Brawe polisieduiker het hart vir kinders

Fourie het ʼn passie vir duik en is nie een oomblik spyt sy het dít waarvan sy van jongs af al droom, haar beroep gemaak nie (Foto: SAPD)

Dit sit nie sommer in enigiemand se broek om ʼn polisieduiker te wees nie. Afgesien van die fisieke uitdagings daaraan verbonde, is dit psigies ook moeilik om daagliks liggame uit die water te haal. Die slagoffers is boonop meestal kinders en vir lt.kol. Anzari Fourie, ʼn polisieduiker, tref dít besonder hard.

Fourie het egter ʼn passie vir duik en is nie een oomblik spyt sy het dít waarvan sy van jongs af al droom, haar beroep gemaak nie.

Fourie, tans die provinsiale hoof van noodreaksiediens in Noordwes, is die enigste vrouepolisieduiker in dié provinsie en een van net tien vroueduikers in die land.

Sy was net 20 jaar oud toe sy in 1990 haar loopbaan as konstabel in die polisiediens afgeskop het en het haar in 2009 as polisieduiker bekwaam.

“My belangstelling in duik het begin nog lank voordat ek my by die polisiediens aangesluit het. Ek sou heelwat vroeër in my loopbaan as polisievrou vir die polisie wou duik, maar vroue is vroeër jare nie sommer as polisieduikers toegelaat nie,” vertel Fourie.

Toe sy uiteindelik haar passie kon volg, was daar geen keer aan hierdie brawe vrou nie.

Fourie het al amper ophou tel hoeveel liggame en voorwerpe sy die afgelope 12 jaar as duiker uit verskillende waterbronne – waaronder damme, riviere, besproeiingskanale en steengroewe – uitgehaal het.

“Ons het al enigiets onder die son uit die water gehaal – van leë kluise tot skootrekenaars. Ons het selfs ʼn ou oom se as onder die brug in Hartbeespoortdam aangetref.”

Volgens Fourie is haar werk uiters gevaarlik (Foto: SAPD)

Fourie het net die afgelope jaar reeds op 80 verdrinkingsvoorvalle in Noordwes gereageer.

In Februarie vanjaar het Fourie en haar span ʼn belangrike rol gespeel in die redding van 16 inwoners van Taung en Reivilo ná verwoestende vloede dié gebiede getref het. Sy het verlede week ook die liggaam van ʼn agtjarige seun en ʼn vyfjarige meisie uit ʼn besproeiingskanaal in Brits gehaal.

“Dit is ná al die jare steeds moeilik om liggame van kinders uit die water te haal.”

Volgens Fourie is haar werk uiters gevaarlik en fisiek stremmend.

“Jy duik blindelings in die water in en moet dan verder op genade en jou gevoel staatmaak. Die meeste waterbronne waarin ons duik, is pikdonker en jy kan nie sien wat aangaan nie. Jy kan onder die water in iets verstrengel raak. Die grootste gevaar is dat die suurstof in jou suurstoftenk dan opraak.”

Fourie vertel sy moet haar voor elke duiksessie sielkundig daarop voorberei.

“Jy moet ʼn mate van versigtigheid aan die dag lê. Ek was al voor ʼn duik skrikkerig en moes eers my kop regkry voordat ek in die water klim.”

Fourie sê die polisiediens sukkel om jong duikers te kry, veral omdat dit sulke uitdagende werk is. Dit is ook een van die redes waarom daar nie so baie vroueduikers is nie.

Verdrinking onder kinders

Fourie vertel sy moet haar voor elke duiksessie sielkundig daarop voorberei (Foto: SAPD)

Volgens Fourie moet ouers kinders van ʼn jong ouderdom af leer swem. Sy sê wanneer kinders dan by waterbronne – soos  steengroewe, riviere, damme en besproeiingskanale – speel en per ongeluk daarin beland, moet hulle weet hoe om te swem.

Soms beland die kinders in waterbronne, soos ʼn besproeiingskanaal, waar water teen ʼn vinnige tempo vloei.

“Dit is noodsaaklik dat ouers en skole kinders van jongs af oor water opvoed, veral diegene wat naby waterbronne woon. Kinders moet van ʼn jong ouderdom af leer om te swem en ook leer van die gevare om naby water te speel.”

Fourie het ʼn paar veiligheidswaterwenke gedeel:

  • Kinders mag nie naby waterbronne toegelaat word sonder die toesig van ʼn volwassene nie, selfs al kan hulle swem.
  • As kinders swem of aan watersportaktiwiteite deelneem, moet almal ʼn reddingsbaadjie dra.
  • Kinders en volwassenes moenie swem in watermassas wat hulle nie ken nie, byvoorbeeld riviere, damme en besproeiingskanale.
  • Kinders word aangeraai om nooit in die water te spring om ʼn vriend te red nie. Hulle moet eerder ʼn stok of ʼn dryfmiddel gebruik wat hulle in die water kan gooi om die persoon uit te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Skappie ·

Sterkte Fourie. Dit kan nie maklik wees om die kinder liggame uit die water te haal nie. Dankie vir wat jy doen,

Louise ·

Ek haal my hoed af vir julle harde werk. Dankbaar vir mense wat moed het om n werk te doen wat ander nie kan of wil doen nie. Sterkte vir julle

Miek ·

Word alle bewerings wat tydens onderhoude gemaak word eers geverifieer?
Dit sal goed wees om eers seker te maak van die geldigheid van bewerings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.