Brian Molefe, Anoj Singh in hof oor Transnet-korrupsie

Brian Molefe (links) en Anoj Singh (Foto’s: ANA)

Voormalige uitvoerende hoofde van Transnet, Brian Molefe, Anoj Singh, Siyabonga Gama, Garry Pita en Phetolo Ramosebudi het Vrydag in die Johannesburgse hooggeregshof verskyn op aanklag van oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) en bedrog.

Saam met hulle in die hof was Regiments Capital-direkteure Niven Pillay en Litha Nyhonhya, Trillian Asset Management se direkteur Daniel Roy (Novum Asset Management), en Kuben Moodley, die eienaar van Albatime Pty Ltd.

“Die saak is tot 11 Oktober 2024 uitgestel om die hofdatum te bepaal,” sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat.

Alle partye het ooreengekom dat die staat teen 17 September 2024 sal reageer om verdere besonderhede aan die verdediging te oorhandig.

“Die staat het beswaar aangeteken teen adv. Shaun Abrahams se verteenwoordiging van Brian Molefe in die saak. Hy was die nasionale direkteur van openbare vervolging toe ʼn strategie saamgestel is om die saak te vervolg. Regter Mohamed Ismail het albei partye beveel om die kwessie binne twee weke op te los.”

Die groep staan tereg op aanklag van bedrog, korrupsie en geldwassery. Dit spruit uit ʼn tender wat in 2012 aan die McKinsey-geleide konsortium toegeken is om 1 064 lokomotiewe ten bedrae van meer as R54 miljard aan te skaf.

Regiments Capital het onreëlmatig by die kontrak betrokke geraak en voordeel getrek uit Transnet se onregmatige aanstelling. Die kontrak se waarde is verhoog met meer as R305 miljoen.

Hierdie ooreenkoms het, onder meer, die verkryging van die China Development Bank-lening en die Klublening ingesluit wat destyds ’n bedrag van $2,5 miljard (destyds R30 miljard) beloop het.

Die beskuldigdes staan ook tereg op aanklagte wat verband hou met die R93,4 miljoen wat in 2015 aan Trillian Asset Management betaal is.

“Die NVG se ondersoekdirektoraat sal verseker dat diegene wat na bewering verantwoordelik was vir staatskaping, aanspreeklik gehou word.”

Al die beskuldigdes sal na verwagting in Oktober weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Yvonne ·

Ek hou nie my asem op nie….deel van die verkiesings strategie…ek wonder

Danie ·

Ek lees nie dat daar op enige geld of eiendom beslag gele is nie.Leef lekker voort en hul hofsaak word deur die staat befonds.

SjN ·

Het Brian al sy miljoene terug betaal soos die hof beveel het?

Papsak ·

Waarom stel hulle die sake solank uit handel die goed af stuur tronk toe en laat hulle hul straf gaan uit dien ???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.