Branderplankryer (30) sterf in Richardsbaai

Alkantstrand. (Foto: Svwmal, via Wikimedia Commons)

’n 30-jarige man het sy bewussyn verloor terwyl hy branderplank gery het en is kort daarna dood verklaar.

Die voorval het Saterdagoggend by Alkantstrand in Richardsbaai in KwaZulu-Natal plaasgevind.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê lede van die Richardsbaai NSRI is omstreeks 09:00 na die strand ontbied na berigte dat omstanders besig was om kardiopulmonêre resussitasie op ’n man toe te pas op die strand.

Paramedici van NSRI het na die toneel gehaas en is meegedeel dat paramedici van Netcare 911 en Mounties EMS ook ontbied is.

“Met hul aankoms op die toneel het die NSRI paramedici bygestaan met KPR-pogings op ’n plaaslike 30-jarige branderplankryer.”

Volgens Lambinon is die man uit die water gered deur medebranderplankryers nadat hy skielik sy bewussyn verloor het terwyl hy branderplank gery het.

“Ondanks uitgebreide KPR-pogings is die man ongelukkig dood verklaar.”

Die polisie sal ’n geregtelike doodsondersoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tanniepetoors ·

Min mense sterf terwyl hul besig is om iets te doen wat vir hul plesier verskaf. Ek glo dit was hier die geval. RIV jong man. Sterkte aan familie en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.