Brandstofpryse gaan skerp styg

petrolpomp 2

Argieffoto.

Brandstofpryse gaan op 1 Junie beduidend styg weens die rand wat ietwat swakker verhandel en ’n styging in die prys van internasionale petroleumprodukte.

Paul Joubert, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het Dinsdag aan Maroela Media gesê die rand het tot dusver in Mei ietwat swakker, op gemiddeld R15,15, teen die dollar verhandel as die gemiddeld tydens April toe dit sowat R14,65 was.

“Die afgelope week se skerp verswakking tot meer as R15,80 dra ook hiertoe by. Terselfdertyd het internasionale dollarpryse van petroleumprodukte gedurende Mei tot dusver gestyg tot vlakke hoër as die gemiddeld vir April, diesel meer as petrol. Hierdie twee faktore saam beteken dat brandstofpryse op 1 Junie beduidend gaan styg.”

Volgens Joubert sal die prys van petrol, sowel 95- as 93-oktaan-petrol, na verwagting met sowat 50c per liter styg, terwyl die groothandelprys van diesel met sowat 75c per liter behoort te styg.

Dit sal die kleinhandelprys van 93-oktaan-petrol in Gauteng op R12,94 per liter te staan bring, en die groothandelprys van diesel met 0,05%-swawelinhoud in Gauteng op R11,28 per liter.

“Ondanks die verwagte styging in die pryse op 1 Junie sal die brandstofpryse steeds laer wees as verlede jaar. Vir petrol sal dit steeds 14c per liter goedkoper as in Junie verlede jaar wees en vir diesel 39c goedkoper as in Junie verlede jaar.”

Soos op die grafiek gesien kan word, sal die pryse ook steeds beduidend laer wees as die hoogtepunte wat vroeg in 2014 bereik is:

Grafika: Paul Joubert

Grafika: Paul Joubert

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

cherokee ·

Eindig? Wat meen jy by ‘eindig’? Wat gebeur daarna.. nadat dit ge’eindig’ het?

Jan maak n Plan ·

Betaal sal ons maar seker moet betaal – die regering se soustrien het geld nodig. Kyk net n bietjie wat kos brandstof in Botswana en dit kom alles uit Gauteng uit.

Henkb ·

Net so klein regstellingtjie. Botswana se petrol kom nie van SA af nie. Hulle het net berging tenks in Durban waarin hulle die petrol sit wat hulle van oorsee koop. Botswana het geheel niks te doen met SA se petrol nie.

Paul ·

Korrek, Henkb. Dis mos nou nie asof Botswana se vulstasies petrol in die kleinhandel in Suid-Afrika koop nie – hoewel dit my klink asof baie mense so dink.
Die basiese rede hoekom Botswana se petrol goedkoper is as Suid-Afrika s’n, is omdat die regering van Botswana baie min belasting op petrol hef. Hulle hef wel weer belasting op ander goed.

Drywer ·

Hierdie is nou sommer twak! Toe die Brent olieprys met meer as 50% per vat gedaal het, het die petrolprys dieselfde gebly. Dieselfde met die kospryse wat altoos kamma deur die petrolprys beinvloed word. Noudat petroleumprodukte duurder raak moet ons NOG DUURDER vir petrol betaal?! Ek kan jou ‘n brief gee dat die gulsige kettingwinkels ook hulle kospryse gaan opsit om meer geld te skep. Hierdie keer help ek die agtergeblewendes winkels en vulstasies afbrand!! A nee a, wat darem té erg is, is té erg!

Paul ·

Dit wat jy sê is eenvoudig nie waar nie, Drywer.
Eerstens: olie (al die soorte) se prys is in Amerikaanse dollar. Dit help dus niks as jy net na die prys van olie kyk sonder om na die rand/dollar wisselkoers ook te kyk nie.
Die prys van olie was vroeg in 2014 ongeveer $110 per vat gewees. Dit het toe teen die middel van 2014 skerp gedaal tot sowat $45 per vat. Dis ‘n daling van sowat 59%. Selfs meer as die “50%” wat jy uit die lug gryp. Dit het toe stadigaan verder gedaal tot sowat $27 per vat vroeg in 2016. Gesamentlik dus ‘n daling van sowat 75%. Sedertdien het dit wel weer gestyg tot omtrent $50 per vat, ‘n styging van 85%, maar steeds omtrent 55% laer as die $110 van vroeg in 2014.
Onthou egter, oor dieselfde tydperk van vroeg in 2014 tot nou, het die rand verswak van omtrent R10,50 teenoor die dollar tot omtrent R15,80 op die oomblik. So die prys van ‘n vat olie in rand-terme is nou slegs sowat 31% laer as wat dit vroeg in 2014 was. Vergelyk nou die prys van petrol. Dit is tans sowat 11% laer as wat dit vroeg in 2014 was. Hoekom nie ook 31% laer nie? Wel, daar is waar die staat met hul hoër belasting op petrol inkom.

Dit is egter nie waar om te sê dat die prys van petrol nie gedaal het nie. Vanaf vroeg in 2014 tot vroeg in 2015 het dit met omtrent R4 per liter gedaal en dis tans steeds laer as wat dit in 2014 was.

Frannie ·

Maroela!
Wanneer gaan julle vir ons ‘n LIKE funksie implimenteer? Ek wil nie altyd kommentaar lewer nie, maar wel ‘n kommetaar beaam.
Maar ja, dankie vir al die gratis nuus, dit word werklik waardeer. Julle is puik!

Landi Slatter ·

Dagsê Frannie

Dankie vir jou navraag. Ons kommentaarfunksie gaan deur die loop van die jaar ‘n splinternuwe baadjie aantrek. Bly dus ingeskakel!

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Henk Venter ·

IEMAND is besig om ons rot en kaal te besteel!! Olie pryse het met 60 tot 80 dollar per vat geval en ons het nie eens R2-00 afgekom met die petrolpryse nie. Nou klim die olie pryse met enkele dollars en ons word gelooi met hoer petrolpryse?
Wie steel van ons – die regering, die anc, politici, die illuminati? WIE?
En waarom stop ons nie hierdie gestelery nie?

Paul ·

Henk, jy onthou verkeerd. Die prys van olie het wel vanaf 2014 met soveel soos jy sê geval, maar onthou daai is dollarpryse. Die rand het erg baie verswak in dieselfde tyd, so ons het nie die volle voordeel van die lae dollar-oliepryse gekry nie.

Verder is daar mos ook die hoër belasting wat intussen op petrol en diesel geplaas is. Dit word elke jaar wyd aangekondig in Februarie en ingestel in April. Dis geen geheim nie.

Adoons ·

Praat die waarheid. Sê dis as gevolg van ‘n onbevoegde Afrika piesang republiek regering.

Jacques ·

Ek lag te lekker. Dankie aan Paul met jou terugvoer. Laat my weer aan my ekonomie dae terugdink.

Johan ·

Dis net verskonings om die hoe prys van petrol te regverdig. Ons word gemelk en die regering se soustrein loop lekker. Dan maak almal asof dit normaal is by die mense wat werk met die prys.

Paul ·

Niemand ontken dat daar wel R4,43 se belasting op elke liter petrol is nie, Johan. Dis egter nie wat die styging in Junie veroorsaak nie, omdat die belasting SLEGS in April van elke jaar verhoog word – in geen ander maand ooit nie.

cherokee ·

Johan, die soustrein is besig om ‘n sousêrreplain te word.

Voorlaaier ·

Nee wat!.. Daar is geen einde aan my beproewing nie!!
Sal ma my perd elke oggend moet opsaal en werk toe ry. Ou Voorlaaier kan ni meer ni!!. Bankrotgat!

vermeende ·

Paul, jy lyk na die regte persoon op my vraag.
Ons koop olie per vat. uit elke vat kan daar net soveel petrol en diesel kom na die cracking nou hoekom kry ons dat diesel bv sal sak en petrol sal klim. Ons voer tog nie klaar verwerkte petrol en diesel in nie, ons verwerk die ruolie dan hier.

Paul ·

Dis nogal ‘n ingewikkelde storie, vermeende, maar ek sal probeer verduidelik.
Eerstens, daar word wel baie groot hoeveelhede klaarvervaardigde petrol en diesel ingevoer in Suid-Afrika. Die plaaslike raffinaderye kan lankal nie meer genoeg petrol en diesel voorsien vir Suid-Afrika se behoeftes nie.
Tweedens, die manier waarop die brandstofpryse in Suid-Afrika bepaal word, werk op ‘n beginsel van: “Wat sou dit gekos het om die klaarvervaardigde brandstof vanaf die mees doeltreffende raffinaderye in die Middelandse See-streek en die Singapoer-streek in te voer?” Die rede hoekom dit as “benchmark” gebruik word, is dat dit die plaaslike raffinaderye dan (minstens teoreties) op hul tone hou, dat hulle nie lekker ondoeltreffend kan produseer en net pryse verhoog nie.

Nou verder is dit ook dan belangrik om te onthou dat raffinaderye nie blitsvinnig aangepas kan word om die verhouding petrol en diesel uit elke vat olie te verander nie. Dit kan gedoen word, maar so proses neem weke lank. Wat dus internasionaal soms gebeur is dat die vraag na diesel (vir verhitting in die koue Noorde) byvoorbeeld weens onverwagse koue weer sal styg en dan is die raffinaderye nie reg om aan daardie vraag te voldoen nie – dan is daar ‘n tekort en die prys styg dus. Ander kere weer andersom.

Dit illustreer hopelik vir jou die beginsel.

Anoniem ·

Almal kla oor petrolprys en voedselsoorte, maar kom betaaldag dan kla hul nie as hul gaan uiteet, braai, onthaal en kuier nie!

Panda ·

Ek dink dat na ‘n maand se harde werk kan ek myself verseker bederf met ‘n lekker uiteet. Dit is erg genoeg dat so groot deel van my salaris elke maand vir belasting gaan, so ek voel geensins skuldig as ek myself bederf. Stygende petrolpryse of te not.

Ekke ·

Rand op doller af ru olie links en dat regs JULLE IS ALMAL VERKEERD dis APARTHEID se skuld

neelsie ·

Tyd dat elektriese voertuie goedkoper word, hoop eskom sal kan voorsien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.