Brandsleepwa aan Voortrekkermonument geskenk

Anthony Wheeler (Foto verskaf)

Die Sinoville Brandbestrydingsvereniging (SBBV) het Vrydag ʼn brandbestrydingsleepwa aan die Voortrekkermonument oorhandig. Die brandsleepwa, ter waarde van duisende rand, is gebruik in noodsituasies deur dié nie-winsgewende organisasie.

Die SBBV se opgeleide vrywillige brandbestryders help tydens brande van strukture en staan by met ramptoestande en motorongelukke waar mense byvoorbeeld in ’n wrak vasgekeer is. Hulle werk ook gereeld met gemeenskapswerkers.

JP Botha, voorsitter van die SBBV-trust, sê die organisasie wil die gemeenskap help en dien, en hulle het besef die monument het ’n behoefte aan só brandwa en daarom het hulle gevoel hulle moet dit op ’n bruikleenbasis aan die monument beskikbaar stel.

Anthony Wheeler (Foto verskaf)

“Die wa is deur gemeenskapskenkings gekoop en ons gaan hom nou vervang met ’n ander wa. Ons het net besef ons kan hom nie verkoop nie, want die gemeenskap het hom gekoop en ons het ’n nuwe tuiste vir hom gesoek. Ons het besluit om hom aan die monument beskikbaar te stel want dit is hoe ons ons gemeenskap dien,” sê Botha.

Hy het ook ’n passie vir erfenisbewaring en dit was ook ’n groot rede hoekom hulle op die monument besluit het.

“Dit is hoe ons ons deel doen om ons erfenis te bewaar. Kyk wat het gebeur met die parlement. Ons sal, en wil, bydra tot ons erfenis en daar is besluit dié is die beste manier om dit te doen,” sê Botha.

Die Voortrekkermonument se bestuur kon nie genoeg dankie sê vir die SBBV se ongelooflike bydrae tot die bewaring van erfenis nie.

“Hierdie onbaatsugtige daad van die SBBV wys daar is steeds hoop. Ons verwys na die Voortrekkermonument as ’n Baken van Hoop, maar deur dade soos dié bewys organisasies soos die SBBV hulle is sélf ’n baken van hoop, nie net vir die breër gemeenskap nie, maar ook vir erfenisbewaring,” sê Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder by die Voortrekkermonument.

Die wa is ingerig om veldbrande asook strukturele brande te blus.

SBBV het opleiding gegee aan die monument se personeel hoe om die wa tot die beste van sy vermoë te gebruik, en aangebied om verdere opleiding vir personeel te gee oor brandbestryding.

Saam met die brandwa het hulle drie brandpakke, maskers, ’n brandblusser en nog meer aan die monument geskenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.