Brandstofprys ook nie bestand teen onluste

Argieffoto

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê motoriste behoort hulle later vandeesmaand te staal vir ’n aansienlike styging in die prys op brandstof. Dit is weens die negatiewe impak wat die onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal op die Suid-Afrikaanse wisselkoers het.

Daar word voorspel dat die petrolprys volgende maand met 87c per liter sal styg, terwyl motoriste 58c per liter meer vir diesel sal moet opdok. Die prys van paraffien sal na verwagting met 56c styg. Die AA verwag ook nie dat enige veranderinge in die huidige situasie dié styging ongedaan sal maak nie.

“Daar was reeds vóór die onluste ʼn aanduiding dat brandstofpryse aan die styg is. Die skade wat die onluste aan die rand se wisselkoers teen die dollar aangerig het, dra net verder by tot dié styging,” het die AA Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Die rand verhandel tans R14,80 teen die dollar. Dit verteenwoordig ʼn styging van 45c teenoor Maandag se wisselkoers. “Aangesien Suid-Afrika meeste van sy brandstof invoer, het die wisselkoers ʼn direkte gevolg op die prys wat verbruikers vir brandstof betaal. Die stygende olieprys plaas ook verdere druk op brandstofpryse in Suid-Afrika.”

Die AA wys ook daarop dat die styging in die koste van paraffien die weerloosste mense in Suid-Afrika die hardste gaan tref.

“Mense wat paraffien gebruik vir verhitting, beligting en kook is selde in ‘n finansiële posisie om groot prysstygings te hanteer.”

Maroela Media het vroeër vandag berig die publiek mag boonop nou nie meer brandstof in draagbare houers aankoop nie. Dit is gedoen in ʼn poging om paniekaankope van brandstof te stuit, nadat die Suid-Afrikaanse Petroleumraffinaderye (Sapref) Woensdag in ʼn kennisgewing gesê het hy kan nie sy bedrywighede in die lig van die oproer voortsit nie. Sapref is Suid-Afrika se grootste raffinadery en verskaf 35% van die land se brandstof aan handelaars.

Die AA steun Sapref se besluit en waarsku dat, sou ʼn operasionele raffinadery deur misdadigers oorval word, dit ’n groot risiko vir omliggende gebiede sal inhou.

“Rampe in die verlede waar raffinaderye betrokke was, het wye gebiede besoedel en honderde lewens geëis. Dit is dus te verstane dat Sapref versigtig is.”

Die AA doen intussen ’n beroep op Suid-Afrikaners om in dié stadium alle nie-noodsaaklike reise sover moontlik te beperk en nie meer brandstof as nodig aan te koop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Elize ·

En die looters sal nie worry nie want hulle het nie motors nie. Die Taxi’s sal dit voel.

Heinrich ·

Inteendeel, hulle het baie smart wiele nadergetrek om vol te laai, kyk mooi na die videos. Arm mense ry nie sulke karre nie, hierdie was plein krimineel.

Tiptol ·

Nee wat, die kliënte gaan net meer betaal. Taxis voel niks. Hul maak net wins. Dra ook niks by nie.

Elinette ·

Wel, ek is ge”cover” – ek het gister my kar gaan volmaak en sommer die heel noodsaaklikste items gaan koop … Eerder Slim Jan as dooie Jan.

Raakvatter ·

Lucky jy. Al sou ek wou kan ek nie my kar vol maak nie. En ek kan nie ekstra aankope doen nie.

Peter Pan ·

Ag nee man, dis net die heeltyd slegte nuus op slegte nuus? Wat is volgende??

Kokerboom ·

Iemand al ‘n kosteberekening gedoen van koste van ‘n ANC regering vir die land?

Anoniem ·

Alle kommoditeite en dienste se pryse gaan styg, brandstof, vervoerkoste, kos ensovoorts. Nadat die geplunderde kos opgeët is gaan die plunderaars nog meer sukkel. Indien hulle geplunder het vir kos, was dit net ‘n tydelike oplossing, hulle sal dit nog besef.

Cherokee ·

As hulle vir kos geplunder het, sal hulle moet vertel hoe smaak TV’s.

Persheks Adri ·

Alles te danke aan die ongeskoolde klomp wat nie kan dink nie gggmmmfff

Anel ·

En so boete die arme onskuldiges en niemand sê ‘n woord nie. In 1984, toe die petrolprys met 1 sent styg, van R0. 84 per liter na R0. 85 per liter toe word die land afgebrand. En nou????

Tiptol ·

En taxis se pryse gaan styg en nogsteeds betaal hul niks belasting.

Kathleen ·

ja nee ons wat elke dag met ‘n motor werk toe ry sal dit voel , die klomp belhamels wat dit veroorsaak het sal niks voel nie , maar wag tot sy pens hom aankla oor hy honger is . ek wonder wie gaan hy dan vra vir kos .

Nadine ·

Dit laat mens se bloed kook. Hulle verwoes alles en die onskuldige mense moet daarvoor boet. Hoe werk dit????? Kan ons dit terug eis van die Regering aangesien daar nie voor die tyd aandag gegee is aan die probleem wat uigebreek het? Vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.