Brics: SA ‘passasier op skip van magsblok vyandig teenoor Weste’

(Argieffoto: Gerd Altmann/pixabay)

Die ANC-regering se posisionering as prominente lid van Brics en sy stille diplomasie oor onder meer die Rusland-Oekraïne-oorlog en magsvergrype in buurlande soos Zimbabwe, is nie in die land se belang nie.

Jaco Mulder, die VF Plus se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, sê dit maak van Suid-Afrika ʼn “passasier op ʼn skip van ʼn magsblok wat openlik vyandig teenoor die Weste is en China wil vooropstel in ʼn nuwe magsblok” teenoor die VSA en Europa.

“Pres. Xi Jingping van China is die dryfkrag agter die uitbreiding van die lidmaatskap van Brics wat dit moontlik kan maak vir meer lande om daarvan deel te word. Dit is bloot ʼn manier om sy geopolitieke mag te versterk en ʼn groter koalisie van ontwikkelende lande te bewerkstellig wat Beijing se invloed sal vergroot en opstel teenoor Amerika terwyl die verhouding tussen China en Amerika tans nie goed is nie,” sê Mulder.

Daar is heelwat lande wat belangstelling toon om by Brics aan te sluit, en verskeie lande het reeds formele aansoeke om lidmaatskap ingedien.

Mulder maan egter dat ʼn wesenlike gevaar bestaan dat Suid-Afrika sy gevestigde handelsbetrekkinge met sy grootste handelsvennote in die Weste kan benadeel indien die Brics-groepering – met China en Rusland aan die spits – se verhouding met die VSA as prominentste rolspeler verbrokkel.

“Intussen moet Suid-Afrika sy eie huis in orde kry om ʼn waardige en mededingende rolspeler in Afrika en die internasionale handelswêreld te word.”

Enkele geldeenheid?

(Grafiek: www.gov.za)

Een van die ander maniere om Amerikaanse mag af te water – soos sommige kenners meen die bedoeling met Brics is – is voorstelle om die dollar minder in internasionale handel te gebruik. Daar is selfs sprake van ʼn spesifieke Brics-geldeenheid.

Altesame 74% van internasionale handel vind in hierdie stadium in dollar plaas.

Harry Scherzer, uitvoerende hoof van Forex Future, sê daar was die afgelope ruk druk uit die Ooste om die gebruik van die dollar op een of ander manier te verminder. Dit beteken basies om die dollar minder te gebruik om die VSA se beheer oor internasionale handel te verminder.

Besluite wat die VSA neem, raak dikwels die ganse wêreld. Die besluitnemers is egter mense wat hoofsaaklik, of selfs uitsluitlik, in belang van die Amerikaanse ekonomie optree eerder as met inagneming van die uitwerking wat besluite op die wêreldekonomie het, sê Scherzer.

Met lande soos veral Rusland en China wat die VSA se mag wil wegkalwe, is die moontlikheid van ʼn enkele geldeenheid vir alle Brics-lidlande een van die agendapunte op die beraad wat Dinsdag in Johannesburg begin het.

“ʼn Brics-geldeenheid sal egter geweldig moeilik wees om in te stel en daar gaan enorme uitdagings wees omdat monetêre beleid en rentekoerse moet strook. Dit is nogal taai wanneer jy lande met sulke uiteenlopende bevolkings en ekonomiese omstandighede het,” sê Scherzer.

‘Benut, nie verbrou’

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth, maan ook dat Suid-Afrika nie sy grootste handelsvennote in die Weste moet vervreem nie, aangesien dié verhoudinge noodsaaklik is vir die land se ekonomiese welstand.

“Suid-Afrika het ʼn handelstekort met al die ander Brics-lede terwyl die land se grootste uitvoerbestemmings oorheers word deur nie-Brics-lande. Suid-Afrika moet by van sy mede-Brics-vennote – soos Indië en Brasilië – leer om ʼn meer genuanseerde diplomatieke standpunt te handhaaf,” sê Van Zyl.

Suid-Afrika het verlede jaar ʼn handelstekort van $14,9 miljard aangeteken met sy Brics-vennote; dit is vier keer groter as die tekort wat in 2010 aangeteken is toe hy by Brics aangesluit het.

“Intussen is Suid-Afrika se voorkeurbehandeling ingevolge die Agoa-ooreenkoms in die gedrang weens sy verhouding met Rusland. Brics word verwar met ʼn handelsblok terwyl dit al hoe meer begin lyk na ʼn alliansie teen die Weste,” sê Van Zyl.

Hy meen Suid-Afrika moet die Brics-beraad gebruik om ekonomiese samewerking tussen die groepering te probeer versterk, maar moet terselfdertyd daarteen waak om dit ten koste van ander handelsbetrekkinge en -vennote te doen.

Brics-berade “kom en gaan gewoonlik sonder dat daar veel gewag daarvan gemaak word”, maar in dié geval is die beraad deur verskeie diplomatieke misstappe voorafgegaan wat nou die fokus daarop geplaas het.

Van Zyl sê dit is dus belangrik dat Suid-Afrika die Brics-beraad benut, sonder om sy beleggers af te skrik.

“Pres. Cyril Ramaphosa meen Suid-Afrika se buitelandse beleid berus op die bevordering van menseregte, vrede en stabiliteit, maar terselfdertyd spreek Suid-Afrika hom nie uit teen beweerde vergrype in ander Brics-lande nie. Dit blyk dus ʼn situasie te wees waar Suid-Afrika ʼn draadsitter is en probeer kyk waar hy die meeste kan skep.”

Van Zyl meen dit help veel dat Suid-Afrika lenings kan bekom, maar steeds nie die land se vervallende vervoernetwerk en Eskom kan regruk om ekonomiese groei aan te wakker nie.

“Korrupsie en wanbesteding maak beleggers huiwerig om in Suid-Afrika te belê terwyl politieke onstabiliteit verbruikers- en sakevertroue knou. As die regering nie sy eie huis in orde kry en uit een mond begin praat nie, sal hy aanhou om beleggers af te skrik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Grens ·

Ons moet maar weet, die party aan bewind is kommunisties, en dit is hoe dit gaan wees.

chris ·

Wie dryf tans die NWO,WHO, WEF ens?Die VSA of die Brics lande?Die doelwit bly dieselfde!e !

Republikein in die Wes Kaap ·

Die toekoms van Brics gaan ook die land se interne politieke rigting bepaal.

Bolandse Nooi ·

Nou hoe redeneer jy dan nou ook? Kommuniste is mos anti-kapitaliste? “wat joune is is myne en wat myne is, bly myne”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.