Branderplankryer sak inmekaar op rotse

NSRI-reddingsboot (Foto: NSRI via Facebook)

’n 52-jarige branderplankryer het Dinsdagoggend gesterf nadat hy glo sy bewussyn verloor het en op die rotse by Kommetjie in Kaapstad, inmekaargesak het. Hy het net voor die voorval branderplank gery.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Kommetjie se mediese span is die oggend om 11:15 na die rotse ontbied. Dave Smith, ʼn stuurman van NSRI Kommetjie, sê met hul aankoms op die toneel het hulle die branderplankryer reeds dood op die rotse aangetref.

Smith sê die branderplankryer het die oggend net voor die voorval die see met sy branderplank ingevaar. “Soos ons verstaan het hy, net toe hy uit die water kom, aan ’n omstander gesê hy voel sleg. Die volgende oomblik het hy sy bewussyn verloor en op die rotse inmekaargesak,” sê Smith.

Die nooddienste, CMR (Cape Medical Response) en Valsbaai Volunteer EMS, asook die polisie is ook ontbied.

Smith sê die NSRI Kommetjie-bemanningslede wat op die toneel was, het saam met die polisie en die ander nooddienste die branderplankryer se liggaam van die rotse verwyder. Sy liggaam is gestuur vir ʼn nadoodse ondersoek.

Die polisie is tans besig om die saak te ondersoek.

“Namens die NSRI wil ons graag ons medelye aan die branderplankryer se familie betuig,” sê Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

007 ·

Die arme man gaan ook seker beskuldig word wat het hy daar gesoek, en dat hy aan C-19 gesterf het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.