Brandslagoffer Sean praat met ma

Sean Smith

Sean Smith

Sean Smith (16), die tiener van Pretoria wat vroeër die maand erg gebrand het in ʼn fratsongeluk met petrol, is na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

Amoré Jooste, familiewoordvoerder, het gesê Sean is uiteindelik Sondagaand in die brandeenheid van die hospitaal opgeneem. “Ons is met sy aankoms meegedeel dat sy linkerlong platgeval het. Die dokter het verduidelik hulle gaan probeer om die long reg te kry en hy sal weer aan ʼn ventilator gekoppel moet word indien dit nie suksesvol is nie.”

Volgens Jooste was Sean wakker toe sy en Sean se ma, Mé-Lissa Smith, hom Sondag in die Dr. George Mukari-staatshospitaal in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, besoek het. “Hy het met ons gesels. Ek het vir hom gesê daar is so baie mense wat vir hom bid. Hy was toe steeds in die hoësorgeenheid maar nie meer aan ʼn ventilator gekoppel nie. Hy verduur steeds baie pyn.” Sean word later vandag weer geopereer.

Daar is verlede week in onder drie uur meer as R840 000 op Jacaranda 94.2 ingesamel om Sean na Milpark oor te plaas.

Sean in die hospitaal.

Sean in die hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig Sean, ʼn leerder en inwoner van Theresapark in die noorde van Pretoria, het op 17 Oktober derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken en nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen nadat sy hemp aan sy lyf aan die brand geslaan het in ʼn fratsongeluk met petrol. Hy het ook inwendige brandwonde opgedoen toe hy vlamme ingeasem het.

Hy is na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem waar die hospitaal hom op hul onkoste behandel het voor hy na die Dr. George Mukari-hospitaal oorgeplaas is toe daar ʼn plek oopgegaan het. Daar is egter nie ʼn brandsorgeenheid by dié hospitaal nie en sy geliefdes poog sedertdien in alle erns om geld in te samel vir behandeling in ʼn private hospitaal.

Die Hero Burn Foundation help steeds om geld in te samel. Skakel 082 902 1133 of klik hier vir hul bankbesonderhede. Gebruik “Sean” as verwysing.

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ruby ·

Wow, ek is so dankbaar vir elke bietjie vordering. God is groot.

Ek dink ook aan elke ander brandslagoffer wat nie publisiteit kry nie en is daarom baie dankbaar vir die Hero Burn Foundation wat intree vir brandslagoffers. Julle doen engele werk.

Mag ek Vra ·

Mag ek vra as die regte hoeveelheid geld ingesamel is, hoekom is hy nog nie geskuif nie? Vloek en skree maar op my, maar dis net vreemd dat honderde duisende rande ingesamel is om hom spesifiek na ‘n spesifieke pvt instelling toe te skuif en nou skielik is hy of nie stabiel nie of daar is nie ‘n bed nie, al die berigte verskil? Ek is nie ‘n dokter nie, en ek weet nie wat die kind se toestand is nie, maar hoekom geld insamel om hom te skuif en hom nooit te skuif nie of is dit in die vooruitsig? Elke dag tel tog. Gister is daar duidelik berig daar is nie ‘n bed in ‘n pvt fasiliteit beskikbaar nie, nou hoe samel jy geld in voordat jy seker maar daar is ‘n bed? Ek bid maar vir hom, dis al wat oorbly!

Chivago ·

Mag ek vra – hy is gisteraand 11uur geskuif Milpark toe

Karma ·

@Mag Ek Vra – jy sê self jy is nie ‘n dokter nie – hoekom dan vra Sean se toestand kon dalk té sensitief gewees het (met ‘n platgevalde long) om hom te skuif. En geld mag al ingesamel wees, maar nog nie in die begunstigde se bankrekening geplaas nie (ek verstaan ‘n enkele onderneming het ‘n taamlike groot enkele donasie gemaak). Drie HOERA’s aan Unitas hospital wat Sean op eie koste behandel het tot hy stabiel genoeg was om oorgeskuif te word na die staatshospitaal. En Sean is – “after all” – gisteraand na die Millpark Privaat verskuif. Sterkte aan Sean en sy familie – ek dink omtrent die hele land wat van jou ongeluk gelees het, bid vir julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.