ʼn 54-jarige branderplankryer het op Kersdag in Kaap St Francis in die Oos-Kaap gesterf.
Die man se vriende het hom op sosiale media uitgeken as Drew MacDonald.
Sara Jane Smith, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Kaap St Francis, het gesê die NSRI is omstreeks 16:20 na die toneel ontbied waar ʼn branderplankryer vermoedelik in die moeilikheid beland het by Seal Point.
Volgens Smith het MacDonald op die rotse uitgespoel nadat hy om een of ander rede in die golwe in die moeilikheid beland het. “ʼn Groep jong plaaslike branderplankryers het hom uit die water gehaal en na die strand gebring. Hulle het dadelik met KPR begin en ʼn privaat dokter, die NSRI, lewensredders en paramedici het ook by hulle aangesluit.”
Alle pogings om die man by te bring, was egter tevergeefs. Hy is op die toneel dood verklaar.
Polisiewoordvoerder sers. Majola Nkohli het gesê die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.