat die Wes-Kaap “onregeerbaar” wil maak en die provinsie wil “bevry” van die “rassistiese” DA
EN VOOR ek nou gekruisig word oor my kommentaar, gaan kyk asseblief net na kommentare onder berigte van brande ‘n jaar of meer gelede ook langs die Tuinroete en ook in die Boland. Dieselfde bewerings is toe gemaak en op plekke in die Boland is selfs afgekom op houtstapels wat op so n manier gepak is, dat dit maklik tot n reusagtige brand kan versprei nadat dit aangesteek is.

Johan ·

Jaco, ek dink jy is verkeerd met jou punt 1 – ek kan my nie indink dat sulke mense brande sal stig nie. Al is dit om geld te verdien, dit bly ‘n werk waar jou lewe in gevaar is, veral in beboste area waar wind die brand kan laat hardloop. So jammer maar ek dink daar sit jy die pot mis.

Oor die algemeen stem ek saam dat ek ook glo dat die brande gestig word. Weet egter ook nie deur wie nie, want net laakbare gemors sal dit doen. Ek verstaan daar woed brande in Tsitsikamma area (“selfs tot in Humansdorp area”) – kan iemand asb verifieer – en kan my nie indink dat dit vanaf die George brand af kom nie. So hoekom so “toevallig” nou ‘n brand daar?

Sue ·

Jaco – Sal my glad nie verbaas as brande (of sommige) opsetlik in die Wes-Kaap gestig word nie.

Lizelda ·

Al julle wonderlike mense wat OOK na die diere omsien baie, baie dankie uit die diepte van my hart. Baie sterkte vd tyd wat voorle.

Kobie ·

Dit is verskriklik om die diere te sien. Die shelter het nie geld nie en die eienaars is self arm en het verliese. Maak asb ‘n verskil en gee ‘n geldjie. Ons wil roem as Christene, laat ons dit nou wys met ‘n bydrae. Ek het reeds. Die bankrekening is op internet beskikbaar.

Versigtig ·

Wees versigtig om brandbestryders te verdink. Ek kan nie glo dat mense hul eie lewe in gevaar sal stel deur brande te stig nie.

Ek het so 30 jaar gelede iemand geken wat in daardie geweste by die Brandweer gewerk het. As daar die geringste rokie getrek het iewers naby daardie bosse of plantasies, is hulle uitgeroep en moes hulle gaan ondersoek instel en dit blus.

Vandag as ‘n brand gerapporteer word en dan selfs hulp aangebied word, is die antwoord partykeer: “Ons sal terugkom na jou toe”. Dan word daar eers ‘n paar dae later wanneer die bergwinde (baie sterk en warm) begin waai opgetree. Dan is die rook te dig om helikopters te gebruik ens. Of daar word gesê: “Daar is nie geld in die begroting om brande vanuit die lug te bestry nie.”

Dalk is dit die verskil tussen “toe” en “nou”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.