Brandhulp vir bejaarde boer ná Facebook-plasing

Charmaine Faure het dié foto van haar ouers se plaas op sosiale media gedeel. (Foto: Facebook)

Drie vragte voer sal Vrydag in Hartswater gelaai word en na verwagting Maandag op ’n brandgeteisterde plaas tussen Warrenton en Windsorton in die Noord-Kaap afgelaai word nadat ’n Facebook-plasing Burre Burger se aandag getrek het.

Burger is bekend daarvoor dat hy boere, spesifiek in droogtegeteisterde gebiede en op moedverloor se vlakte, help. Hy vertel dat hy besluit het om in dié geval ’n uitsondering te maak en dié 70-jarige boer te help.

“Ek was maklik 20 000 keer op die Facebook-plasing ingesluit. Dan móét ʼn mens reageer,” het Burger Vrydagoggend aan Maroela Media gesê.

Charmaine Faure het haarself verlede week tot sosiale media gewend om hulp te vra vir haar bejaarde ouers wie se plaas in die Noord-Kaap afgebrand het en gevolglik geen meer weiding vir hul vee het nie. Dié plasing is sedertdien ongeveer 14 000 keer gedeel.

Burger sê die voer wat geskenk word, sal op versoek van Faure se pa ook na drie ander boere op buurplase gaan wat ook onder die einste brand deurgeloop het.

Charmaine Faure se Facebook-plasing. (Foto: Facebook)

Burger vertel dat hy Vrydagoggend met die bejaarde boer gesels het wat in absolute ongeloof is dat iemand hom kom help. “Dit wys ons net dat ons nie so slegte land is nie, ons het goeie mense wat ander help,” sê hy.

Die voer sal in samewerking met Round Table Harz 186 van Hartswater vervoer word. Burger vertel dat hy beslis in die toekoms meer brandhulp sal bied, indien hulle genoeg borge kry om te help met die koste van vervoer wat die grootste uitgawe in dié soort gevalle is.

Hy vertel dat hy ewe skielik oorval word met versoeke om boere te help wat alles weens brande verloor het. “Brande word gestig of word maar deur natuurfratse veroorsaak,” sê hy.

Hy verduidelik dat weiding vir meer as ’n jaar ná so ’n brand nie voldoende sal groei nie totdat die volgende reënseisoen gekom het. “In die geval van ’n brand waar boere se store vol voer afbrand of weiding wat afbrand, is jy volledig afhanklik van mense om te help, anders kan jy nie aangaan nie.”

’n Droogtehulpfees-en-veiling word ook onder leiding van Burger op 13 Oktober in Migdol, Noordwes, gehou ten bate van droogtehulp. Kunstenaars soos Appel, Neil Somers en Adam Tas sal op die dag by die Migdol-silo’s optree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sophia ·

Baie dankie vir jou hulp aan die arme oom wat alles verloor het, Burre! Jy is voorwaar ‘n Engel uit die Hemel uit!! Mag God jou ryklik seën in alles wat jy doen!!

Oom Kalahari ·

Dankie aan Burre, gemeenskappe en alle helpers vir jul hulp aan die boer wat werklik in onmiddelike nood verkeer. Mag jul en jul goedhartige werke altyd Geseend wees. Ook aan Mev. Faure ‘n groot dank vir jou opregte hulp oproep en die inagneming van diere wat kan sterf van honger as daar nie hulp was nie. Elkeen wat ‘n rol in hulpverlening skenk ‘n groot dank en God’s Seeninge.

Dankbaar ·

Dankie vir als wat jy vir ons boere doen Burre. Het gesien toe julle in Oudtshoorn ook afgelaai het. Julle is almal great. God sal julle seen!!

Andre Marais ·

Mense Mense Mense ! ! ! ! ! Burre Burger IS Geseënd en dit Hoekom Hy Geseênd IS want Hy gee met Hart en Siel sonder om te skroom .
Ons ALMAL moet saamstaan en begin GEE aan die wat Regtig in NOOD IS.
Bure Burger en so ook Baie andere het Hulle Hele Lewe lank vir Ons Kos op die Tafel gesit.
Ek self gee al vir Baie Jare (41 Jaar) want My oorlede Pa het My van kleintyd af al geleër om ook te gee en nie Bakhand te staan nie.
Baie Dankie Burre Burger en ook aan al die ander Boere en so ook Mense in die gemeenskap wat ongesiens gee en dit hoekom Ek so Geseënd is.

Amanda ·

Dankie Burre, ek was een van die 20000 wat dit op jou blad geplaas het want ek het geweet jy sal nie huiwer om te help nie. Baie baie dankie vir al jou opofferings en stress ~ jy is ‘n engel van hoop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.