Brandstof: Só lyk Junie se stygings

Argieffoto

Motoriste kan hulle staal vir ʼn stewige verhoging in brandstofpryse wat volgende week in werking tree.

Petrol sal vanaf volgende week meer as R15 per liter kos. In die binneland sal motoriste R15,79 moet opdok vir ʼn liter petrol en aan die kus R15,20 per liter. Dit nadat die Sentrale Energiefonds Vrydag aangekondig het dat die prys van alle grade petrol met 82c per liter sal styg.

Diesel met 0,05% swael sal 85c per liter duurder kos, terwyl diesel met 0,005% swael 87c per liter duurder sal kos. Paraffien word duurder met 82c per liter.

Volgens die Sentrale Energiefonds kan dié skerp styging in brandstofpryse grootliks toegeskryf word aan ʼn styging in internasionale oliepryse, asook ʼn verswakking van die Rand teenoor die Dollar.

Die nuwe brandstofpryse sal op 6 Junie in werking tree en motoriste word dus aangeraai om voor Dinsdag middernag hul tenks vol te maak.

Verlede maand het die prys van 93-oktaan-petrol met 49c per liter gestyg. Die prys van 95-oktaan-petrol het 49c per liter duurder geword, 0,05%-sulfaat-diesel het met 59c per liter gestyg en 0,005%-sulfaat-diesel is met 58c per liter verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

De Villiers ·

Die regering en ekonome blameer gewoonlik stygende oliepryse vir brandstofstygings, wat baie keer die geval is. Maar dis ook so dat, as die regering geld kort, belas die motoris met hoër brandstofkostes. Dis my filosofie waarom die brandstofprys die afgelope paar maande so astronomies gestyg het, ver bo die rieele waarde waarteen die olieprys styg. Gratis hoër onderwys moet gebied word, SAL en Eskom is in finansiële verknorsing, staatskaping het miljarde Rande die land laat uitvloei ens. Êrens moet dit gefinansier word. Daarom glo ek nie die stygende olieprys het so ‘n groot effek dat die petrolprys nou al oor die R15 gaan wees nie. In Europa bv. is brandstofpryse net so hoog, maar dis om die publiek te dwing om van hul publieke vervoer gebruik te maak. Hier het ons geen ordentlike publieke vervoerstelsel nie. Ek wonder of ons as motoriste nie op een of ander vorm moet begin betoog teen hierdie brandstofpryse nie.

Hesty ·

Vermy sekere garages gebruik net by Shell en Puma om karre te vul dan staan die ander…kom ons kyk dan wat gebeur…..

Paul ·

Belasting op brandstof word SLEGS in April van elke jaar verhoog. Nooit in ander maande nie. Die belasting op elke liter brandstof is ‘n vaste bedrag, nie ‘n persentasie soos BTW nie. Daar is geen BTW op brandstof nie. Dit beteken dat al faktor wat bepaal hoeveel geld die regering uit belasting op brandstof kry, is die aantal liters wat verkoop word.
Dus, wanneer die prys (behalwe in April) van brandstof verhoog, kry die regering MINDER geld, want mense koop minder brandstof weens die hoër prys.

Koos de Meyer. ·

In Botswana is die brandstof baie, baie goedkoper as hier by ons. Wat ek nie verstaan nie, hulle brandstof kom van die RSA af. Maar ons word om elke hoek en draai belas om te betaal vir al die korrupsie en bedrog en diefstal. Hierdie melkkoei gaan een of ander tyd opdroog.

My mening ·

My mening is dat die taxis nog nie begin kla het wys wat daar met hulle gebeur. Ook word die spoedgrens van 120km/h nie verminder want dan sal minder brandstof verbruik word wat minder R’e in die staatskas beteken. Ook motorongelukke wat met spoed te doen het sal afneem of minder ernstig wees. Soos sommiges nog ry teen hoë spoed is brandstof nog goedkoop. Dis net by die pomp wat daar met die betaalslag seergekry word. Het jy ‘n kaart dan voel jy dit nóg minder. Fietsry en saamry is ons voorland. Met die skokkende toestand van paaie/sypaadjies en die kriminele element is fietsry bykans onbegonne.

Valerie ·

Dis goedkoper om Kaapstad toe te vlieg vanaf Joburg; ‘n glasie water te koop, en weer terug te vlieg, as wat dit per motor sal kos.

Anton van C ·

Van wanneer af is dit goeie Afrikaans om te sê “uitvurk”?

Mariné Lourens ·

Dagsê Anton van C

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Andre ·

Die water waarin die paddas is word al hoe meer al hoe warmer gemaak al hoe vinniger

D ·

“Tenks vol te maak voor middernag….”” Met wat????? Ons verbruikers kan net nie meer nie!!!

Bertus ·

En wat het geword van die egalisasiefonds skandaal waar so twee of drie jaar gelede die olie reserwes vir minder as markers verkoop is? Dis so stil-stil onder die mat ingevee…

Paul ·

Daar bestaan al dekades lank nie iets soos ‘n “egalisasiefonds” nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.