Breinskade ná kleuter weke lank siek bly

LJ sukkel nou om onder meer te loop, te praat en te eet. (Foto: Verskaf)

ʼn Bedrywige kleuter van Limpopo se lewe is in ʼn kwessie van ʼn paar weke omvergegooi nadat breinvliesontsteking hom met permanente breinskade gelaat het. Sy familie glo dat die siektetoestand te laat gediagnoseer is, ten spyte van herhaaldelike doktersbesoeke.

Dié kleuter sukkel nou onder meer om te praat, te eet of selfs te loop en sal vir nog ʼn jaar op antibiotika moet wees om die ontsteking te genees.

Leonard Johannes (LJ) König (4) het ongeveer twee maande gelede erge moegheid, braking, hoofpyn en hoë koors begin ervaar. Sy ouers, Nate en Susan, self siek van kommer, het hom minstens twee keer na ʼn plaaslike huisdokter in die omgewing van Tzaneen, asook twee keer na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Dit is eers weke later dat ʼn spesialis in Pretoria LJ met breinvliesontsteking sou diagnoseer.

Dokters in Limpopo het aanvanklik boonste lugweginfeksie by LJ gediagnoseer en verskeie pyn- en koorsmedikasie voorgeskryf in ʼn poging om die infeksie te beveg.

Weke het egter verbygegaan sonder dat LJ enige teken van herstel getoon het.

Naderhand moes LJ se ouma, Nicola Smit, hom saam met haar Pretoria toe neem, sodat haar dogter, Susan, kon terugkeer werk toe.

“My dogter was op die punt om haar werk te verloor en kon nie meer heeltyds na hom omsien nie,” het Nicola aan Maroela Media vertel.

“Hy was vrot van die siekte en die koors het nou en dan gebreek en dan weer opgevlam.”

Nadat Nicola van bakboord tot stuurboord gestuur is, het sy eindelik by ʼn pediater in Pretoria uitgekom. Dié het “binne minute” breinvliesontsteking by LJ gediagnoseer.

“Ons het onmiddellik hospitaal toe gejaag. Hy het reeds beheer oor sy blaas verloor en het nie goed gelyk nie.

“Dit was duidelik dat my enigste kleinseun besig was om te sterf.”

(Foto: Verskaf)

Dokters het LJ kort daarna op elke moontlike antibiotika en medikasie gesit in ʼn poging om die kleuter se lewe te red.

“Die behandeling het egter nie gewerk nie en ná ʼn paar dae het hy stuiptrekkings gekry. Sy brein het opgeswel en weens die drukking daarop is ʼn neurochirurg se hulp ingeroep om ʼn tydelike shunt (geleibuis) in sy brein te sit,” sê Nicola. Volgens dokters het sy breinvliesontsteking na tuberkulose-meningitis vererger. Dié is ʼn uiters dodelike vorm van breinvliesontsteking.

Die drukking op die brein het nie verbeter nie en ʼn permanente buis moes ingesit word.

“Teen dié tyd was die gedeelte van die brein wat beweging en spraak beheer reeds beskadig. Hy kan glad nie praat of selfs sy hande oplig om self te eet nie. Hy kan nie kos kou of sluk nie en word deur ʼn buis gevoer. Hy kon eers onlangs self ʼn paar happies vla afsluk.

Volgens Nicola sal LJ vir ʼn jaar op antibiotika moet wees om die ontsteking onder beheer te kry. Hy gaan ook vir nog ses weke in Meulmed Mediclinic se rehabilitasiesentrum in Pretoria moet deurbring waar hulle probeer om hom weer te leer loop en praat.

“Die pad vorentoe gaan lank en moeilik wees, en daar word verwag dat LJ vir die res van sy lewe met die gevolge van dié siekte gaan sit.

“Dit voel so onregverdig. Hy was ʼn gesonde seuntjie wat rondgehardloop het en niks makeer het nie, en nou wil jou hart breek as jy net vir hom kyk.”

Susan het intussen haar werk verloor en met die onverwagse uitgawes wat die afgelope paar weke opgeduik het, sukkel dié gesin om al LJ se mediese onkoste te dek. Meer as R800 000 van die aanvanklike R1,2 miljoen se mediese rekening is steeds uitstaande.

“Die plaaslike gemeenskap, kerk en LJ se kleuterskool staan ons so goed by gedurende hierdie tyd. Soveel mense het ons reeds gehelp, maar ongelukkig voel dit asof ʼn mens net nooit voorkom nie,” sê Nicola.

Anaïs, LJ se sussie, mis hom en haar ma daagliks, aangesien hulle nog in Pretoria is.

“Ons probeer net die onkoste en ons emosies so te bestuur dat ons nog kop bo water kan hou.”

  • Nicola se suster van Kanada, Dina Thompson, het intussen ʼn GoFundMe-blad gestig waarop donasies vir LJ se mediese uitgawes gemaak kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

AW ·

Ek is Bitter Jammer vir Julke,

Dis Werkkik Hartseer,

Ek het Nié Woorde Nié

En Niks Wat Ek sal of kan sé

Sal Dinge Reg maak Nie

Behalwe

My Gebede gaan uit vir Julle

Dat God deur Sy Genade

Vir Julle ń Pad Sal Oopmaak en Onderneem vir Julke !!

Shakespeare ·

Nagmerrie riller op sy ergste. So ‘n pragtige ou seuntjie. Vader stuur u engele om hom te bewaar en neem sy siekte op U soos U Woord aan ons belowe het. Sterkte aan die gesin.

Willem ·

Sterkte vir die ouers. Ons kind het dit op 2weke gekry. Baie sterkte

Stephanus ·

Wat is fout met ons sg dokters? Het hulle ook nou al in shangomas verander? Sterkte aan die familie en n “thumbs up” vir diie dokter wat die regte diagnose gemaak het.

Capri ·

Sterkte vir die ouers en klein LJ. Dit is verskriklik hartseer, mag die Here hom volkome herstel.

Jackie ·

Wie is die werkgewer wat tydens sulke omstandighede n ma afdank. LJ König en sesin is in ons gebede

miavos ·

Mens kan nie meer op mediese kundigheid in SA staatmaak nie.

Ansie ·

Ek is verstom. Daardie is beduidende simptome van breinvliesontsteking en die nodige toetse daarvoor moes onmiddellik gedoen gewees het.

Josua ·

My persoonlike opinie is dat die dokters van vandag het so gewoond geraak dat amper alles word as “Covid Related” beskou en sodra iemand by hulle opdaag met n loop neus of seer bors sien hulle n nuwe covid geval en ek neem hulle nie kwalik nie, Baie mense is agv die gemors verkeerdelik gediagnoseer en met verkeerde medikasie behandel. Ek voel egter baie sleg vir die oues van die seun maar ek het n sterk gevoel in my hart dat die seun gesond hieruit gaan stap want in ons Vader se hande is niks onmoontlik nie en kan die onmoontlike beslis moontlik word hou net moed en bly op jul kniee, die mannetjie is n fighter wees sterk saam hom en veg deur gebed vir sy gesondheid!!!

Skappie ·

Sterkte aan julle as ouers. Mag onse Liewe Heer julle styf in Sy arms en geloof vashou. By Hom is niks onmoontlik nie.

Kattebol ·

So tragies. ‘n boetie van my is binne 6 ure dood aan breinvliesontsteking nadat hy koorsig geraak het. Hy was 13 maande oud. Mag LJ volkome herstel.

Waarnemer ·

Watter werkgewer is so wreed om n ma wie na haar siek kind omsien,sommer net af te dank…namenshame daardie besigheid en sterkte vir LJ en gesin.

Agge nee ·

Ek stem saam. Dit is ontsettend wreed om die mamma af te dank omdat haar kind ernstig siek is. Wat van ‘n tydelike aanstelling totdat sy weer kan terugkeer na haar werk? Harteloos!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.