Brandstofprys-krisis: Talle voorstelle op die tafel

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Die ministers van minerale hulpbronne en energie én finansies moet oorweeg om die Padongelukkefondsheffing, wat by die brandstofprys ingesluit word, te skuif en dit op ʼn ander manier te finansier.

Dit is een van die aanbevelings van ʼn verslag oor die brandstofprys wat deur die portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne en energie aanvaar is.

Die komitee beveel aan dat die Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Stroomop Petroleumhulpbronne (UPRDB) geprioritiseer word ten einde belegging in die stroomop petroleumbedryf te verseker.

Die komitee sal in die tweede kwartaal vir die eerste keer oor hierdie wetsontwerp ingelig word deur die departement van minerale hulpbronne en energie, waarna die komitee dan met die proses van openbare beraadslaging sal begin.

Die verslag sal nou in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê word vir finale aanvaarding en verdere verwerking.

Sahlulele Luzipo, voorsitter van die komitee, het die aankondiging deur Enoch Godongwana, minister van finansies, oor ʼn tydelike verlaging in die brandstofheffing verwelkom. Die algemene brandstofheffing word tydelik met R1,50 per liter verminder vanaf Woensdag 6 April 2022 tot Dinsdag 31 Mei 2022.

Luzipo het ook die tesourie se besluit verwelkom om nie heffings op brandstof én die Padongelukkefonds in die 2022-’23- finansiële jaar te verhoog nie.

“Hoewel ʼn verligting van twee maande nie genoeg is nie, is die ingryping egter in ooreenstemming met die komitee se aanbeveling dat die minister van minerale hulpbronne en energie saam met die minister van finansies maatreëls moet ontwikkel om die brandstofverhogings aan te pak, en dit moet oorweeg om ʼn betaalvakansie rakende petroleumprodukte in te stel,” het Luzipo gesê.

Daar is ooreengekom op ʼn “tweefase”-benadering, wat begin met ʼn onmiddellike ingryping vir die volgende twee maande en ʼn rits maatreëls om pryse te verlaag wanneer die tydelike maatreëls ná twee maande verstryk.

Tydens die tweede fase, vanaf 1 Junie 2022, word ʼn vermindering in die basiese brandstofprys van 3c per liter voorgestel, in ooreenstemming met aanbevelings van ʼn hersiening deur die departement van minerale hulpbronne, asook die opskorting van die vraagkantbestuursheffing van 10c per liter en die instelling van ʼn maksimum prys op 93-oktaan-petrol.

Dit beteken handelaars sal brandstof kan verkoop teen ʼn goedkoper prys as die gereguleerde prys. Die opskorting van die praktyk deur die departement om riglyne oor dieselpryse te publiseer om groter mededinging aan te moedig, word ook voorgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.