Die twee verdagtes in die moord op Brendin Horner (21) het Donderdag weer vlugtig in die landdroshof in Senekal verskyn voordat die saak na die Vrystaatse hooggeregshof oorgeplaas is.
Sekola Matlaletsa (44) en Sekwetje Mahlamba (32) word daarvan beskuldig dat hulle Horner, ʼn jong plaasbestuurder van die Paul Roux-omgewing, in Oktober verlede jaar wreed op ʼn plaas in dié distrik vermoor het. News24 berig Matlaletsa en Mahlamba het in die hof aangedui dat hulle beplan om onskuldig te pleit op die aanklagte teen hulle.
Die twee staan tereg op aanklagte van moord en roof.
Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê die saak is vanoggend tot 4 Junie uitgestel vir oordrag na die hooggeregshof.
Die staat moet ook voor dán die klagstaat en afskrifte van die dossier aan die verdediging verskaf.
Shuping sê die beskuldigdes sal na verwagting aan die begin van ʼn verhoor pleit.
Maroela Media het vroeër berig Horner het talle steekwonde aan sy liggaam gehad toe sy liggaam begin Oktober op die plaas aangetref is waar dit in ʼn veld aan ʼn paal vasgemaak was.
Dit het ook gelyk asof hy oor die grondpad gesleep is. Die nadoodse ondersoek het verwurging as die oorsaak van Horner se dood aangedui.
Die polisie het onder meer op bloedbevlekte broeke en ʼn paar skoene met modder daaraan by Mahlamba se huis beslag gelê. ʼn Bloedbevlekte broek is ook in ʼn kisvrieskas op sy perseel gekry.
Mahlamba is verlede jaar borgtog geweier. Sy medebeskuldigde is borgtog van R5 000 toegestaan.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Hulle is almal altyd onskuldig! Hoop hulle kry lewenslank. Hulle kan dan maar vir hulle tronk maatjies gaan vertel hulle is ONSKULDIG.
Vervloekte moordenaars en dan het hulle nog die vermetelheid om onskuldig te pleit!
Van uitstel kom afstel..dis al die 5de keer…onskuldig asb wie wil julle flous
Pleit onskuldig pffft dit gaan die dag wees! Die Here slaap nie inteendeel
Bring die doodstraf terug en al die tronke word leeg