Brandmoord: ‘Brits-tiener het gepleit vir genade’

Argieffoto

Argieffoto

Die twee vroue wat ʼn skoolmeisie in Noordwes glo aan die brand gesteek het, is borgtog toegestaan.

Landdros Moses Maswanganyi het die twee vroue, Gugulethu “Sharon” Thwala (23) en Koketso Moyo (22), op borgtog van R3 000 elk vrygelaat. Thwala en Moyo was glo deel van ʼn groep wat Boitumelo Dhlamini op 18 Junie by Klipgat buite Letlhabile ontvoer en doodgemaak het.

Die hof het Dinsdag gehoor dat Dhlamini dood is terwyl sy om genade gepleit het. Die staat beweer Thwala, Moyo, Cynthia Mosopi en Victor Pilane het Dhlamini by die Eletsa High School in Letlhabile ontvoer. Mosopi het Dhlamini glo beskuldig dat sy in ʼn verhouding met haar (Mosopi se) ekskêrel was. Die twee vroue word beskuldig dat hulle Dhlamini vermoor het deur petrol oor haar uit te gooi en haar aan die brand te steek.

Die staat het hulle borgtogaansoek teengestaan. Thwala het in die hof getuig dat hulle na die Eletsa High School toe is, waar Dhlamini saam met hulle in Moyo se kar geklim het. Hulle het in die rigting van Robokala gery.

Hulle het eindelik by ʼn bebosde gebied gekom, waar Mosopi glo vir Dhlamini uit die kar getrek en haar geklap het voordat daar petrol oor haar kop uitgegooi is. Thwala het gesê sy het probeer om Dhlamini van Mosopi weg te trek. In die proses het daar petrol op Mosopi gestort en het sy self brandwonde opgedoen.

Thwaka beweer sy het later gesien hoe Victor Pilane, Mosopi se huidige kêrel, met sy selfoon ʼn video van die voorval neem. Thwala het hom glo gevra om Dhlamini te help, maar toe sy omdraai was Dhlamini glo reeds aan die brand.

Mosopi het glo na haar kêrel gehardloop, terwyl Dhlamini in die teenoorgestelde rigting koers gekies het. Thwala het getuig dat hulle nie water in die motor gehad het nie en dat daar nie sand was om die vlamme mee te blus nie. Thwala en Moyo het toe glo na die polisiekantoor in Letlhabile gery om die voorval aan te meld.

Moyo het Thwala se getuienis in die hof herhaal. Mosopi het nie in die hof verskyn nie omdat sy in die hospitaal is om van haar beserings te herstel. Sy moet op 26 Augustus verskyn.

Inwoners van Letlhabile het buite die hof saamgedrom en geëis dat die twee vroue nie op borgtog vrygelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tina ·

Hierdie bose mense het saamgesweer om hierdie arme kind op ‘n grusame wyse dood te maak..en dit oor ‘n man en jaloesie. GEEN borgtog moes hulle toegestaan word nie. Veral waar daar soveel bewyse en getuienis is moet hulle sit tot die reg sy loop neem. Daar loop nou ‘n klomp moordenaars rond wat ‘n lafhartige daad gepleeg het teen een enkele.
Maar dit is tipies….baie braaf van hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.