Brawe apteker skep hoop in KZN

Pauline Randles en Tony Hind. Hulle het alles moontlik gedoen om te verseker mense kry na die plundering in KwaZulu-Natal steeds hul medisyne. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaners het aanvanklik in absolute ongeloof die tonele van ongebreidelde verwoesting in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng waargeneem. Winkel op winkel is geplunder en skares mense het alles weggedra waarop hulle hul hande kon lê. Yskaste. Grootskermtelevisiestelle. Sitkamerstelle. Kos. Drank. Klere. Dit wat nie gesteel kon word nie, is verwoes of beskadig.

In hierdie tragedie het honderde verhale van hoop egter ook aan die lig gekom. Pauline Randles was een só ʼn Suid-Afrikaner wat hoop help gee het.

‘Pasiënte kom eerste’

Pauline Randles is bestempel as ‘n hedendaagse superheldin. (Foto: Facebook)

Randles besit ʼn apteek in die Watercrest-winkelsentrum in Hillcrest. Die onderneming het maar tien dae tevore na dié nuwe perseel in die sentrum getrek en begin sake doen toe plunderaars toegeslaan het.

Groot groepe mense het die sentrum ingevaar, verby die apteek gehardloop en die groot kleinhandelaars eerste geteiken. ʼn Verdwaalde plunderaar het die apteek binnegestorm, maar een van Randles se personeellede het ʼn vuurwapen uitgepluk en hom verjaag. Die verligting was tydelik.

Randles en haar personeel het die deure gesluit en is deur ʼn agterdeur na veiligheid – maar toe keer die plunderaars terug en dié keer was die apteek in hulle visier. Randles het magteloos in haar huis na die regstreekse kringtelevisiebeeldmateriaal van die apteek gekyk hoe ʼn plunderaar ʼn brandslang gryp en die eerste venster uitslaan. Haar hart het gesink.

Die boewe het enkele items soos vitamiene van die rakke gebuit, maar het die resepteerafdeling grootliks onaangeraak gelaat.

“Hulle het die rekenaars en kredietkaartmasjiene stukkend geslaan en die fone beskadig. ʼn Kluis is oopgebreek en die inhoud gesteel.

“Hulle was jongelinge en het spesifiek die kantoor beskadig. Ek dink dit was deel van hulle plan om sake so moeilik as moontlik vir ons te maak,” sê Randles.

“Dit was absolute, kwaadwillige vandalisme; barbaarse optrede van jonk en oud, wit en swart mense.”

Sy was woedend oor die skade aan haar apteek, maar instink het ingeskop.

Die plundering het steeds voortgeduur, maar Randles is summier die volgende dag – vergesel van veiligheidswagte – terug na haar apteek om die medisyne te verwyder en vir veilige bewaring na haar huis te neem.

In haar sitkamer het sy ʼn tydelike apteek begin bedryf.

Die tydelike apteek wat Randles noodgedwonge uit haar sitkamer moes bedryf. (Foto: Verskaf)

“Dit hang seker van jou geaardheid af, maar wanneer dinge moeilik word, doen ek wat gedoen moet word. Ek het nie ʼn keuse gehad nie. Mense het hul medikasie dringend nodig gehad en ek het nie aan die gevolge vir myself gedink nie.”

Sommige van Randles se werkers het saam met haar die apteek in haar huis beman. Hulle het hoofsaaklik net medikasie verskaf aan bekende pasiënte. Sommige ander het smekend om hulp opgedaag. In ʼn noodgeval het Randles gevra vir skermskote van mense se medisyne sodat sy die dokter wat dit voorgeskryf het, self kon kontak.

Kankerpasiënte en diabeteslyers. Randles het seker gemaak mense in nood word versorg.

Die medikasie word weer opgelaai om terug na die apteek te neem. (Foto: Verskaf)

“Talle pakhuise is afgebrand en ek kon net aan my pasiënte dink. Ek wou die medisyne op ʼn veilige plek bewaar en ook verhoed dat dit op straat beland.”

Toe gaan Randles selfs verder en begin diegene help wat deur eers die Covid-19-pandemie en daarna die plundering op hul knieë gedwing is. Een so ʼn man is ʼn straatkunstenaar wat Randles ingespan het om die houtplank waarmee hulle die geplunderde apteek reggemaak het, te versier.

“Hy is al so lank werkloos. Ek het hom betaal en gevra vir ʼn kunswerk om God, die gemeenskap en die gewapende reaksiewagte te bedank wat ons gehelp het om die medisyne veilig te kry.

“Almal is platsak en jy moet gee waar jy kan. Ek kan kos op my tafel sit, die meeste van rekeninge betaal. Talle ander mense kan nie.”

Welkom terug! Die apteek se personeel verwelkom mense terug. (Foto: Verskaf)

Randles sê hulle is steeds besig met ʼn voorraadopname om te bepaal presies wat alles gebuit is. Weens die beskadigde rekenaars is dit ʼn opdraande stryd. Sy en haar verloofde, Tony Hind, moes boonop reeds derduisende rande uit hul sak opdok om die apteek se deure weer oop te kry. Dit kan jare duur voor ʼn versekeringseis hiervoor uitbetaal word.

Maar hulle is terug op hul pos, uitdagings ten spyt.

“Ons is dankbaar dit is verby. Daar was soveel wonderwerke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Ek is nou nie snaaks nie, maar ek het nêrens blankes gesien wat plunder nie. As daar was vra ek verskoning, maar as daar nie was nie hoop ek die vrou vra omverskoning.

LeonS ·

Kyk anc en eff en word wys, DANKIE vir mense wat wys hul KAN

Eugene ·

Loof die Here. Sy goedertierenheid is tot in ewigheid! Deur Sy kinders gee Hy ons weer moed vir die toekoms. Sy liefde is van geslag tot geslag!

Leeuwyfie ·

Wit? Nee regtig? Ek het net witmense gesien wat hul eiendom probeer beskerm.

Anel ·

Dis seker omdat hulle engels is. Hulle dink mos hulle moet die ander help dan sal hulle nie iets oorkom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.