Brandstofprys: Só lyk verwagting nou

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

Die rand het in Julie teen die dollar veld gewen, maar internasionale oliepryse het gestyg, wat die rand se verstewiging eintlik maar ongedaan maak.

“Die rand het sedert 1 Julie toenemend teen die Amerikaanse dollar verstewig en het in ʼn stadium teen minder as R14 vir ʼn dollar verhandel,” het die Automobiel-Assosiasie (AA) in ʼn verklaring gesê.

Die AA grond sy vooruitskattings op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds.

“Die internasionale olieprys wat in die eerste week van Julie teruggesak het, het weer opgeskiet weens kommer oor internasionale voorraad en voortslepende onbestendigheid in die Midde-Ooste.”

Volgens die AA is die prys van geraffineerde petrol hoër as vir diesel, wat die ongewone situasie teweeg bring waar dieselgebruikers moontlik ʼn prysverlaging gaan sien, terwyl die prys van petrol waarskynlik gaan styg.

Volgens die jongste beskikbare inligting gaan petrol met sowat sewe sent per liter styg, diesel met 20 sent per liter daal en paraffien 14 sent goedkoper word.

“Daar was heelwat onbestendigheid in die wisselkoers en die rand oor die afgelope maand,” het die AA gesê.

Volgens die AA is die prys teen die middel van die maand gewoonlik ʼn goeie aanduiding van wat teen die einde van die maand gaan gebeur, hoewel die huidige politieke en ekonomiese aandrywers van die wisselkoers en die olieprys in dié stadium hoogs beweeglik is.

“Ons beskou die huidige syfers net as ʼn aanduiding en aan die einde van die maand kan die prentjie beduidend anders lyk as nou,” het die AA gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Sasol maak bradstof uit steen kool dit kos hulle minder as 4rand n liter maar dan is dit die olie prys en dan is dit weer die dollar wat n grap

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.