Brandstigting tydens Noordwes-betoging

N4-weegbrug buite Mooinooi, Noordwes (Foto verskaf aan Maroela Media)

Twee vragmotors en ʼn paneelwa is tydens ʼn betoging in Majakaneng, Noordwes, aan die brand gesteek, het die polisie Dinsdag gesê.

Die betoging volg ná bewerings dat ʼn plaaslike boer ʼn 24-jarige man geskiet het toe hy lemoene op sy plaas gesteel het.

“Die polisie versoek lede van die gemeenskap in en rondom Majakaneng en Mooinooi om enige inligting te verskaf wat lig kan werp op die ondersoek na ʼn vermiste persoon en die saak van poging tot moord wat by Mooinooi-polisiestasie aanhangig gemaak is,” het brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Dit volg nadat ʼn 24-jarige man na bewering op 2 Augustus beseer is toe ʼn boer hom geskiet het. Hy en twee ander mans het hulself glo skuldig gemaak aan diefstal. Die 24-jarige man is nie weer daarna gesien nie en die voorval is twee dae later by die polisie aangemeld.”

Die N4-snelweg tussen Pretoria en Rustenburg en die Ou Pretoriaweg is Maandag en Dinsdag versper en betogers het voertuie met klippe bestook.

Die gemeenskap het Sondag die man by die plaashuis gaan soek, maar kon hom nie vind nie en het daarna die paaie begin versper. Die paaie was Dinsdag steeds versper en niemand word toegelaat om Majakaneng te verlaat of te betree nie.

Mokgwabone het gesê die polisie stel ondersoek in.

“Dis duidelik dat misdadigers nou begin het om eiendom te beskadig en hulle teiken motoriste en bestook motors met klippe. Die gemeenskap word gewaarsku om hulle te weerhou van misdadige optrede wat nie geduld sal word nie. Drastiese stappe sal gedoen word teen diegene wat misdaad pleeg.”

Enigiemand met inligting kan die ondersoekspan skakel by 082 416 0767.

Die Demokratiese Alliansie het intussen versoek dat die gemeenskap moet bedaar en die polisie gemaan om terugvoer aan die gemeenskap te gee. “Ek het met brig. Johan Marx, bevelvoerder van Madibeng, kontak gemaak en hy het bevestig die polisie ondersoek die ernstige saak,” het Leon Basson, hoof van die kiesafdeling in Madibeng, gesê. “Die gemeenskap is gefrustreerd omdat hulle voel niks gebeur nie. Die DA maan die polisie om dringend terugvoer te gee. Indien die bewerings waar is, is dit noodsaaklik dat die polisie die oortreder so gou as moontlik in hegtenis neem sodat die reg sy gang kan gaan. Terselfdertyd versoek ons kalmte in die gebied. Geweld het nog nooit, en sal ook nooit, die ernstige probleme wat ons in die gesig staar, oplos nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hanna ·

Nee wat, hierdie misdadigers soek net rede om te verniel en te steel. Al is die rede ook hoe belaglik. Dink hulle regtig daardie boer sou nog ni toegesluit gewees het nie?

Michael ·

Ek stem nie saam Hanna hulle doen darem iets hulle laat nie toe dat die polisie en regering teen hulle diskrimineer nie ek gee toe daar is seker kriminele elemente tussen hulle maar saam met wie sal jy oorlog toe wil gaan

Frikkie ·

Dreigemente…jy maģ nie huis en haard beskerm..maar hulle mag brand..wie betaal al die skade..sekerlik het dit tyd geword dat hierdie ouens vir eens en altyd in die bek geruk word.

Leahim ·

Al weer die DA wat inmeng dit begin nou n algemene ding te word die DA vra dat stappe geneem word as die beskuldigde wit is en swyg soos die dood as die skuldigde swart is kyk na die afgelope twee weke dit is feite.

Bernard ·

Leahim, hoekom het die mense nog nooit agtergekom dat die DA maar eintlik net nog ‘n tak van die anc /pac/sakp is nie!!!!! Hulle, net soos zuma, malema en hul bendes, is mal oor populistiese uitsprake!

HPV ·

Die DA het die afgelope weke sonder enige twyfel gewys waar sy prioriteite lê. En dit is beslis nie by sy wit kiesers nie.

Mandie Tranter ·

My kind moet elke dag die hoofweg met bus ry om by sy skool te kom en as sulke stakings plaasvind is dit regtig gevaarlik vir hulle.

Divan ·

Hierdie optrede gaan oor n boer iemand dood geskiet het wat sy lemoene gesteel het , en die boer is nog nie gearisteer nie , gaan ons ook nou betoog as die volgende boer in SA vermoor word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.