Brandstofpryse gaan wéér styg

petrolpomp 2

Argieffoto.

Die Automobiel Assosiasie van Suid-Afrika (AA) het dié week gesê motoriste kan na alle waarskynlikheid nóg ʼn styging in brandstofpryse volgende maand verwag.

Die AA sê in ʼn verklaring Suid-Afrikaners het wel ’n reddingsboei gekry in die vorm van oliepryse wat afgeneem het in Junie. “Sonder die afname in die olieprys sou die stygings vir Julie veel hoër gewees het.”

Die AA verwag dat petrol met sowat 26c per liter sal styg en diesel met 24c per liter. Indien oliepryse egter weer styg, kan dit ernstige gevolge vir Suid-Afrikaners inhou indien die rand ook aanhou stoom verloor.

“Die gemiddelde rand/dollar-wisselkoers wat gebruik word om die basiese brandstofprys uit te werk het sedert die begin van Junie in ’n feitlik reguit lyn afgeneem. Die rand het teen R12,65 teen die dollar verhandel aan die begin van die maand, maar verhandel nou in die omgewing van R13,30 teen die dollar.”

Volgens die AA sou Suid-Afrikaners tot 40c per liter meer vir petrol betaal het volgende maand indien die olieprys nie gedaal het nie. Indien die olieprys aanhou styg het soos in Mei gesien is, sou die verhoging tot 80c per liter gewees het.

Indien die departement van energie Vrydag aankondig dat brandstofpryse styg soos deur die AA voorspel, sal 95-oktaan-petrol vir binnelandse gebruikers tot by die R16 per liter styg.

Die AA het intussen weereens ’n beroep op die regering gedoen om die hoë heffings op brandstof te heroorweeg, aangesien R5,30 van elke liter petrol bestaan uit die brandstofheffing en die Padongelukkefondsheffing.

Die AA voorspel ook dat verdere brandstofprysstygings verwag kan word weens Suid-Afrika se swak ekonomiese posisie en die moontlike handelsoorlog tussen die VSA en ander lande.

Petrol het aan die begin van die maand met 82c per liter gestyg en diesel met tussen 85c en 87c per liter.

Petrol het in Mei met 49c per liter gestyg terwyl diesel met tussen 58c en 59c per liter gestyg het. In April het petrol met tussen 69c en 72c per liter gestyg terwyl diesel met tussen 57c en 65c per liter gestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

iets is nie lekker nie. Ja die olieprys is op hoë vlakke, maar was al ver hoër as nou, en op daardie stadium was die rand naastenby op dieselfde vlakke of selfs heelwat hoër. Dit sou ‘n sekere prys bepaal, maar ten spyte van die laer rand en laer prys van ru-olie is die pryse nou die hoogste ooit.
Iemand skep vreeslik en draai ons ‘n groot rat voor die oë.
Sou graag ‘n grafiek wou sien met die olieprys, randwaarde en petrolprys. Ek dink dit sal wys hoe daar vir ons gelieg word.

Carina ·

Ek hou al vir jare elke oggend rekord van die Rand, Euro, GBP en olie pryse. In Sept 2013 was die olie op ‘n stadium $115.95 per vat, terwyl die Rand/$ toe R10.04 was. ‘n liter petrol het op daardie dag R13.13 gekos. Ek weet dit was al $140 per vat, maar het ongelukkig nie rekord daarvan nie.
Van 2013 af het dit al die pad gesak tot sy laagste in Jan 2016 teen slegs $27.78 per vat, terwyl die Rand toe R16.76/$ was. Petrol was toe R11.98 per liter. Vandaar styg alles al die pad tot waar ons nou staan. Maar feit bly feit – ons word baie erg belas op brandstof – dis mos lekker maklike en vinnige inkomste.

Andre ·

Pryse styg in binneland tot by R16 /L. Ons in die Noordkaap, spesifiek Kuruman en Kathu betaal nou al R16.06 vir 93 oktaan en R16.36 vir 95 oktaan. Meer as n rand n liter duurder as bv by PE. Belaglik. Hier buit almal die publiek uit. Hierdie 2 dorpe is ongelooflik duur met alles. Maar hulle sê net. Betaal die prys of ry 500km na n goedkoper plek toe.

Blommie ·

Die petrol prys sal aanhou styg sodat die e tol flop kan verhaal word van belasting betalers

Nikita ·

Ja dis belaglik. Hulle maak dit darem nou te dik aan. Hulle sal moet n bietjie briek aandraai.

jd ·

Ons Moet die regering se petty cash box vol hou.
R5.30 p/ltr is baie geld wat inkom per dag.

honourable member ·

Iets is nie lekker hier nie. Iewers word fondse bymekaar gemaak vir volgende jaar se verkiesing, dis hoekom die petrol nou so styg want ons subsideer die ANC se verkiesingsveldtog met die hoe petrol pryse……

Middelman ·

Die petrol prys is gereguleer, maar diesel nie, dus kan iemand enige wins op diesel maak. Die probleem kom ook waar groothandelaars groot wins maak. Skakel groothandelaars uit en die pomp prys sal baie laer wees. Dit kom weer in by olie maatskappye wat nie bestuur toepas nie, dit haal die slommer uit om direk met mense te handel. As almal net hulle werk doen is daar nie nodig vir groothandelaars en middelmanne nie. SA is lief daarvoor om sy eie volk uit te byt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.