Brandstofdief sit lank

Transnet verwelkom die skuldigbevinding en vonnisoplegging van vier persone in die Sasolburg-landdroshof. Hulle is in hegtenis geneem op aanklag dat hulle in Julie 2020 met die ru-olie-pyplyn gepeuter het.

“Die hoofbeskuldigde is skuldig bevind op aanklag dat hy met noodsaaklike infrastruktuur gepeuter het. Hy is 15 jaar tronkstraf opgelê,” sê Saret Knoetze, woordvoerder van Transnet. “Hy is ook ʼn verdere 15 jaar tronkstraf opgelê op aanklag van die diefstal van ru-olie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.”

Die man se drie medebeskuldigdes is skuldig bevind op aanklag van oortreding van die Wet op Immigrasie. Hulle is drie maande tronkstraf opgelê en sal daarna gedeporteer word.

“Transnet waardeer die spanne wat almal onverpoosd aan dié saak gewerk het om die skuldigbevindings te verseker. Die vonnisoplegging stuur ʼn sterk boodskap aan ander oortreders dat die toegewyde span van die veiligheidstaakspan, die Valke, SAPD-misdaadinstelligensie, staatsveiligheidagentskap, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en plaaslike polisie sal seker maak dat enigiemand wat met die pyplyn peuter, aangekla en vervolg sal word,” sê Knoetze.

Altesaam 155 verdagtes is reeds in hegtenis geneem in verband met die diefstal van brandstof. Ses suksesvolle vervolgings is verseker.

“Transnet maan alle petroleumhandelaars en lede van die publiek om nie brandstof by enige ongeregistreerde handelaar aan te koop nie, sodat die aanvraag na onwettige petroleumprodukte beperk kan word. Transnet versoek ook alle belanghebbendes om die stryd teen brandstofdiefstal te ondersteun deur enige verdagte voertuie of aktiwiteit naby die maatskappy se infrastruktuur aan te meld by 0800 203 843 of die naaste polisiestasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.