Brandstofpryse: Só lyk stygings

Argieffoto

Motoriste kan vanaf Aprilmaand ʼn skerp styging in brandstofpryse te wagte wees as gevolg van nuwe brandstofheffings wat dán in werking sal tree.

Jeff Radebe, minister van energie, het dié styging in brandstofpryse Woensdag bekend gemaak.

Volgens Radebe kan motoriste vanaf 4 April ʼn styging van 69c per liter in die prys van 93-oktaan-petrol verwag – dít ten spyte daarvan dat die internasionale brandstofpryse grootliks stabiel gebly het.

Die prys van 95-oktaan-petrol gaan 72c per liter duurder wees, die prys van 0,05%-sulfaat-diesel gaan met 57c per liter styg en die prys van 0,005%-sulfaat-diesel gaan met 65c per liter styg. Die prys van gas gaan ook styg – dié keer met 39c per kg.

Radebe sê die prys van paraffien sal met net meer as 2c per liter minder daal aangesien die prys nié deur die styging van brandstofheffings geraak word nie.

Dié styging in brandstofpryse beteken dat brandstof in April weer meer as R14 per liter sal kos. Die AA meen dié stygings gaan motoriste vir die soveelste keer diep in hul beursies laat grawe.

“Enige styging in die internasionale brandstofpryse in die nabye toekoms sal verseker dat motoriste vanjaar die duurste nóg vir brandstof gaan betaal,” lui die verklaring. “Verskaffers van openbare vervoer soos taxi’s en busse sal hierdie verhogings moet dek deur dit direk aan die verbruikers oor te dra, wat beteken dat meer van [die verbruikers] se reeds klein salarisse aan vervoerkoste bestee gaan word.”

Die AA sê die nuwe brandstofheffings én die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) gaan alle Suid-Afrikaners raak en nié net motoriste nie. “Die koste van die verskeping van goedere reg oor die land sal ook duurder word aangesien produsente, verskaffers en maatskappye ook gedwing gaan word om ekstra koste te verhaal deur middel van verhoogde pryse.”

Volgens die AA is die enigste lig aan die einde van die tonnel dat die kredietgraderingsmaatskappy Moody’s vroeër die land se kredietgradering onveranderd gelaat en sy vooruitsig van negatief na stabiel verander het. Die regering het kort hierna gesê dat hy beoog om binnekort nuwe lewe in die ekonomie te blaas.

Maroela Media het vroeër berig Malusi Gigaba, die destydse minister van finansies, het in Februarie aangekondig dat die algemene brandstofheffing van R3,15 na R3,37 verhoog sal word en dat die heffing vir die Padongelukkefonds van R1,63 na R1,93 verhoog word. Die totale brandstofheffings kom neer op R5,30 per liter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Cherokee ·

‘n Vinnige berekening sê dat sowat 38% van die prys bestaan uit heffings. Dit raak nie die ander pryse wat as gevolg daarvan styg nie.

Paul ·

As mens die som oormaak, die 38 van die 100 aftrek wat prysstygings tot gevolg het, wat sê dit vir jou?

Cherokee ·

Ek is nogal nuuskierig.. waarna jy verwys. Dat die land dan nie so bankrot sou wees nie.

Houtoog ·

Daardie ‘. . . lig aan die einde van die toneel’ behoort seker ‘ . . . tonnel’ te wees? Enige tekort word met toename in belasting aangesuiwer. Dit is nou waar die koppe inkom wat vooruitstrewenheid vir die land bewerkstellig. Mooi man, dis nou skrander werk.

Karen van Zyl ·

Nee genade dan moet hulle regtig begin plan maak met die paaie en die sinkgate daarin.

Elize ·

En so word almal wat die Padongelukkefonds beroof / belieg net weereens geld in die sak gestop. Die gate in die paaie is nie meer slaggate nie maar wel tonnels wat ek dink in China kan eindig.

Elsa ·

Prysstygings meer as enige verlaging, dis tyd vir regverdigheid,

Mieke ·

En natuurlik sal voedselpryse a.g.v. bogenoemde eenvoudig aanhou styg – dit terwyl Jan Alleman op straat se salaris onveranderd bly. Mens moet voortdurig nuwe maniere vind om uitgawes te sny, maar sjoe, mens kan die gordel ook net sóveel stywer trek.

bgj van der westhuizen ·

ja dan is daar n verskoning om tol paaie te he en china sal hulle bou dit is belaglik wat ons betaal vir petro en diesel en net oor die grens kop jy die selde vir baie minder en dit kom van ons af

Jack Klok ·

Hierdie is net weer ‘n pragtige illustrasie hoe swak regering iets is wat geen land ter wêreld kan bekostig nie. Swak regering as gevolg van sosialistiese ekonomiese beleid, kommunistiese wrokkigheid, grootskaals onbevoegdheid en korrupsie asook gebrek aan leierskap, gaan op die ou end almal hard aan die sak ryk, soms op die mees onverwagte manier. Dis ‘n eenvoudige waarheid dat swak bestuur lei na ondoeltreffendheid, wat weer lei tot hoë kostes vir alles en almal.

Waarom het ons in hierdie gemors beland? Nie net ons regering is onbevoeg nie maar ook ‘n groot deel van die kiesers is ewe onbevoeg. HUlle het geen begrip van hulle pligte en magte as kiesers nie. Seffrica sal nooit regkom indien die kiesers nie bykom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.