Brandslagoffer Sean verwerk ‘vrese en nagmerries’

Sean Smith

Sean Smith

Dit gaan goed met Sean Smith, die tienerseun van Pretoria wat verlede maand erg gebrand het in ʼn fratsongeluk met petrol, hoewel hy steeds besig is om die terugflitse, vrese en nagmerries van sy beproewing te verwerk.

Amoré Jooste, familiewoordvoerder, het Saterdag gesê Sean (16) het weer die naweek ʼn entjie geloop in die brandsorgeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg waar hy tans behandel word. “Hy het al ʼn bietjie verder geloop as ʼn paar dae gelede. As alles goed gaan en hy al sy etes eet, kan hy dalk Maandag weer teater toe gaan,” het Jooste gesê.

Sy het gesê Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, het Saterdagaand lank met Sean gesels om hom te help om die nagmerrie-ervaring te verwerk. “Sy is self ʼn brandoorlewende en hy kan dus by haar aanklank vind. Ek dink dit was goed vir hom om met iemand te praat wat ook al in die brandsorgeenheid gelê het en weet wat in sy kop aangaan en sy gedagtes, vrese, terugflitse, drome en nagmerries verstaan,” het Jooste gesê.

Sy het bygevoeg dat Sean nou baie vrae vra om die verloop van gebeure en die dae wat hy “gemis” het toe hy onder verdowing was vas te stel. Volgens Jooste is die familie besig om vir hom ʼn plakboek saam te stel om hom daarmee te help.

Maroela Media het vroeër berig Sean, ʼn leerder en inwoner van Theresapark in die noorde van Pretoria, het op 17 Oktober derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken en nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen toe sy hemp aan sy lyf aan die brand geslaan het in ʼn fratsongeluk met petrol. Hy het ook inwendige brandwonde opgedoen toe hy vlamme ingeasem het.

Hy is na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem waar die hospitaal hom op hul onkoste behandel het voordat hy na die Dr. George Mukari-hospitaal oorgeplaas is toe daar ʼn plek oopgegaan het. Daar is egter nie ʼn brandsorgeenheid by dié hospitaal nie en geld is ingesamel om hom na ʼn private hospitaal oor te plaas. Hy is later na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

Die Hero Burn Foundation is steeds besig om geld in te samel vir Sean se versorging. Skakel 082 902 1133 of klik hier vir hul bankbesonderhede. Gebruik “Sean” as verwysing.

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Justice ·

Sulke goeie nuus maak sommer op vir ons rugby wat nog steeds in die intensiewe eenheid is. Ek is dankbaar dat Sean met al die genade van bo, uitstekende medisie en vasbyt besig is om die stryd te wen. Dit klink ook asof sy vriendelike glimlag en oe ongeskonde is. Dankie Maroela vir die gereelde terugvoer oor sy vordering. Dit is net so welkom soos die reen hier op die plaas.

Landi ·

Sean en gesin, ons bid steeds vir julle, so dankbaar vir die positiewe vordering!

Gys ·

Sterkte Sean. Met God se genade het jy al ver gevorder en Jy sal nog verder vorder. Dankie ook aan al die besighede , vriende , vreemdelinge en elke persoon wat n finansiele bydrae gemaak het om Sean se behanedling moontlik te kon gemaak het. Mag GOD julle seen en hartlik beloon ook vir julle geodhartigheid.

popeye ·

Sean, sterkte ou bul, jy gaan heel anderkant uitkom. Hou net moed!

Helene Heyns ·

Wonderlike nuus. Ek is dankbaar vir die positiewe vordering. Ons bid vir algehele herstel.

Heila Fourie ·

Sean ek Bid dat jou liggaam spoedig sal herstel en dat hierdie aaklige nagmerrie vir jou vining tot ‘n einde kom.
Ek wil net vir mense sê wat alewig onoordeelkundig en nalatig is met hul sigaretrook baie skade aanrig. Die person wat ‘n sigaret aangesteek het het daardie person Sean se vlammende lyf gelate aanskou sonder om ‘n vinger te veroer? Gaan sien asb hoe dit met Sean gaan asb.
Heila Fourie

Amanda ·

Shoe Heila!
Sy hemp was vol petrol. Wat as dit hy self was? Of die vrou wat hy gehelp het?

Lize ·

Sterkte vir hom en sy familie. Maar ek wonder tog oor iets: wat het geword van die Pippie fonds? Sou dit wat oorgebly het nie help om ander kinder slagoffers met sulke brandwonde te help nie? Of is die fonds reeds uitgeput? Bedoel nie lelik nie, ek wonder net.

Helene Heyns ·

Amanda volgens n koerantberig was dit n omstander wat n sigaret opgesteek het.

nonnie ·

Byt vas julle byt vas. Alles sal regkom. Liewe Jesus is met julle.Groot blydskap oor vordering?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.