Breytenbach-aanklag ʼn ‘desperate politieke foefie’, sê DA

Glynnis Breytenbach

Glynnis Breytenbach

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se vervolging van DA LP Glynnis Breytenbach is ʼn “desperate misbruik van die regstelsel” om aandag van die NVG se probleme af te lei, het die DA gesê.

James Selfe, federale uitvoerende voorsitter van die DA, het gesê hulle neem kennis van die aanklagte wat onverwags teen Breytenbach aanhangig gemaak is. “Ons neem ook kennis van Stone Sizani, ANC-hoofsweep, se verklaring oor die saak. Dit is ʼn desperate misbruik van die regstelsel dié om die aandag af te lei van werklike kwessies wat ons vervolgingsgesag in die gesig staar,” het hy gesê.

Selfe het gesê die ANC skaar hom by die NVG in die inspan van ʼn “goedkoop politieke foefie om sy eie rekord van bedenklike karakters weg te steek”. “As die ANC ernstig is oor Breytenbach, moet hy die daad by die woord voeg en optree teenoor die mense in sy eie geledere, met hul eie oortredings, wat deur verskeie groepe ondersoek word,” het hy gesê.

Die NVG het Saterdag gesê dat Breytenbach vervolg sal word vir haar beweerde oortreding van die nasionale vervolgingsgesagwet. Die aanklagte hou glo verband met ʼn voorval in 2012 toe Breytenbach na bewering geweier het om haar skootrekenaar in te handig en glo ná ʼn ondersoek bewyse teen haar van die rekenaar gevee het.

“Die aanklagte teen Breytenbach is reeds deeglik deurgetrap in dissiplinêre verhore teen haar wat gelei het tot haar onskuldigbevinding. Nou, drie jaar later, wil die NVG die saak wat reeds afgehandel is weer oopvlek,” het Selfe gesê.

“Die ANC en die NVG weet dat die DA ʼn sterk saak teen Nomgcobo Jiba, die nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, het en nou raak die NVG paniekerig en probeer die nasie se aandag aftrek van ʼn NVG-baas wat onbekwaam is om sy pos te beklee.”

Sizani het Sondag in ʼn verklaring gesê die NVG sal nie ʼn besluit om Breytenbach te vervolg ligtelik opneem nie. “Daarom is die DA se bewering dat die vervolging polities gemotiveer is net ʼn desperate reaksie in ʼn vernederende situasie wat deur die optrede van een van die party se senior LP’s veroorsaak is,” het hy gesê.

Sizani het ʼn beroep op die DA gedoen om Breytenbach onmiddellik te skors totdat die hofverrigtinge afgehandel is.

Breytenbach sal Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DPJ ·

Sies ANC met julle kinderantige vervolging nes soos die twee UT se twee studente.

Flippie ·

Die regering (ANÇ) misbruik staatsinstellings soos die polisie, NVG en sommige regters en magistrate om hulle agendas te dryf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.