Brandstof: Hiér is Julie se pryse

Argieffoto (Foto; andreas160578/Pixabay)

ʼn Heelwat laer brandstofprys wag in Julie op motoriste met petrol én diesel wat byna ʼn rand per liter minder sal kos.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het Vrydag laat die finale brandstofpryse vir Julie bekendgemaak.

Volgens die departement het die rand in die oorsigtydperk verswak van R14,41 teenoor die dollar tot R14,62. Dit het gelei tot ʼn hoër bydrae aan die basiese brandstofprys.

Die goeie nuus is egter dat die prys van brent-ruolie in dieselfde tydperk van $71,29 per vat tot $63,60 per vat gedaal het. “Die val in die oliepryse is weens die hoë voorraadvlak in die VSA wat gelei het tot groter aanbod aan die markte, asook die onsekerheid rakende die finalisering van ʼn handelsooreenkoms tussen die VSA en China. Dit het gelei tot laer pryse van al die petroleumprodukte op die internasionale markte,” lui die departement se verklaring.

Die prys van 93-oktaanpetrol sal in Julie met 96c per liter daal en die prys van 95-oktaanpetrol met 95c per liter. Diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% word 74c per liter goedkoper en diesel met ʼn swaelinhoud van 0,005% se prys verlaag met 75c per liter.

Die prys van paraffien sal daal met 57c per liter.

Die nuwe pryse tree Dinsdag om middernag in werking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gerrie

En volgende maand gaan hy weer dubbeld op, ons word heeltyd soos n klomp onnosele mense gehanteer deur die regering

Elna

Die petrol prys kom af maar die kos prysse gaan op? Nee wat dis net koerupsie oral in hierdie SA!! Weet nie meer hoe n mens daaroor moet voel nie.

ne

Nee, kospryse sal nie daal nie! Ons is so gewoond om net te bly betaal.

Oom Willem

Net soos die kommunis werk. Drie treë vorentoe en dan een tree agteruit, dan weer twee vorentoe en een agteruit. So vorder hulle met ons die verderf in.