Brexit: SA wil handelsooreenkoms afhandel

brexit2

Argieffoto.

Suid-Afrika en Mosambiek wil teen Vrydag ’n ooreenkoms met Brittanje bereik oor handelsbande en handelstariewe te midde van die post-Brexit-era.

Só het Rob Davies, minister van handel en nywerheid, Woensdag gesê. Onderhandelinge tussen Brittanje aan die een kant en die Suider-Afrikaanse Doeane-unie en Mosambiek aan die ander kant, is vir Vrydag geskeduleer, het Davies tydens ’n mediakonferensie bevestig.

Die doelwit van dié ontmoeting is om die fynere punte op te klaar – spesifiek oor die uitbreiding van die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms wat die ses nasies met die Europese Unie (EU) aangegaan het.

“Ons het reeds oor ʼn groot aantal kwessies ooreengekom. Ons het basies besluit dat ons die ooreenkoms op ʼn bilaterale basis sal oorrol en dan later sal terugkeer om te bespreek watter ander handelsverhoudinge ons kan hê wat van die ooreenkoms kan verskil,” het Davies gesê.

“Daar was ’n paar komplikasies. Ons kon nie net elke parlement in die Europese Unie eenvoudig doodtrek en met die Verenigde Koninkryk se naam vervang nie, want in dié ooreenkoms het ons as Suid-Afrika nie belastingvrye toegang vir al ons produkte gekry nie.”

Hierdie magtiging moes heroorweeg word met historiese handelspatrone in gedagte. Amptenare moes dus bepaal hoeveel van Suid-Afrika se kwota in ’n kategorie na Brittanje as deel van die EU gegaan het en dit in ’n nuwe tussentydse ooreenkoms omskep het.

“Dit is reeds gedoen en dit behoort nie ’n slegte ooreenkoms te wees nie,” het Davis gister gesê.

Onderhandelaars moet egter steeds ooreenkom oor ’n nuwe raamwerk oor sanitêre vereistes wat van toepassing sal wees op landbou-invoere van Suid-Afrika en sy buurlande. Departementele beamptes het wel gesê daar is geen bekommernis hieroor nie, aangesien Brittanje ’n veel minder beskermende houding as die res van die EU aanvaar het.

Davies het verduidelik dat daar wel oor tydlyne ooreengekom moet word vir die erkenning van gesondheidsertifikate. Uitvoerders dra alleen die koste hieraan verbonde en daarom kan vrae in hierdie verband ʼn groot impak op hulle hê.

Die groter gesprek is steeds oor ’n ooreenkoms oor kumulasie – die meganisme waarmee lande wat aan ’n voorkeurhandelsooreenkoms behoort, gesamentlik produkte vervaardig en gesamentlik voldoen aan reëls van oorsprongsbepalings.

Die Verenigde Koninkryk het ’n uitbreiding van die status quo gesoek, maar Davies het gesê dit sal net ’n rukkie duur met ’n hersiening wat in die nabye toekoms sal plaasvind om die reserwe-kumulasie te hanteer.

Davis het die media toegespreek ure nadat die Britse regering tussentydse handelstariewe aangekondig het wat 12 maande geldig is indien Brittanje sonder ’n ooreenkoms die EU sou verlaat. Dít sal ’n vroeëre scenario vervang waar tariewe terugkeer na dié wat reeds deur die Wêreldhandelsorganisasie in die 1990’s opgelê is.

Indien geen ooreenkoms aangegaan word nie, sal Brittanje invoertariewe van 87% na 0% sny.

Die aankondiging het gevolg nadat Britse LP’s die premier, Theresa May, se voorgenome ooreenkoms oor Brittanje se voorwaardes van ontrekking uit die EU verwerp het en net voor hulle sou stem oor ’n mosie om die onttrekking sonder ʼn ooreenkoms teen te staan. LP’s het ten gunste van die mosie gestem.

Davies het gesê hoewel die tussentydse handelstariewe gunstig sal wees vir sommige Suid-Afrikaanse uitvoerders, soos wyn- en vrugteboere, sal dit ernstige gevolge hê vir die motorbedryf met 10% in invoertariewe. Bees-, vark- en pluimveeuitvoerders sal ook tariewe moet betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.