Brendan Peyper, Die Heuwels vereer op Samas

Brendan Peyper is op die 27ste jaarlikse Samas vereer.

Die 27ste jaarlikse Sama-toekennings (South African Music Awards) is Saterdagaand weer aanlyn aangebied en op SABC1 uitgesaai.

Die Samas vereer jaarliks Suid-Afrika se topmusiektalent.

Brendan Peyper se jongste album getiteld Twintig20 het die prys vir beste popalbum ingeoes. Die musiekgroep Die Heuwels Fantasties se jongste album getiteld Herverbeel is as beste kontemporêre musiekalbum aangewys.

Wouter Kellerman, die Grammy-bekroonde komponis, het die toekenning vir beste klassieke of instrumentele album ontvang vir We’ve known all times.

Die Ndlovu-jeugkoor, wat uit die Moutse-nedersetting in Limpopo kom en afgerig word deur Ralf Schmitt, se album Rise het die toekenning vir beste volwasse kontemporêre album ingeoes.

Die musiekduo Blaq Diamond het die toekenning vir kunstenaar van die jaar huis toe gevat. Dié Ambitious Entertainment-duo het die meeste stemme van die publiek ontvang in die kategorie, wat hulle die eerste duo in die geskiedenis van die geleentheid maak om die toekenning in te palm.

Die Heuwels Fantasties. (Foto: Schalk Hanekom)

Matthew Mole se Keep it together het die toekenning vir album van die jaar gewen. Die toekenning vir musiekvideo van die jaar is aan Miss Pru saam met Blaq Diamond en Malome Vector se “Price to pay” toegeken.

“Wat ʼn voorreg om hierdie toekenning te wen. Dankie aan die Samas vir die geleentheid asook Select Musiek vir hulle oneindige ondersteuning as my platemaatskappy,” het Brendan Peyper na afloop van die toekenningsgeleentheid op Facebook laat hoor.

“Dankie vir elke persoon wat na my Twintig20-album geluister het en nog al die jare my musiek ondersteun. Hierdie een is vir jou.”

Die Heuwels Fantasties het ook hulle tweede Sama-toekenning op sosiale media gevier.

“Dankie dat julle luister, dis al wat saak maak. So baie ongelooflike samewerking en vervaardigers op dié ene. Dankie, dankie julle almal.”

Hier is ʼn lys van al die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.