Brandstofpryse bykans onveranderd in Mei

petrolDie prys van petrol sal op 6 Mei waarskynlik met enkele sente styg – moontlik slegs sowat 5c per liter.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die prys van diesel kan ook met enkele sente styg of daal. “Hierdie geringe bewegings sal die pryse van brandstof dus bykans onveranderd laat in Mei. Dié pryse sal wel sowat 9,6% laer wees as in Mei 2014, toe 93-oktaan petrol in Gauteng R14,01 gekos het.”

Volgens Joubert het die rand tot dusver gedurende April feitlik stabiel gebly teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met Maart se vlakke. “Die internasionale dollarpryse van petroleumprodukte, die ander faktor wat plaaslike pryse affekteer, het tot dusver gemiddeld in April slegs gering gestyg. Dit verklaar waarom die plaaslike brandstofpryse in Mei byna onveranderd sal bly.”

Joubert het gesê hoewel oliepryse gemiddeld vir die maand bykans onveranderd gebly het teenoor Maart se gemiddelde prys, het dit in die afgelope twee weke weer skerp gestyg. “Indien die huidige olieprysvlakke deur die loop van Mei stabiel bly of selfs verder styg, gaan plaaslike brandstofpryse op 3 Junie weer beduidend styg. Daar is egter tans baie wisselvalligheid en die situasie kan ook maklik gedurende die loop van Mei verander.”

Die departement van energie sal die finale aankondiging oor Mei se pryse Vrydag maak. Die aankondiging kan moontlik tot Donderdag vervroeg word weens die vakansiedag Vrydag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nellie ·

Ons sal maar ons trap fietse moet uithaal vir hierdie storie hoor.

Anton Smit ·

Nee wat Nellie trapfietse is ge maak om ander mense te straf

Stephan ·

Wie flous vir wie met die alewige op-en-af van die brandstofpryse? As brandstof goedkoper word, bly kospryse hoog…DIT kom nooit af nie! Sodanig verarm hierdie volk, maar Jan Publiek is te dom om hierdie eenvoudige berekening te maak…

Bennie Dippenaar ·

Brandstofpryse het ‘n baie klein invloed op die totale produksiekoste van voedsel. Lone, koste op kunsmis, chemiese stowwe en die koste van meganisasie toerusting is onderhewig aan die verandering in wisselkoers. Hierdie kommoditeite het die grootste invloed op produksiekoste. Meganisasie is nie goedkoop arbeid nie, wel risiko bestuur vir die produsent.

Peet Schabort ·

Vir die ouens wat van statistiek hou, die volgende uit petrolboekies aangaande die brandstofprys:
1965=7,7c/liter; 1970=8,1c/liter; 1975=17,6c/liter; 1980=53,7c/liter; 1985=81c/liter; 1990=117c/liter; 1995=187c/liter; 2000=286c/liter; 2006=610c/liter.
Daarná weet ons almal wat gebeur het.
Toegegee dat salarisse ook astronomies verhoog is.
Wat ek graag sou wil weet is die verslegting van die Rand teenoor die Britse Pond sedert 1961 toe R2=EEN Pond was. Sou ons ‘vasgeklou’ het aan die Pond, waar sou ons vandag gewees het? Hier moet dan die politiek uit die redenasie gehou word.

Paul ·

Peet, interessant – kyk na die styging van 1975 tot 1980. Dis ‘n 205% styging in vyf jaar. Die laaste 200%-styging wat ons nou gehad het, was maar in tien jaar, want die prys van petrol was sowat R4,50 by tye in 2005.
Dit was dus in die laat sewentigs erger as nou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.