Brics-beraad sál in SA gehou word

Naledi Pandor, minister van buitelandse sake, tydens die Brics-konferensie in Kaapstad. (Foto: Jacoline Schoonees/ Dirco)

Die Brics-beraad sal steeds in Augustus in Suid-Afrika gehou word, ondanks gerugte dat dit dalk weens die Russiese president, Wladimir Poetin, se verwagte teenwoordigheid elders heen kan skuif.

Naledi Pandor, Suid-Afrika se minister van buitelandse sake, het Donderdag bevestig dat die beraad in Johannesburg sal voortgaan en dat Poetin, vir wie ʼn lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik is, inderdaad na die beraad genooi is.

“Ons kyk tans na regsopsies,” het Pandor gesê.

Die minister en ander diplomate van Brics-lande vergader vandeesweek in Kaapstad as deel van ʼn twee dae lange konferensie.

Pandor het egter nie verder oor die Poetin-saak uitgewei nie en op toenemende vrae oor sy moontlike besoek tydens ʼn nuuskonferensie geantwoord: “Gee dit julle slapelose nagte om daaroor te dink?”

Maroela Media het vroeër berig dat daar van Suid-Afrika verwag sal word om Poetin in hegtenis te neem sou hy na Suid-Afrika reis. Dit volg nadat die Internasionale Strafhof ’n lasbrief vir die Rus se inhegtenisneming uitgereik het vir beweerde oorlogsmisdade in die stryd teen Oekraïne.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het wel gesê dat geen mens teen wie daar ’n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik is, ingevolge die Wet op Diplomatieke Immuniteit en Voorregte beskerming geniet nie – insluitend Poetin.

Dirco se stelling het gevolg ná ’n kennisgewing wat in die Staatskoerant gepubliseer is oor diplomatieke immuniteit en voorregte aan diplomate wat vandeesweek se Brics-vergaderings en later ook die beraad sal bywoon, groot verwarring veroorsaak het.

Naledi Pandor, Suid-Afrika se minister van buitelandse sake, en Mauro Vieira, Brasilië se minister van buitelandse sake, tydens die Brics-konferensie in Kaapstad. (Foto: Jacoline Schoonees / Dirco)

Die DA het in die lig hiervan ’n aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien om ’n verklarende bevel te verkry wat die Suid-Afrikaanse regering eindelik sal dwing om die Rus in hegtenis te neem as hy die land binnekom.

Oop vir uitbreiding

Benewens die Poetin-saak het die Brics-groep Donderdag aangedui dat hulle “oop is vir die idee om nuwe lede by Brics te verwelkom” aangesien die groep ʼn groter stem op die internasionale verhoog nastreef.

Buitelandse ministers van die vyfnasiegroep wat uit Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika bestaan, het ʼn beroep op die “herbalansering van die internasionale bestel” gedoen. Die konferensie is tot dusver grootliks deur die konflik tussen Rusland en Oekraïne oorskadu.

“Ons samekoms moet ʼn sterk boodskap na buite stuur dat die wêreld meer as een pool het en besig is om te herbalanseer. Ou maniere kan nie nuwe situasies takel nie,” het Indië se minister van buitelandse sake, Subrahmanyam Jaishankar, gesê.

“Ons is ’n simbool van verandering en moet daarvolgens optree.”

Sedert Rusland Oekraïne meer as ʼn jaar gelede ingeval het, is die land grootliks van die internasionale verhoog vervreem. Dit het Rusland genoop om nouer bande met lande soos China te smee.

Ministers tydens die Brics-konferensie in Kaapstad. (Foto: Jacoline Schoonees/ Dirco)

Sergei Lavrov, Rusland se minister van buitelandse sake, het tydens die konferensie aangevoer dat meer as 12 lande, ook Saoedi-Arabië, belangstelling toon om deel van Brics te word.

Adjunkminister Ma Zhaoxu van China het tydens ’n mediakonferensie gesê voornemende lede se aansoeke word verwelkom.

“Ons verwag meer lande om by ons groot familie aan te sluit.”

Terwyl die konferensie en samesprekings plaasgevind het, het betogers buite die hotel waar dit gehou is, saamgedrom. Hulle het plakkate vasgehou wat onder meer gelui het “Stop Poetin, stop die oorlog”.

Ander plakkate het Lavrov as ʼn “kindermoordenaar” uitgekryt.

’n Oekraïense vrou, Dzvinka Kachur, het buite die hotel aan AFP gesê dit is moeilik om te sien hoe Suid-Afrika, “wat so ’n sterk standpunt oor kinderregte inneem”, bladskud met iemand soos Lavrov wat “deel is van sistemiese oorlogsmisdade teen kinders in Oekraïne”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Cherokee ·

Pandor..“Gee dit julle slapelose nagte om daaroor te dink?”
Cherokee.. “Nee Pandor, ons lag vir die lokale Putin-aanhangers, en om eerlik te wees, skaam ons vir hulle.”

Gaitsigubib ·

Ek sien ek mag nie vra waarom Putin- aanhangers hul moet skaam nie, en dat Zelensky aanhangers hul kaarblyklik dan nie hoef te skaam nie. Ek vind dit vreemd. Albei kampe is lus vir oorlog maar wil nie graag gaan help baklei nie. In die week berig MM dat Putin geslagsverandering operasies verban. Ek het gevra of dit n rol speel m.b.t jou skrywe, of mag net die media oor so onderwerp praat?

Gaitsigubib ·

Jy het werklik die mees sinvolle kommentaar. Ek dink ek ken nogal die geskiedenis, van die Crimea Oorlog in die 1850’s, die dood van die Russiese Tsar en die Bolsheviks tot die staatsgreep van 2014. As mense sulke sterk opinies het glimlag ek maar soms net want hulle weet gewoonlik (nie altyd nie) niks. Die kruks is dat Kallie Kriel (en jy) reg is as hy se vir eens moet die Afrikaner homself hier uit hou.

Gert ·

Duidelik is mense onbewus dat Putin en Zelenski in maand twee van die oorlog sou praat oor versoening maar Nato het vir Borris Johnson van Britanje gestuur om die vredes ooreenkoms te stop.

Dirk ·

So jy net soos die ANC en EFF ondersteun die moord op onskuldige mense en die vernietiging van ‘n land. Jy net soos die ander kampstige Suid-Afrikaners wat Putin ondersteun is absoluut siek in die kop.

Republikein in die Wes Kaap ·

Poetin is die ware leier van die vrye Christelik konserwatiewe wêreld wat tradisionele waardes verdedig en neo-Nazis wil uitwis.Nou word hy aangeval deur mense met vreemde idees. Hy laat my dink aan die egte Afrikaner leiers van die 19de eeu.

Daisy ·

Poetin is verantwoordelik vir die dood van duisende mense – Oekraniers en Russe, asook die verplasing van duisende mense – klink nie vir my na ‘n ware leier nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Russiessprekers in die Donbas is tevrede en veg aan Rusland se kant. Sal ons gesels oor VSA en sy pelle se vergrype in Viëtnam, Irak, Serwië, Libië en Afghanistan om net ‘n paar te noem? Selfs die dood van 200 000 kinders in Irak word afgemaak as die moeite werd. Indien Poetin niks doen nie sal miljoene Russe sterf en sy land versnipper word.

Skim ·

Indien SA Poetin nié in hegtenis neem nie, gaan die res van die wêreld finaal hul rûe op ons draai. Die laaste spyker in die doodskis…

Marthinus W ·

Wie is “die res van die wereld”? Poetin het baie steun regoor die aardbol, op elke vasteland. Indien ons Poetin sou arresteer, dink jy die Russe gaan dit aanvaar?

Prinses Bella ·

Sal interressant wees om te sien hoe reageer Indië en China daarop dat al hulle burgerlike afstammeling in SA onder nuwe wetgewing uit hulle poste geskop gaan word… praat van die ANC wat bollie op hulle eie voorstoep.

Riaan ·

Indien die SA regering eenvoudig ‘n lasbrief kan ignoreer, hoekom nie die gewone man op straat ook nie. Wat gaan die implikasies wees indien SA nie vir Putin arresteer nie, en sien die regering kans daarvoor.

OW ·

Ek twyfel of Putin die berraad sal bywoon.Allan Winde van die Weskaap sien kans om as provinsiale regering vir Putin in hegtenis te neem.Hy leef in ‘n droom wêreld as hy dink dit sal rialiseer.

SjN ·

Dom vraag, as daar reeds n lasbrief vir inhegtenisname uitgereik is, hoekom eers wag dat hy na SA kom?

Kobus ·

Net solank ANC al die glans en glorie kan geniet sal hier niks van kom nie. En Putin toets natuurlik sy lojale vriende

Gert ·

Lag ek nou so lekker….” Hulle het plakkate vasgehou wat onder meer gelui het “Stop Poetin, stop die oorlog”. Duidelik is hulle onbewus dat Putin en Zelenski in maand twee van die oorlog sou praat oor versoening maar Nato het vir Borris Johnson van Britanje gestuur om die vredes ooreenkoms te stop. Hulle het Zelenski oortuig dat Nato hom sal help om Putin te oorwin. So word daar wapens op groot skaal vervaardig en verskaf aan Oekranie. Follow the money…mense.

Anna-marie ·

Duidelik is die mense onbewus van die Minsk 1 en later die Minsk 2 ooreenkoms wat Putin aangebied het om die konflik tussen Rusland en Ukraine by te lê. Mense is ook onbewus daarvan dat Frankryk en Duitsland dit onderteken het maar agteraf gesê het(Merkle) dat hulle dit net geteken om tyd te wen, nie omdat hulle by die ooreenkoms wou hou nie.

Amelia ·

En as die paw paw die fan strike wie gaan daar onder ly nie die anc of pandor nie hul sal 1ste vliegtuig haal rusland of china toe anc moet n plek he om heen te gaan (het rusland nie dalk wapens aan anc voorsien in ruil vir goud nie)

Althes ·

Gelukkig sal hul arrogansie ook tot ñ end kom. Niks is verewig nie. Soos grassade in die wind sal hul op bar klip val en nooit weer ontkiem tot so iets monsteragtig nie.

RS ·

Die land het nie eens n weermag om hom te help nie. Praat van poep teen donderweer.

Wondermaarnet ·

Al waaraan dit kan dink is die vretery wat gepaardgaan met hierdie “so called beraad”.

piet ·

Moet se dat hierdie geflikflooi van sekerere Afrikaners met Rusland en Putin en ondersteuning van die Russiese aanval, is vir my baie interessant veral gesien in die lig van die ou konserwatiewe Apartheidsregering se vyandelike houding teenoor Rusland, die weersin in kommunisme, ens. Werklik interessant.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy verwar nou die moderne Rusland met die ou USSR (ingesluit Oekraïne) wat in 1991 ontbind is. En Imperiale Rusland het die ZAR en Oranje Vrystaat gesteun in die stryd teen Brittanje. Daai lojaliteit sal sekere Afrikaners nooit vergeet nie. Ons staan by ons vriende wat nou deur die Weste bedreig word.

Michael ·

Dit behoort nie vreemd te wees dat van ons ou konserwatiewes Rusland ondersteun nie. Daars genoeg betroubare inligting en bewyse dat die VSA en die Demokrate nou uit en uit kommunisties is. Putin veg juis teen die vervalle morele beleid van die Weste. Biden en die Weste saam met Zelenko is die oorlogsmisdadigers. Doen gerus jou eie navorsing

Marthinus W ·

Piet, dit word realisme genoem. Jy evalueer n situasie volgens huidige feite. Gedurende die Boereoorlog het massas Russe in St Petersburg saamgedrom ons die Boere te ondersteun. Poetin is n groot aanhanger van n man wat aan Boerekant geveg het. Daar is al n paar studies gedoen, met die vraag, “Wat sou gebeur het indien die Bolsjewiste nie aan bewind gekom het nie?” n Tsaar sou vandag nog op die troon wees, en kommunisme sou wereldwyd nie bestaan het nie.

Papsak ·

Hulle speel met vuur hoekom wg lasbrief uit gereik sluit hom toe hy hoort nie hier hulle het net nie ore

CHRISTINE ·

Voor ons van die ANC ontslae gaan raak, gaan die land ook kommunisties wees en die R20 en R50, bruin munte word.
Ek kan nie glo wat ek sien nie na 2020 want dit is toe die ANC heeltemal mal begin word het van mag en geld en dink hulle kan maak net wat hul wil.

JvR ·

As politiek waar is, en ek twyfel elke dag meer en meer, moet die publiek nou kies. Vat hande met rusland of op die kniee voor amerika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.