Brandslagoffer Sean: ‘Dit voel soos ʼn nagmerrie’

Sean en sy ma Mé-Lissa. Foto: Facebook

Sean en sy ma Mé-Lissa. Foto: Facebook

Mé-Lissa Smith, ma van die tienerseun van Pretoria wat verlede maand erg gebrand het in ʼn fratsongeluk met petrol, sê “dit voel nog al die pad soos ʼn nagmerrie”.

Smith het gesê haar hart is baie seer oor wat met haar seun, Sean (16), gebeur het. “Dit voel of ʼn mes deur my hart gesteek is. Wens almal kon Sean ken soos ek. Ons kon baklei het, maar hy was en is my steunpilaar. Dankie weereens vir almal se bystand, gebede en oproepe.”

Smith het gesê diegene wat vir haar kind bid, sal nie weet hoeveel dit vir haar beteken nie. “Wens julle kon hom ontmoet en sien watse wonderlike, liefdevolle kind ek het. Hy het baie harte gesteel. Ek is moeg, hartseer en uitgeput.”

Sean was intussen Maandag weer in die teater waartydens ʼn groot hoeveelheid afskeiding van sy longe verwyder is. Daar is nou kommer dat sy wonde begin septies raak. Hy is ook weer aan ʼn ventilator gekoppel en word onder verdowing gehou vir pyn. Sean gaan Woensdag weer teater toe en gaan later veloorplantings op sy nek, bolyf en arms moet ondergaan.

Daar is verlede week in onder drie uur meer as R840 000 op Jacaranda 94.2 ingesamel om Sean na Milpark-hospitaal oor te plaas.

Maroela Media het vroeër berig Sean, ʼn leerder en inwoner van Theresapark in die noorde van Pretoria, het op 17 Oktober derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken en nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen nadat sy hemp aan sy lyf aan die brand geslaan het in ʼn fratsongeluk met petrol. Hy het ook inwendige brandwonde opgedoen toe hy vlamme ingeasem het.

Hy is na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem waar die hospitaal hom op hul onkoste behandel het voor hy na die Dr. George Mukari-hospitaal oorgeplaas is toe daar ʼn plek oopgegaan het. Daar is egter nie ʼn brandsorgeenheid by dié hospitaal nie en dus is daar geld ingesamel om hom na ʼn private hospitaal oor te plaas.

Die Hero Burn Foundation help steeds om geld in te samel. Skakel 082 902 1133 of klik hier vir hul bankbesonderhede. Gebruik “Sean” as verwysing.

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sam ·

Nie een van ons weet waardeur jy gaan nie, al wat ons kan doen is bid vir julle. Wees sterk Mamma, God sal voorsien wat nodig is.

Kloekie ·

Is shaun tans in milpark hospitaal? Kan nie aflei uit berig of hy toe wel oorgeplaas is?

magda ·

Ek ken julle nie maar ek dra julle op aan die Here. By Jesus is niks ontmoontlik nie.

Rikku ·

Ek dink aan Shaun en sy Mamma. Sterkte vir julle. Julle is in ons gebede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.