Breinknoper: Hoe groot was die Ramaphosa-faktor in die verkiesing?

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: @SA Gov News/Twitter)

Om te probeer vasstel hoe groot die Ramaphoria/Ramaphosa-faktor in verlede maand se verkiesing was, en hoeveel stemme die president dus van opposisiepartye weggeneem het, is ‘n moeilike en dalk onmoontlike breinknoper, maar kom ons probeer – as die begin van ‘n gesprek en as ‘n poging, nie as verskaffing van ‘n antwoord nie.

Enige skatting gaan waarskynlik te laag wees, want baie DA-kiesers in veral Gauteng het kennelik vir Ramaphosa gestem op sowel die provinsiale as die nasionale stembrief, al is hulle nie gewoonlik ANC-kiesers nie.

Mens moet voorts onthou dat sommige DA-kiesers in KwaZulu-Natal nog al die jare ook hul stembriewe verdeel deur provinsiaal vir die IVP te stem, maar die omvang is moeilik om te bepaal omdat sommige ABC-kiesers en EFF-kiesers ook vir die IVP op die provinsiale stembrief stem.

Dat die IVP vanjaar weer omvattend op die KwaZulu-Natalse provinsiale stembrief bevoordeel (of, anders gestel, op die KwaZulu-Natalse nasionale stembrief benadeel) is deur KwaZulu-Natallers wat verskillend op die twee stembriewe gestem het, is absoluut duidelik uit die uitslae. Daar is 54 296 meer nasionale as provinsiale stemme in KwaZulu-Natal uitgebring, dit wil sê mense wat nie ‘n provinsiale stembrief geneem het nie of – meer waarskynlik – mense van buite die provinsie wat in KwaZulu-Natal gestem het en dus slegs ‘n nasionale stem kon uitbring.

Nogtans het die IVP sowat 56 000 meer stemme op die KwaZulu-Natalse provinsiale stembrief gekry as op nasionale stembriewe uit die provinsie. Daarteenoor het al drie die ander groot partye in die provinsie swakker provinsiaal gevaar as nasionaal, en dus beter nasionaal gevaar as provinsiaal – die ANC met 75 042 stemme, die DA met 20 118 stemme en die EFF met 14 471 stemme. Daardie is winste vir die IVP provinsiaal en/of winste vir die ander partye nasionaal, afhangend hoe jy dit wil stel.

ʼn Mens kan waarskynlik met ‘n aanname werk wat die verdeelde stem (om vir een party in die provinsie en vir ‘n ander nasionaal te stem) betref: As DA-kiesers buite KwaZulu-Natal hul stem verdeel het, het hulle waarskynlik DA provinsiaal en ANC of VF Plus nasionaal gestem. Dit sou veral waar wees in die Wes-Kaap, waar die DA die beste kans gehad het om die ANC te klop, en Gauteng, waar die party die beste kans gehad het om die ANC onder 50% te bring.

Die DA het 3 618 992 stemme nasionaal getrek en 3 695 549 provinsiaal – wat beteken die DA het 76 557 stemme afgestaan tussen die provinsiale en die nasionale stembrief. By hierdie stemme, as ons argument soos hierbo uiteengesit water wil hou, moet ingereken word die verskil tussen die stemme wat die VF Plus op die nasionale (414 844) en provinsiale (354 882) stembriewe getrek het – ‘n verskil van 59 962 stemme.

Hierdie bykans 60 000 stemme het die DA sekerlik byna volkome bevoordeel op die provinsiale stembrief en benadeel op die nasionale stembrief – maar dis nie stemme wat na die ANC toe gegaan het nie. Dit is ‘n belangrike verrekening, wat nie bygetel moet word by die hoeveelheid stemme wat die DA aan die Ramaphosa-faktor en dus die ANC nasionaal afgestaan het nie.

Kom ons aanvaar die doel van die argument (weliswaar onvasstelbaar en dus onwetenskaplik) dat die hoeveelheid stemme wat die DA provinsiaal aan die IVP afgestaan het in KwaZulu-Natal ongeveer ewe veel is as die provinsiale stemme wat die DA landwyd provinsiaal bygekry het van die piepklein partye op die nasionale stembrief, wat geen verteenwoordiging in die parlement gekry het nie.

Dit sou beteken dat die hoeveelheid DA-kiesers wat ANC op die nasionale stembrief gestem het, min of meer gelykstaande sou wees aan die 76 557 stemme wat die DA minder getrek het op die nasionale stembrief as op die provinsiale stembrief, minus die 59 962 stemme wat aan die VF Plus afgestaan is tussen die provinsiale en nasionale stembriewe, plus die sowat 14 000 buitelandse stemme (uit sowat 19 000) wat die DA op die nasionale stembrief gekry het.

Maar net om te bewys hoe ingewikkeld die som van hier af raak: Patricia de Lille se party, Good, het sowat 14 000 stemme van sy Wes-Kaapse provinsiale stembrief verloor op die nasionale stembrief – waarskynlik veral aan die DA. Vir die ACDP was die nuus net mooi andersom: Die ACDP het in die Wes-Kaap sowat 4 000 meer stemme op die nasionale stembrief uit die Wes-Kaap gekry as op die provinsiale stembrief. Mens kan aanvaar dat die leeueaandeel daarvan – kom ons stel dit op 3 000 stemme – deur die DA provinsiaal ingeoes is.

Die Moslemgesinde party Al Jamaah het op sy beurt 2 000 minder stemme uit die Wes-Kaap op die nasionale stembrief getrek as op die Wes-Kaapse stembrief, waarvan mens kan aanvaar seker omtrent die helfte (dus sowat 1 000 stemme) nasionaal na die DA sou gaan en dus bygetel moet word by die hoeveelheid stemme wat die DA nasionaal aan die ANC afgestaan het.

Gegewe bogenoemde sal die beste berekening vir DA-stemme wat nasionaal aan die ANC afgestaan is, dus die 76 557 wees wat die DA nasionaal minder getrek het as provinsiaal, plus 14 000 oorsese stemme plus 13 000 Wes-Kaapse Good-stemme plus 1 000 Wes-Kaapse Al-Jamaah-stemme minus 59 962 stemme wat die DA nasionaal aan die VF Plus verloor het minus 4 000 Wes-Kaapse stemme wat nasionaal aan die ANC afgestaan het = 40 595 stemme.

Dit, moet mens aanvaar, is na alle waarskynlikheid nie die regte antwoord nie, want die ANC het op die nasionale stembrief 10 026 047 stemme gekry teenoor altesame 9 380 700 stemme op die nege provinsiale stembriewe. Dit wys hul neiging is dus die presiese die teenoorgestelde van die DA s’n – die ANC het beter gevaar op die nasionale as op die provinsiale stembriewe. Daar was 645 347 meer stemme vir die ANC op die nasionale stembrief as op die provinsiale stembrief.

Kom ons knoop die breine effens verder deur te kyk na die Gautengse syfers vir die sewe grootste partye in die provinsie. Die ANC het 245 000 meer stemme uit Gauteng gekry op die nasionale as op die provinsiale stembrief. Die DA het 73 000 stemme minder gekry nasionaal as provinsiaal in Gauteng, met die EFF wat ook 22 000 minder stemme nasionaal as provinsiaal in Gauteng gekry het – wat tog seker nasionaal nêrens anders as na die ANC sou gaan nie.

Aan die ander kant het die VF Plus 22 000 meer stemme nasionaal uit Gauteng gekry as provinsiaal, wat mens aanvaar die DA provinsiaal sou bevoordeel en nasionaal sou benadeel. Die ACDP het 6 000 stemme minder gekry op die Gautengse provinsiale stembrief as op die nasionale stembrief uit die provinsie. As daar ‘n provinsiale wins uit die ACDP se verliese gemaak is deur ‘n ander party, was dit waarskynlik die DA wat baat gevind het.

Die IVP het 7 000 stemme meer uit Gauteng gekry op die nasionale as die provinsiale stembrief, met daardie 7 000 IVP-stemme wat provinsiaal nugter weet waarheen gegaan het – die mees waarskynlike is dat dit na die ANC gegaan het, of natuurlik dat dit 7 000 IVP-ondersteuners uit KwaZulu-Natal was wat buite hul geregistreerde provinsie in Gauteng gestem het en dus slegs ‘n stem op die nasionale stembrief kon uitbring.

Dit sou beteken die ANC het 73 000 stemme bygekry wat die DA in Gauteng tussen die provinsiale en die nasionale stem verloor het, minus 22 000 stemme wat die Gautengse DA nasionaal aan die VF Plus verloor het minus omtrent 4 000 stemme wat die Gautengse DA nasionaal aan die ACDP verloor het. Dit sou die stemme wat die DA in Gauteng aan die ANC verloor het, rofweg op 47 000 te staan bring, as ‘n Ramaphosa-dividend. Maar met die EFF wat 22 000 Gautengse provinsiale stemme afgestaan het – waarskynlik aan die ANC – staan die ANC se wins op 69 000, wat baie ver is van die ANC se groei van 245 000 stemme tussen die Gautengse provinsiale stembrief en die stemme wat in Gauteng op die provinsiale stembrief uitgebring is.

Maar wag ‘n bietjie. Kom ons dink terug aan daardie styging in IVP-stemme op die nasionale stembrief, moontlik weens KwaZulu-Natalse kiesers wat in Gauteng gestem het en dus slegs ‘n nasionale stembrief kon uitbring.

Hoe wydverspreid was hierdie voorkoms van kiesers wat buite hul provinsies en dus slegs op die nasionale stembrief gestem het, en watter invloed kon dit hê op die totale ANC-groei van 645 347 op die nasionale stembrief vergeleke met die totale vir die nege provinsiale stembriewe?

As ons die uitslae vergelyk, is dit ‘n reusagtige hoeveelheid. In elkeen van die nege provinsies is daar duisende meer nasionale stemme as provinsiale stemme uitgebring. In totaal is landwyd ‘n volle 560 809 meer nasionale stemme as provinsiale stemme uitgebring. As mens die 19 000 oorsese stemme daarvan aftrek, beteken dit meer as 540 000 mense (meer as 3% van die totaal van 17 436 144 geldige nasionale stemme) het klaarblyklik buite hul provinsies gestem.

Die oorgrote meerderheid hiervan was in Gauteng – nie minder nie as 217 466, of 3,53% van die provinsiale totaal.

In ander provinsies was die getalle nie heeltemal so omvattend nie. In Noordwes was dit 39 384 stemme, in die Noord-Kaap 14 193 stemme, in die Wes-Kaap 54 958 stemme, in die Oos-Kaap 46 346 stemme, in die Vrystaat 20 299 stemme, in KwaZulu-Natal 54 296 stemme, in Mpumalanga 55 457 stemme en in Limpopo 58 410 stemme.

Nou dit maak ons breinknoper baie moeiliker. Die DA kon tog nie geen van al hierdie “slegs nasionale” stemme gekry het nie, wat beteken die Ramaphosa-dividend en die DA-verliese tussen die provinsiale stembriewe en die nasionale stembrief was astronomies en onmoontlik om te ontken, maar moeilik wetenskaplik bepaalbaar.

Die berekenings wat ons hierbo gedoen het, is waarskynlik goeie aannames en aanduidings, maar ons kon nie naby aan die ANC se nasionale winste kom nie. Dit laat ons dus met drie moontlikhede oor die berekening van die Ramaphosa-dividend:

  • Baie Suid-Afrikaners wat slegs nasionaal gestem het, het slegs vir Ramaphosa gestem, of
  • Suid-Afrikaners het so rond en bont gestem (neem byvoorbeeld die uitstekende vertoning van die Suid-Afrikaanse Kapitalistiese Party – die sogenaamde Pers Koei-party – in die DA-hartland in die Kaapse stadskom en Seepunt, teenoor die Pers Koeie se swak vertoning landwyd) dat mens letterlik honderde mikro-analises sal moet doen, want die tipe breë kwasstreep-tendense en veralgemenings van die verlede is nie in vanjaar se verkiesing moontlik nie (dis dalk hoekom die meningspeilings so ver van die kol was!), of
  • Dit is nie werklik moontlik om die Ramaphosa-dividend vir die ANC se relatiewe omvang wetenskaplik naastenby te bereken nie.

Of dalk is daar mense wat aan beter maniere kan dink om dit te doen. Dis tog die aard van ‘n ware breinknoper – dit laat ons nadink en mekaar help om beter te dink, of hoe?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Het alle kiesers altyd die regte aantal stembriewe gekry, of is daar soms net een oorhandig om sekere winste te verseker waar nodig? Was kiesers werklik ingelig oor hul regte tov die aantal stembriewe en hoe die stembriewe hanteer moet word? Die baie bedorwe stemme kan, wanneer dit bestudeer sou kon word, ‘n goeie aanduiding gee. Dis wel seker dat die ANC baat vind uit die chaos.

Gert van Wierdapark ·

Die statistieke is alles goed en wel, maar CR het met sy sjarme en mooi broodjies die gewone stemvee maklik oortuig om Weer vir die a en see en sy Kakistokrasie te stem, terwyl baie ander liggelowiges ook sy beloftes geglo het! Beloftes maak skuld, maar daar sal seker maar “Skuld-briewe” daarvoor uitgereik word = met die belofte, jul briewe is in die Pos!!!?

Gert ·

Baie spekulasie in die aannames, maar dit bly verfrissend om te sien hoe iemand goeie berekeninge doen. Welgedaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.