Brics-beraad: Poetin kom glo; SA ‘bespreek nog’ lasbrief

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Grigory SYSOYEV / SPUTNIK / AFP)

Terwyl die Suid-Afrikaanse regering steeds samesprekings voer rakende die Internasionale Strafhof se lasbrief vir pres. Wladimir Poetin, het die Russiese leier glo sy bywoning van die Brics-beraad in Suid-Afrika bevestig.

Prof. Anil Sooklal, Suid-Afrikaanse ambassadeur by Brics, het bevestig dat Poetin die uitnodiging na die Brics-beraad aanvaar het.

“Pres. [Cyril] Ramaphosa het uitnodigings aan al vier Brics-leiers gestuur. Al die lande, insluitend pres. Poetin, het die uitnodiging aanvaar en sien almal uit om persoonlik die beraad in Augustus in Suid-Afrika by te woon,” het Sooklal in ’n onderhoud met die Indiese nuuskanaal Wion bevestig.

Ramaphosa het Donderdag tydens ’n mediakonferensie by die Uniegebou bevestig al die Brics-leiers is wel genooi, maar daar word nog gewag op bevestiging van hul bywoning en dat die saak dus steeds onder bespreking is.

Die Suid-Afrikaanse regering, wat noue bande met Rusland het, word deur ’n diplomatieke dilemma in die gesig gestaar rakende die lasbrief.

Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die Statuut van Rome en daar sal verwag word dat Poetin in hegtenis geneem word sodra hy in die land aankom.

’n Oekraïense Nobelpryswenner vir vrede het vroeër die week ’n beroep op Suid-Afrika gedoen om nie vir Poetin toe te laat om die Brics-beraad by te woon nie.

Oleksandra Romantsova, die hoof van ’n nieregeringsorganisasie wat verlede jaar die wenner van Oekraïne se eerste vredesprys geword het, het die Suid-Afrikaanse regering versoek om “ons te wys dat hulle omgee”.

“Vir ons is Suid-Afrika ’n plek waar mense veg vir vryheid, gelykheid en waardigheid,” het Romantsova, wat in Suid-Afrika was om steun vir Oekraïne te werf, tydens ’n media-inligtingsessie in Johannesburg gesê.

As Poetin hierheen sou kom en nie in hegtenis geneem word nie, sal dit “’n groot teleurstelling wees”, het sy gesê.

Romantsova het voorgestel dat die Russiese president die Brics-beraad via Zoom bywoon of ’n minister stuur wat nie deur die Internasionale Strafhof gesoek word nie.

Romantsova het na Suid-Afrika gekom as deel van ’n afvaardiging bestaande uit akademici en niewinsgewende organisasies en het met senior amptenare by die Suid-Afrikaanse departement van buitelandse sake vergader, maar is glad nie tegemoetgekom deur die regerende ANC nie.

“Ons probeer om (die ANC) te ontmoet en vir my is dit verbasend dat dit so moeilik is om so ’n vergadering te reël,” het Olexiy Haran, ’n ander lid van die afvaardiging en ’n politiekprofessor aan die National University of Kyiv-Mohyla Academy in Kiëf, gesê.

Suid-Afrika weier om Rusland se inval van Oekraïne, wat Moskou grootliks op die internasionale verhoog geïsoleer het, te veroordeel, en sê hy wil neutraal bly en verkies dialoog om die oorlog te beëindig.

Suid-Afrika het ook vroeër vanjaar gesamentlike militêre oefeninge met China en Rusland gehou.

Die DA het versoek dat Poetin in hegtenis geneem moet word indien hy na Suid-Afrika kom en dat die Internasionale Strafhof die regering moet dwing om dit te doen.

Die SAKP het die regering egter versoek om die Russiese leier te verwelkom en eerder aan die Internasionale Strafhof te onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

muffin ·

daai is duister lewe van die boek tussen hulle waarvan ons publiek nie mag weet nie

Harley Davidson ·

Die regime sal hom toelaat maar Israel word hand en tand beveg ,want soort soek soort.

LRJIMS ·

Genesis 12v3 I will bless those who bless you, and him who dishonors you I will curse, and in you all the families of the earth shall be blessed.”

Johanna ·

Hoe kan die pres.dink. net so kommunis soos hy. Ons wat nog glo moet net vertrou. Ons God slaap nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.