Brexit-spertyd kruip nader; besluit het ook impak op SA

Britse eerste minister Theresa May verlaat ʼn mediakonferensie by ʼn EU-beraad in Brussel op 22 Maart 2019. (Foto: Frank Augstein/AP)

Britse eerste minister Theresa May word Woensdag by ʼn noodberaad in Brussel verwag, waar sy leiers van die Europese Unie (EU) oor die Verenigde Koninkryk se jongste Brexit-planne moet inlig.

Brittanje is geskeduleer om die EU Vrydag teen 11:00 te verlaat, maar tot dusver is geen ooreenkoms nog aangegaan oor hóé dit gedoen moet word nie.

Met minder as vyf dae oor voor dié sperdatum, het die Arbeidersparty gesê hy gaan verdere samesprekings met May se regering voer in die hoop om ʼn aanvaarbare ooreenkoms te beding.

May het verlede week gesê die meerderheid LP’s gaan uiteindelik nét ʼn tussen-party-ooreenkoms steun, nadat Noord-Ierland se Demokratiese Unionistiese Party (DUP) en sommige Konserwatiewe Party‑lede reeds haar ooreenkoms met die EU verwerp het, het die BBC berig.

Sondag het Rebecca Long-Bailey, ʼn lid van die Arbeiders se onderhandelingspan, die stemming as “positief en hoopvol” beskryf. Sy het aangedui nog samespreking gaan vroeg vandeesweek plaasvind. Dít ten spyte van die feit dat regeringsvoorstelle “nie voldoen aan die definisie van ʼn doeane-unie nie”, een van die Arbeiders se sleutelvereistes. Só ʼn unie sal tariefvrye handel in goedere met die EU moontlik maak, maar sal Brittanje beperk om sy eie ooreenkomste aan te gaan. Die Konserwatiewe Party het hom tot die behoud van dié ooreenkoms verbind.

“Ons het ons partylede en kiesers beloof dat ons alles moontlik sal doen om ʼn situasie te vermy waar geen ooreenkoms aangegaan is nie,” het Long-Bailey aan die BBC gesê. Haar opmerkings kom ná May die naweek ʼn videoboodskap getwiet het, waarin sy haar besluit verduidelik om met die Arbeiders te onderhandel.

“Ons moet die Europese Unie verlaat… dit beteken ons moet ʼn ooreenkoms uitwerk en dis hoekom ons soek na nuwe maniere – ʼn nuwe aanslag – om ʼn ooreenkoms in die parlement te bereik.

“Mense het nie in die Brexit-referendum in partyverband gestem nie. Ek dink lede van die publiek wil meer gereeld sien dat politici saamwerk,” het May gesê.

Terwyl die twee kante verder onderhandel, is min bekend oor wat presies bespreek word. Vandag sal besprekings voortgesit word oor ʼn wetsontwerp wat Arbeiders-LP Yvette Cooper ingedien het, wat hoop om May te dwing om ʼn uitstel vir Brexit te beding, eerder as om die EU sonder ʼn ooreenkoms te verlaat.

Brexit kan SA in moeilike posisie los

Die Britte se besluit het ook ʼn direkte gevolg op Suid-Afrikaanse handelsbelange. Suid-Afrika voer heelwat meer goedere en produkte na Brittanje uit as wat hy invoer. Die land is ook een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote. As Brittanje dus wel uit die EU onttrek, moet die bestaande handelsooreenkoms (wat met die EU aangegaan is) met die VK as regering heronderhandel word, omdat die EU-ooreenkoms dan verval.

Mari Harris, direkteur en politieke ontleder by Ipsos, het gesê sou Brittanje die EU Vrydag verlaat, dit Suid-Afrika – en baie ander lande – in ʼn moeilike posisie gaan los. Die Suid-Afrikaanse parlement het reeds ontbind voor die nasionale verkiesing aanstaande maand. Net die parlement kan ʼn nuwe ooreenkoms met Brittanje bekragtig, maar dieselfde politici wat die onttrekkingsooreenkoms met die EU moet beding, moet ook dié aparte onderhandelings met individuele lande behartig.

Harris het gesê dit sal tot Suid-Afrika se voordeel wees as ʼn soortgelyke ooreenkoms – as wat Suid-Afrika tans met die EU het – met Brittanje behou word sou hy uit die EU onttrek. Ingevolge die huidige ooreenkoms betaal Suid-Afrika nie invoertariewe nie vir ʼn groot aantal produkte. Sou invoerbelasting ingevolge ʼn nuwe ooreenkoms gehef word, kan dit SA produkte in Brittanje duurder maak as dié van lande soos byvoorbeeld Australië.

“Hulle (die Verenigde Koninkryk) sal nie noodwendig die ooreenkoms wíl verander nie, maar daar is baie lande met wie hulle die onderhandelingspaadjie moet loop,” het Harris gesê.

Britte het in Junie 2016 in ʼn referendum besluit of die Verenigde Koninkryk deel van die Europese Unie moet bly, of nie. Diegene wat ten gunste van die onttrekking gestem het, het met 51,9% van die stemme teenoor 48,1% gewen. Die Britse parlement het sedertdien – sonder sukses – probeer om ʼn ooreenkoms aan te gaan oor hóé die onttrekking gedoen moet word.

Die BBC berig soos sake nou staan, gaan Brittanje die unie Vrydag verlaat, of daar nou ʼn ooreenkoms aangegaan word of nie. Brittanje kán Brexit kanselleer, maar dit sal ʼn verandering in wetgewing noodsaak, iets wat nie deur die regerende party óf die opposisie voorgestaan word nie.

Die grootste rede vir die aangaan van ʼn ooreenkoms tussen Brittanje en die EU, is om ʼn gladde onttrekking uit die EU vir sakeondernemings en individue te bewerkstellig. Dit moet die partye ook ʼn kans gee om ʼn permanente handelsooreenkoms aan te gaan.

Sou Brittanje sonder ʼn ooreenkoms onttrek, moet hy onmiddellik alle bande met die EU verbreek. Daar sal geen oorgangsperiode vir die onttrekking uit die unie wees nie, en ook geen waarborg oor burgers se verblyfreg nie.

Die regering vrees dit gaan grootskaalse ontwrigting aan sake veroorsaak, met vragmotors wat byvoorbeeld by grensposte aan nuwe maatreëls onderwerp gaan word en lang toue gaan veroorsaak. Koshandelaars het gewaarsku teen ʼn tekort aan vars produkte, terwyl die Nasionale Gesondheidsdiens reeds medisyne ophoop ingeval voorraad uit EU-lande opgehou word, het die BBC berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

May was glo aanvanklik ‘n teenstander van Brexit en sy onderhandel bra halfhartig, maar dit gaan haar duur te staan kom want Brittanje gaan geboelie word as hulle nie Brexit nie waarna haar exit sal volg. En dan gaan almal haar èèrs kwalik neem.

George in Bloem ·

Van ‘n wereldmoondheid en koloniale supermag tot ‘n eensame eilandjie in minder as ‘n 100 jaar. Oom Siener se voorspellings oor Brittanje was 100% in die kol. Hulle sondes oor dekades en hulle onregte wat hulle teen verskeie nasies gepleeg het is besig om hulle in te haal. Ek moet se dit verskaf my groot plesier veral as gevolg van hulle goedkeurende stilswye oor plaasmoorde en ook ander dinge wat hierdie korrupte onbevoegde rassistiese ANC regering deesdae in SA mee besig is.

estelle ·

verduidelik asseblief vir my hoekom britse volk
gestem het om uit te tree ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.