Brandstigting by Rhodes-universiteit ondersoek

Brand by Rhodes-universiteit Foro: oppidanpress.com

Brand by Rhodes-universiteit Foro: oppidanpress.com

ʼn Brand het Dinsdag in ʼn gebou by Rhodes-universiteit in Grahamstad in die Oos-Kaap uitgebreek.

“Die Steve Biko-studentegebou is Dinsdag vroegoggend aan die brand gesteek,” het Zamuxolo Matiwana, woordvoerder van die universiteit, gesê. “Die beskadigde gebou is afgesper en sal deur strukturele ingenieurs ondersoek word.”

Matiwana sê die polisie ondersoek die voorval en die universiteit sal ook sy eie ondersoek doen.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn saak van brandstigting ondersoek word. “Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en sal bepaal word ná ʼn forensiese ondersoek.”

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Daar is ook geen beserings aangemeld nie, aangesien die gebou onbeset was toe die brand ontstaan het.

Die Oppidan Press, een van die universiteit se publikasies, het op sy webwerf berig die deure en vensters van die gebou is beskadig. Die interieur is ook beskadig en verskeie snoekertafels het begin brand. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.