Briefie-ma aangekeer oor verwaarlosing

Beamptes van Reaction Unit South Africa by die baba wat Maandagoggend verlate gevind is. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

ʼn 23-jarige ma is in Verulam in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem op aanklag van kinderverwaarlosing.

Maroela Media het vroeër berig ’n babadogtertjie van ongeveer drie maande oud is Maandagoggend verlate tussen bosse in Dawncrest gevind, tesame met ’n jammer sê‑briefie wat vermoedelik deur die kind se ma geskryf is. Die briefie, wat in Engels geskryf is, verduidelik dat die skrywer twee keer maatskaplike werkers om hulp genader het, maar deur die stelsel in die steek gelaat is.

’n Man het die baba aan die voet van ’n wal langs ’n stroompie ontdek terwyl hy veselperskes gepluk het. Die temperatuur was in dié stadium sowat 28 °C. Die man het sy werkgewer gekontak en Reaction Unit South Africa (Rusa) is na die toneel ontbied. Mediese personeel het die kind ondersoek en bevind dat sy gesond is. Hulle het die kind se deurweekte doek omgeruil en ʼn bottel melk aan haar gegee.

“Die vrou is in hegtenis geneem toe sy haarself vrywillig aan die polisie oorgegee het ná ontsteltenis op sosialemediaplatforms in Suid-Afrika,” sê Rusa.

Die ma is aangekla en het Donderdag in die Verulam-landdroshof verskyn. Sy is vrygelaat op borgtog van R500. Die saak is tot 8 November uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Meerkat ·

Hartseer. Sy het nie geld gehad om vir haar kind te sorg nie. Nou moet sy ‘n boete betaal. ????????

Dalk het sy nie eers toelae gekry nie.

Jywilwat ·

Miskien moet daar ook ondersoek gedoen word waarom sy 2 keer deur maatskaplike werkers geïgnoreer is. ‘n Ma moet uiters desperaat wees voor sy so iets doen.

Cherokee ·

Ooglopend kon sy nie vir die baba gee wat nodig is nie. Waar op aarde moet sy R500 uitgrawe!

Faraway ·

1. Sy laat n briefie met n verduideliking en sê jammer
2. Sy gee haarself vrywilliglik oor
= Die 23-jarige Ma skreeu om hulp wat sy duidelik NIE kry nie!!!

Patch ·

Dis net so. Waar gaan sy die borggeld vandaan kry as sy nie eers vir die kleinding kon sorg nie.

Lillian ·

My hart gaan uit na haar. Hoe desperaat moes sy nie gewees het nie. Hierdie staatsdiens instansies faal meestal om desperate mense te help.

blia ·

Skop ‘n hond wat lê. Wat is die boodskap wat dit uitstuur aan ander ma’s wat ook in dieselfde posisie is?

Marelize ·

Miskien moet daar gekyk word wat het haar gedryf om dit te doen. Desperaatheid, moedeloosheid. Maak net seker dat die regering wat haar wil starf nie die een is wat haar in die steek gelaat het nie.

Elmarie ·

Nou is sy ‘n “krimineel” maar eintlik was sy desperaat. Laat daai welsynwerksters aantree! Is daar nie ‘n manier wat mens hierdie arme desperate mens kan help nie. Die baba se doek was wel baie nat maar andersins soos op foto lyk sy vir my heel goed aangetrek en versorg. En die ma het vorendag gekom, anders as meeste wat kleintjies net wegsmyt. Asseblief kan mens nie iets doen nie??

E ·

En waar is die pa? Seker een van die duisende wat net eenvoudig nie onderhoud wil/kan betaal nie. Sosiale werkers? Ja nee

Saartjievandiebosveld ·

Weereens word die vrou deur ons wonderlike sisteem gevaal…wat doen jy as jy nie geld het vir melk en doeke vir die Baba nie. Jy het 2keer vir hulp gevra…geen hulp ontvang nie. Nou word sy beboet…sê nie daarmee wat jy gedoen het is reg nie…maar ek kry haar so jammer. Ek dink die maatskaplike werkers moet ondersoek word

Karina ·

Waarom het maatskaplike werkers nie gehelp nie? Sy moes koerante genader het om ‘n berig daaroor te plaas en die betrokke maatskaplike werkers is onbevoegd en moet afgedank word sonder enige voordele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.