Brandstofvlakke is stabiel by OR Tambo, sê Acsa

OR Tambo- internasionale lughawe (Foto: ANA/verskaf)

Die brandstofvoorraad vir vliegtuie na en van die OR Tambo- internasionale lughawe is stabiel en voldoen aan die aanvraag van lugdienste, sê die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa).

Dit volg ná bewerings van ontwrigtings in die vervoer van vliegtuigbrandstof toe spoorweginfrastruktuur tydens die oorstromings in KwaZulu-Natal beskadig is. Sowat 140 dele van Transnet se vragvervoerspoorweë op pad na Johannesburg is beskadig. Van die 67 brandstoftenks wat na OR Tambo gestuur is, het slegs 11 by hul bestemming opgedaag.

Transnet Freight Rail (TFR) sal na verwagting eers teen 9 Junie die beskadigde infrastruktuur kan herstel en Acsa, TFR en oliemaatskappye moes ʼn tussentydse plan beraam om seker te maak daar is voldoende brandstofvoorraad by OR Tambo-lughawe, sê Mpumi Mpofu, uitvoerende hoof van Acsa.

Die nuwe voorstel beteken dat die oorblywende 56 brandstoftenks na Natref in Sasolburg geneem sal word en dan deur ʼn pypleiding na OR Tambo vervoer sal word.

“Acsa het internasionale en plaaslike lugdienste formeel in kennis gestel dat hulle waar moontlik by ander lughawens moet opvul. OR Tambo het tans drie tot vier dae se voorraad beskikbaar en dit sal vir die volgende ses weke volgehou word.”

Mpofu sê die nasionale petroleum-raffinaderye van Suid-Afrika (Natref) het bevestiging aan Acsa gegee vir ʼn bykomende voorraad van 14 miljoen liter vliegtuigbrandstof.

“Ons verwag ook ʼn besending van 10 miljoen liter op 5 Mei wat ʼn bydrae sal lewer tot die stabilisering van Acsa se brandstofvlakke.”

Sy het lugdienste verseker dat daar voldoende brandstofvlakke by OR Tambo-lughawe is. “Die situasie het onsekerheid veroorsaak onder internasionale lugdienste, maar ek wil ons vennote en passasiers graag verseker dat daar voldoende voorraad by OR Tambo en by al ons lughawens is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Wat gaan nog ten gronde gaan in hierdie land? Dis net ‘n skreiende skande!

Manie ·

Soos ons die regering ken, beteken stabiel en kritiek dieselfde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.