Brandstigting glo gevolg van oorlog tussen taxi’s en Uber

Foto: Twitter via @Abramjee.

ʼn Motor wat Dinsdag in Pretoria van die pad gedwing en aan die brand gesteek is, hou glo verband met die voortslepende oorlog tussen metertaxibestuurders en bestuurders van Uber.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die bestuurder van die motor was van Sunnyside na Hatfield op pad toe die voorval plaasgevind het. “Ongeveer 14 verdagtes het die bestuurder met ses voertuie van die pad gedruk. Hulle het uitgeklim en hom begin aanrand en die motorruite stukkend geslaan. Die meeste verdagtes was gewapen,” het Masondo gesê. Die bestuurder was alleen in die motor ten tyde van die voorval.

Volgens Masondo het die bestuurder toe agtergekom die agterste sitplek van die motor is aan die brand. “Hy kon daarin slaag om uit die motor te spring en weg te hardloop. Iemand het hom gehelp tot by die naaste polisiestasie,” het Masondo gesê. Die man is by die polisiestasie behandel deur paramedici.

“Ons kan nie bevestig dat dit metertaxibestuurders was wat hom aangeval het nie. Die man het wel aan ons gesê dat hy ʼn Uber-bestuurder is,” het Masondo gesê.

Sake van gewapende roof, kwaadwillige beskadiging van privaat eiendom en aanranding word ondersoek. Die man beweer dat die verdagtes sy selfoon en kontant gesteel het. Foto’s van die brandende motor is wyd op sosiale media gedeel.

Samantha Allenberg, woordvoerder van Uber in Suid-Afrika, het gesê die voertuig in die foto’s is nie op die Uber-App geregistreer nie.

“Dit maak nie saak nie, geweld en intimidasie teen dié wat tegnologie-apps gebruik, is onaanvaarbaar. Enige situasie waar veiligheid in die gedrang geplaas word, is vir ons onaanvaarbaar.”

Allenberg het bygevoeg dat gedrag soos hierdie net weereens bevestig hoekom mense al meer staatmaak op betroubare, veilige alternatiewe soos Uber. Allenberg het gesê Uber-bestuurders het 24 uur per dag toegang tot ʼn plaaslike noodnommer wat hulle kan gebruik indien hulle onveilig voel.

“Ons het onlangs ook met verskeie veiligheidsagentskappe en nooddienste ooreenkomste bereik. Ons het ook bykomende reaksiespanne gehuur in die omgewings waar ons bestuurders gevalle van intimidasie aangemeld het,” het Allenberg gesê.

“Ons doen alles wat ons kan om te voorkom dat sulke voorvalle plaasvind en om ondersteuning aan die passasiers en bestuurders te bied; ons kan dit egter nie alleen doen nie. Die owerhede en beleidmakers moet saamstaan en help om hierdie aaklige misdade te voorkom en te veroordeel,” het Allenberg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hanna ·

Hoekom is ek nie verbaas nie… Uber is in talle lande uiters suksesvol, selfs in Arabiese lande. Suid-Afrika moet mos vir een of ander rede altyd die muishond wees. Dit terwyl ons goeie openbare vervoer so nodig het.

Skarnier ·

Ek het eers foto gekyk en toe gelees. Eers gedog dis weer n Kuga

marous ·

Uber moet ook maar die paaie versper …sodat Taxis nie kan ry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.