Breytenbach: ‘Jiba was nie geskik vir NDOV’

Glynnis Breytenbach, voormalige aanklaer, Dinsdag by die Mokgoro-kommissie van ondersoek. Foto: Verskaf (ANA)

Glynnis Breytenbach, voormalige aanklaer, het Dinsdag aan die Mokgoro-kommissie van ondersoek gesê Nomgcobo Jiba, die geskorste adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging, het nie die vaardighede of ervaring om as waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) aangestel te word nie.

Afgetrede regter Yvonne Mokgoro staan tans aan die hoof van die kommissie wat ondersoek instel na die geskiktheid van voormalige senior Nasionale Vervolgingsgesag (NVG)-amptenare om hul amp te beklee.

Breytenbach het vandag getuig oor haar werksverhouding met Jiba en Lawrence Mrwebi, die geskorste spesiale direkteur van openbare vervolging. Sy het gesê sy was verbaas toe Jiba van haar posisie as direkteur van openbare vervolging na adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging bevorder is nadat sy van haar skorsing af teruggekom het. Net ʼn jaar later is sy as waarnemende NDOV aangestel.

“Sy was nie juis produktief om sake gereed te kry vir die hof nie. Ek het die idee gekry sy was uit die ding uit terwyl sy geskors was en het tyd nodig gehad om weer op die hoogte van sake te kom. Jiba het nie die vaardighede of die ervaring gehad om die amp van waarnemende NDOV te beklee nie,” het Breytenbach gesê.

“Sy het nie die nodige ervaring gehad nie en ek het bedenkinge oor haar integriteit gehad. Ek was beslis van mening dat sy nie die nodige lewenservaring gehad het nie. Sy het nooit enige iets in die NVG gedoen wat so fenomenaal was dat dit dié bevordering, bo mense wat na my mening meer bevoeg was, regverdig het nie.

“Jy kort meer lewenservaring en onkreukbare integriteit,” het Breytenbach gesê.

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Sy het gesê daar was baie omstredenheid rondom Jiba, insluitend die opgemaakte aanklagte teen voormalige aanklaer Gerrie Nel, asook haar betrokkenheid in die saak van die voormalige nasionale polisiekommissaris, wyle Jackie Selebi.

Jiba en Mrwebi is voor die kommissie geroep ná verdoemende uitsprake teen hulle, insluitend dat hulle Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, op aanklag van rampokkery vervolg het sonder enige bewyse en dat hulle moordaanklagte teen Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie, laat vaar het.

Mdluli het tereg gestaan vir die moord op ʼn kêrel van sy eksmeisie, maar die aanklagte is uit die bloute teruggetrek.

Mdluli is ook aangekla van bedrog nadat hy twee BMW’s gekoop het met ʼn lening van Atlantis Nissan, die maatskappy wat voertuie vir misdaadintelligensie voorsien het. Dié aanklag is ook teruggetrek op grond van kwessies wat verband hou met veiligheid‑ en intelligensiebekommernisse.

Mokgoro het Breytenbach gevra of sy dink Jiba het swak besluite oor die Mdluli-korrupsiesaak geneem weens onervarendheid. “Ek dink nie so nie. Ek sou graag wou sê dit is die rede, maar ek dink die redes was bedrieglik,” het Breytenbach gesê.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Spike ·

Nogal adv. Gmf, daar is nie veel comrades en kaders wat geskik is vir hul poste.

Regverdigheid ·

Dalk sal geregtigheid nou vir Adv Glynis dalk ook geskied!
Glynis is n top advokaat en n Groot verlies vd NVG!!

christa ·

daar is seker 90% wat nie geskik is vir die pos waarin hulle sit nie. Geskik vir skelmstreke ja

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.