Die Suid-Afrikaanse nasionale ruimte-agentskap (Sansa) en die Russiese federale ruimte-agentskap (Roscosmos) het Dinsdag tydens die BRICS-beraad in Durban ʼn ooreenkoms geteken vir die gesamentlike gebruik van die RadioAstron-ruimtesatelliet.
“Hierdie ooreenkoms bevestig die strategiese rol wat ons kan speel in die gebied van die globale ruimtewetenskap en -tegnologie as gevolg van ons geografiese ligging in die suidelike halfrond en bied ook ‘n geleentheid om ruimtewetenskap en -tegnologie te gebruik om tot sosio-ekonomiese ontwikkeling by te dra,” het Derek Hanekom, minister van wetenskap en tegnologie, gesê.
In 2006 het die Suid-Afrikaanse en Russiese regerings ‘n ooreenkoms onderteken om saam te werk met die verkenning en gebruik van die buitenste ruim vir vreedsame doeleindes. Dié ooreenkoms het die weg gebaan vir die RadioAstron-ooreenkoms.
Roscosmos het die RadioAstron-satelliet in Julie 2011 gelanseer. Dit dra ‘n radio-teleskoop wat beelde en koördinate verkry van verskeie voorwerpe wat radiogolwe afgee.