Brandstofpryse – vooruitsig vir Oktober

Argieffoto

Argieffoto

Motoriste kan moontlik in Oktober ‘n geringe daling in die prys van petrol te wagte wees.

“Deur die loop van September het die rand beduidend verswak teen die Amerikaanse dollar, maar terselfdertyd het die internasionale pryse van petroleumprodukte die pryse van olie afwaarts gevolg,” het Paul Joubert, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, aan Maroela Media gesê. “Die netto effek hiervan gaan waarskynlik ʼn geringe daling van enkele sente in die prys van 95-oktaan petrol op 1 Oktober wees. Die groothandelprys van diesel sal waarskynlik met sowat 11 sent daal.”

Joubert het verduidelik die prys van 93-oktaan petrol, wat in die binneland beskikbaar is, word nie elke maand afsonderlik van die prys van 95-oktaan petrol aangepas nie, aangesien die twee se onderliggende pryse gewoonlik naastenby in pas met mekaar beweeg. “Oor tyd kan daar egter wanbalanse opbou, en so ʼn wanbalans sal waarskynlik ook op 1 Oktober reggestel word. Dit beteken dat waar die prys van 95-oktaan petrol waarskynlik ietwat gaan daal, die vooruitsig vir 93-oktaan eerder ʼn geringe styging is,” het hy gesê.

Daar is dus geen vooruitsig vir nog ʼn skerp daling soos op 3 September nie, maar Oktober se verwagte geringe veranderinge sal minstens September se blaaskans verleng.

Die finale aankondiging oor die prysveranderinge sal Vrydag deur die departement van energie gemaak word. Indien die departement besluit om ʼn tydelike leiheffing (“slate levy”) van ʼn paar sent in te stel, of om die groothandelswinsmarge op brandstof te verhoog, kan dit die verwagte dalings in die pryse van diesel en 95-oktaan petrol erodeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.