Breytenbach: Hofuitspraak in 2018 gelewer

Advokaat Glynnis Breytenbach. Foto: Werner Beukes/Sapa

Glynnis Breytenbach, voormalige staatsaanklaer en DA-LP, sal eers in 2018 haar lot hoor oor die aanklagte van onder meer dwarsboming van die gereg teen haar.

Breytenbach en haar voormalige prokureur, Gerhard Wagenaar, staan tereg op aanklagte van oortreding van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag nadat hulle na bewering werksverwante dokumente versnipper en private dokumente van haar werkrekenaar afgevee het.

Landdros Brian Nemavhidi het nadat hy slotbetoë aangehoor het gesê hy sal op 28 Februarie 2018 uitspraak lewer in dié saak.

Adv. Raymond Mathenjwa, die staatsaanklaer, het vir byna twee uur aangevoer dat Breytenbach en Wagenaar die wet bewustelik oortree het. “Hulle het geweet dit is ʼn kriminele oortreding, maar hulle het voortgegaan om die dokumente uit te wis. Hulle het gekies om teen die wet te gaan,” het Mathenjwa gesê.

Breytenbach het vroeër gesê sy het dokumente op haar skootrekenaar gewis om haar privaatheid te beskerm.

Breytenbach het herhaaldelik verduidelik sy het nie enige kriteria gebruik toe sy die lêers uitgewis het nie. Sy beweer sy het net dit uitgewis wat sy geglo het haar privaatheid skade sou berokken. Sy het ook gesê sy was versigtig vir die NVG in geval hulle met die inhoud op haar rekenaar sou peuter of dit sou manipuleer nadat sy die rekenaar ingehandig het. Mathunjwa het kapsie gemaak teen Breytenbach se getuienis en gesê dit was onmoontlik vir haar om dokumente te wis as sy nie gekyk het wat sy wis nie.

Mathenjwa het gesê volgens bewyse wat vroeër aan die hof voorgelê is, was daar meer as 41 lêers op die skootrekenaar, maar Breytenbach het ʼn kenner aangestel om 13 lêers permanent uit te wis. Die dokumente hou verband met ʼn saak oor mynregte waarby Imperial Crown Trading (ICT) en Kumba Iron Ore-filiaal, Sishen Iron Ore, betrokke is.

“Hierdie is die data wat hulle onttrek het en dit is wat hulle beskerm het,” het Mathunjwa gesê.

Mathunjwa het verder gesê dit maak nie sin dat die twee beskuldigdes beweer hulle het nie die dokumente gesien voordat hulle dit gewis het nie, maar toevallig is die belangrikste dokumente gewis.

Barry Roux, vir Breytenbach, het gesê sy kliënt het as ʼn NVG-beampte die reg gehad om die dokumente te wis. “Werknemers doen dit die hele tyd, hulle wis e-posse, dokumente en korrespondensie,” het Roux gesê.

Volgens Roux kon die staat nie daarin slaag om te bewys dat die beskuldigdes met opset onwettig opgetree het toe hulle dokumente versnipper het nie.

Behalwe vir die dokumente wat Breytenbach glo versnipper het omdat sy dit as privaat geag het, het sy ook ʼn kopie van die inhoud van haar rekenaar laat maak in geval van manipulasie nadat sy die rekenaar oorhandig het.

Breytenbach is in 2012 uit die NVG geskors. Sy is onskuldig bevind op verskeie dissiplinêre aanklagte teen haar, maar het in 2014 uit die NVG bedank. Sy glo haar skorsing in April 2012 was ʼn poging om haar te verhoed om lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, te midde van politieke inmenging te vervolg.

Landdros Brian Nemavhidi het in Junie vir Breytenbach en Wagenaar vrygespreek op twee aanklagte van dwarsboming van die gereg wat verband hou met die uitwissing van inligting op haar NVG-rekenaar terwyl sy in 2012 geskors was.

Die twee staan egter steeds tereg op vier oorblywende aanklagte van ʼn gedeelte van die NVG-wet, wat ongemagtigde toegang tot en wysiging van amptelike rekenaarinhoud verbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.