Breytenbach en prokureur in beskuldigdebank

Advokaat Glynnis Breytenbach. Foto: Werner Beukes/Sapa

Advokaat Glynnis Breytenbach. Foto: Werner Beukes/Sapa

DA-LP Glynnis Breytenbach en haar prokureur, Gerhard Waggenaar, het Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn op twee aanklagte van dwarsboming van die gereg en vier aanklagte van oortreding van die nasionale vervolgingsgesagwet.

Breytenbach en Waggenaar is albei op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Raymond Mathenjwa, die staatsaanklaer, het gesê die staat het aansoek gedoen dat die verhoor tot 16 Maart uitgestel word sodat ʼn landdros aangewys kan word om die saak te verhoor.

Die aanklagte hou verband met ʼn voorval in 2012 toe Breytenbach na bewering geweier het om haar amptelike skootrekenaar in te handig en glo bewyse van die rekenaar gevee het toe daar ʼn interne ondersoek teen haar aan die gang was.

Breytenbach het haar vroeg Maandagoggend by die Pretoria Sentraal-polisiestasie aangemeld waar sy formeel aangekla is. Breytenbach en Wagenaar is vlugtig in die selle aangehou voordat hulle in die hof voor landdros Karel Bosch verskyn het.

Breytenbach het deurentyd kalm voorgekom en soms gelag terwyl sy met haar regsverteenwoordiger, Mike Hellens, gepraat het. Mathenjwa het ʼn lys van staatsgetuies aan die hof oorhandig. Bosch het die beskuldigdes gemaan om geen kontak met mekaar of enige getuies te hê nie.

Die NVG het vroeër gesê hulle het in 2012 ʼn saak teen Breytenbach by die polisie begin en die dossier is onlangs aan hulle oorhandig. Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, het gesê daar is ʼn prima facie-saak teen Breytenbach.

Breytenbach is destyds uit die NVG geskors terwyl aanklagte van beweerde wangedrag teen haar ondersoek is. Sy is in 2013 vrygespreek van die 15 aanklagte teen haar, maar die NVG het haar uit haar pos as streekshoof van die eenheid vir gespesialiseerde kommersiële misdade geskuif. Sy het kort daarna bedank en die DA se woordvoerder van justisie geword.

Sy het nog altyd volgehou dat haar skorsing by die NVG verband gehou het met haar besluit om bedrog en korrupsieaanklagte teen die polisie se geskorste misdaadintelligensiehoof, Richard Mdluli, te ondersoek.

Ten tyde van Breytenbach se bedanking is ʼn verslag, waarin Breytenbach van bedrog en korrupsie beskuldig word, aan Mxolisi Nzaxana, die nasionale direkteur van openbare vervolging, oorhandig. Volgens die verslag het Breytenbach geld van aanklaers in die sake wat sy hanteer het, ontvang en geleen.

Die DA het oor die naweek gesê die aanklagte teen Breytenbach is polities gemotiveer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

m ·

Ja hoe dan nou anders. Hulle sal altyd iets soek om haar mee aan te kla.

FC ·

As daar niks was om weg te steek, hoekom het sy die leers op die rekenaar uitgevee ?
Ek stem dat dit ‘n heksejag is. maar sy het vir hulle die petrol gegee om die vuur te begin.

Martin ·

Is my vraag ook. Waar ‘n rokie trek moet ‘n vuurtjie brand.

Piet Snot ·

Martin, dink bietjie oor jou stelling. Besef jy hoe lasterlik dit is?
Ag nee, man,

DPJ ·

3-4 jaar na ondersoek en die feit dat sy departementeel onskuldig bevind is spreek boek dele,
Ek hoop nou as sy onskuldig bevind word daar ‘n siviele eis van haar sal volg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.