Bridget, die Muizenberg-brug wat trokke ‘eet’

(Foto: Heather Hirschmann via Muizenberg’s Famous Truck-Eating Bridge/Facebook)

Oor die jare het ʼn spoorwegbrug-kruising in Atlanticweg in Muizenberg, Kaapstad, al verskeie slagoffers geëis. Bestuurders wat onseker is oor die hoogte van hul voertuie, is al male sonder tal onder die brug vasgekeer. Dit veroorsaak groot opeenhopings en verkeersvertragings.

In 2016 was daar weekliks minstens een vragmotor of bus wat onder die brug vasgesit het.

Die brug, wat skertsenderwys as “Bridget” of “Biddy” bekendstaan, het intussen selfs haar eie Facebook-blad, Muizenberg’s Famous Truck-Eating Bridge, gekry.

ʼn Sementmenger wat in 2018 die middag omstreeks 15:00 vasgekeer geraak het, is die aand 21:00 eers bevry. Ses kinders moes in Maart 2013 na hospitale geneem word toe hulle bus die brug getref het en kort daarna het twee passasiers, wat agterop ʼn vragmotor gestaan het, kopbeserings opgedoen.

Die brug het ʼn hoogtebeperking van 2,5 meter en daar is talle waarskuwing- en kennisgewingborde om bestuurders oor dié beperking in kennis te stel. Die brug is opgerig voor motors van dié pad gebruik gemaak het en is dus te laag om meeste groot voertuie deur te laat.

Die Kaapstad-stadsraad het in Junie 2016 die eerste 3D-laserstelsel ter waarde van meer as R300 000 in Mainweg geïnstalleer, sowat 150 meter voor Atlanticweg-kruising. Die stelsel gebruik ʼn infrarooi-laserstraal om die hoogte en vrag van ʼn voertuig te bepaal. Indien die voertuig in die draaibaan is en hoër as 2,5 meter van die padoppervlak is, verskyn ʼn waarskuwingflits by die kruising.

Sedert dié stelsel in werking gestel is, het die voorvalle afgeneem na ongeveer twee per maand.

Die botsings veroorsaak egter groot skade aan die stad se infrastruktuur en lei tot onnodige verkeersopeenhopings in die gebied wat ʼn beperkte kapasiteit het vir alternatiewe roetes.

Stad Kaapstad sê verskeie belanghebbendes en lede van die gemeenskap meen die botsings sal bly voortduur totdat maatskappye en bestuurders finansieel aanspreeklik gehou word vir skade aan die stad se infrastruktuur.

Daar is gereeld foto’s van bestuurders wat die lug uit hul bande moet laat nadat hulle vasgekeer geraak het.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jean ·

Sit ‘n struktuur op met kettings net voor die brug teen daai selfe hoogte.

R1ker ·

Glo my – dit werk nie. Ons het dieselfde probleem hier in Kempton Park. Die Elgin brug in Birchleigh eet ook elke week ‘n trokkie of 2. Ons het ‘n paar jaar terug kettings met hol pype voor die brug gesit sodat die “cab” kan raak dat die drywer weet hy gaan nie kan deur kom nie. Hy het daai goed stukkend gery en nog steeds gaan vas sit onder die brug. Daar is al groter waarskuwings borde op gerig maar die drywers let eenvoudig net nie op nie.

JohanR ·

Jean dit is die beste idee. As die bestuurder teen die kettings skuur dan weet hy moes hy kan nie verder nie. Maar ek se ook jy moet lees wat op die brug in groot letters voor jou staan. Jy kan nie net aanploeg nie!

HJvdb ·

Ag tog, plaas van lasers ens….sak die ryvlak met 1m, 100m weerskante van die brug. Langtermyn oplossing teen n koste van ongeveer R 2mil.

Sandra ·

Sal nie werk nie, Sal elke winter oorstroom. Pad is reeds gesak.

Boer ·

Daar is ‘n brug in Kempton Park wat ook gereeld waar trokke onder die brug vassit. Dit is in Elgin Road. Van die fotos lyk so bekend.

R1ker ·

Jip dis waar. Ek bly in Birchleigh. En dit veroorsaak groot chaos met verkeer.

Perdeby ·

Want hulle weet nie wat die hoogte van hulle trokke is nie, en kan nog minder lees wat op die brug lewens groot op gesit is nie.

Sêmaarnet ·

Kan die Stad nie maar net ‘n teken opsit wat sê: Slegs motorkarre en bakkies? Of: Geen swaarvoertuie?

R1ker ·

Weet nie of dit sal werk nie. Mense steur hulle mos glad nie meer deesdae aan verkeers reels nie

VaalDonkie ·

Dis nie net van “moenie onderdeur die brug ry” nie. Daai pad vat jou van waar jy is, tot waar jy wil wees. En nie almal wat daar ry weet waar die alternatiewe roetes is nie. Daar is net een nou straatjie daar naby waar trokke kan verbyry, en as hulle dan in ‘n motor vasry, dan is daar weer drama daaroor ook.

Ek besit nie eens ‘n trok nie en selfs ek het ‘n bietjie simpatie met die ouens. Gaan kyk maar self op Google Maps hoe lyk die paaie daar.

Janine ·

Dis seker maar wat gebeur as jy jou lisensie ‘koop’. Ek meen, werklikwaar! Jy moet tog weet hoe hoog jou voertuig is!

Asgat ·

Wel as daardie brug in vandag se tyd gebou was, het die hele brug in mekaar geval toe die eerste trok in hom vas ry….

Jackie ·

Die trok- en bus-drywers het heelwaarskynlik hul lisensies by Shoprite gekoop.

Lillian ·

Lyk my daai brug is eintlik te laag vir enige vragvoertuig of bus wat daar onder deur moet ry …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.