Briek aangedraai vir diegene wat na Nieu-Seeland wil emigreer

(Argieffoto: pixabay)

Nieu-Seeland beoog om ingrypende veranderings aan sy immigrasiebeleid aan te bring – en dit kan ook verreikende gevolge hê vir Suid-Afrikaners wat gehoop het om groener weivelde daar te vind.

Stuart Nash, minister van toerisme, het Maandagaand gesê die Covid-19-pandemie het enorme uitdagings veroorsaak, reis ontwrig en families geskei. En hoewel migrante vantevore ʼn belangrike rol in die Nieu-Seelandse samelewing gespeel het – en steeds gaan doen – en ʼn beduidende bydrae tot die ekonomie en gemeenskappe lewer, is dit belangrik om ʼn balans in immigrasiebeleid te vind.

Volgens Nash moet die voordele en uitwerking van immigrasie op die land oorweeg word.

“Dit beteken om die regte mense en vaardighede te kry om te verseker ons behaal ons ekonomiese doelwitte, beperk druk op infrastruktuur soos behuising en verseker dat Kiwi’s werksgeleenthede het.”

Nash sê terwyl die land al hoe meer wegbeweeg het van ʼn afhanklikheid van migrante met laer vaardighede, was daar nietemin beduidende groei in die bevolking wat grootliks deur migrasie aangedryf is.

Hoë vlakke van migrasie het 30% van Nieu-Seeland se algehele bevolkingsgroei sedert die 1990’s bygedra. Dit is veral aangevuur deur toenemende getalle tydelike migrantewerkers en studente.

Sowat 5% van Nieu-Seeland se werksmag bestaan uit diegene met tydelike werkvisums, die hoogste van alle lande in die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD).

Die meeste werkers is boonop diegene met laer vaardigheidsvlakke. Nash sê daar was ʼn styging in die vraag na verblyfreg in Nieu-Seeland – en die meeste aansoekers is boonop reeds in die land.

Van September 2019 tot September verlede jaar het nagenoeg 7 100 Suid-Afrikaners na Nieu-Seeland “migreer” en slegs Indië (13 200) en China (8 500) het meer burgers daarheen sien migreer.

Die Covid-19-pandemie het egter ʼn reuseuitwerking op hierdie syfers gehad. Weens die pandemie bly talle mense noodgedwonge langer in die land en word hulle dus as migrante beskou.

Volgens die minister is daar steeds ʼn behoefte aan migrantewerkers wanneer geen Nieu-Seelander beskikbaar is om ʼn pos te vul nie. “Covid-19 het ons afhanklikheid op migrante-arbeid, veral tydelike migrante-arbeid, kwaai op die voorgrond geplaas. Die druk wat ons die afgelope jare op behuising en infrastruktuur gesien het, beteken ons moet voor bevolkingsgroei kom.”

Die land ondervind egter steeds tekorte aan vaardighede soos dié van ingenieurs, kliniese sielkundiges, algemene praktisyns, ginekoloë, veeartse, sjefs, dieselwerktuigkundiges en elektrisiëns.

Terwyl Nieu-Seeland dus probeer wegbeweeg van migrante, het die land terselfdertyd sy planne benadruk om meer skatryk beleggers na die land te lok.

“Ons soek geteikende, hoëgehalte-beleggings wat grensverskuiwende maatskappye stig en vaardighede en tegnologie na Nieu-Seeland bring,” sê Nash.

“Wanneer ons grense ten volle heropen, kan ons nie bekostig om bloot die kraantjie na ʼn vorige immigrasiebeleid oop te draai nie. Daardie roete is ʼn voortsetting van druk op infrastruktuur soos vervoer, verblyf en afwaartse druk op lone.”

Nash sê die hervorming gaan die minimum vereistes waaraan werkgewers moet voldoen voor hulle ʼn migrantewerker mag aanstel, uitstippel en verdere veranderings aan die beleid kan in die toekoms aangebring word.

Die hervorming van tydelike werkvisums moet ook groter buigsaamheid bied vir migrante wat hoëvaardigheidsposte vul. Dit is in ooreenstemming met aanbevelings dat migrante-arbeid net gebruik word waar werklike tekorte bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dries ·

Aggenee. So ons sit maar hier op die Titanic se stoep en wag tot hy sink. Geen uitkoms meer nie

Bart-Man ·

Toe Zimbabwe vou het Engeland hulle mense kom haat. Toe Mozambique vou het Portugal hulle mense kom haal. Toe Suidwes val is hulle kom haal. Niemand gaan ons kom haal, of n hand uitsteek nie. Wat sê dit vir ons, en van ons? Ons het in geskiedenis geleer waar ons vandaan gekom het. Dit is aangewys in boeke. Maar niks. Dit beteken absoluut niks wie of wat jou oupagrootjie was nie. Ons is n koloniale eksperiment wat misluk het omdat ons ons regte moes opoffer om die wêreld se guns te wen. En die opoffering byt en knou ons gedurig af. En nou het ons niks. Nererns om te gaan nie. Ons wêreldjie word kleiner. Hekkies minder, regte beperk. Stil sal ons onself uit die geskiedenis boekke versmoor.
Sad ne.

groenboer ·

Die rede waarom Engeland en Mosambiek hulle mense gaan haal het is omdat dié mense hulself as koloniste gesien het, en dus behorende tot die Europese moondhede. Afrikaners daarenteen dring al eeue lank daarop aan dat hulle inheems is, en wou niks met die Nederlandse owerhede te doen hê nie. So nou ja, dan kan ons die Nederlanders nie juis kwalik neem as hulle ons ook nie wil hê nie. So kom die jare se nasionalistiese vlagswaaiery en volksliedsingery nou terug om ons in die hakskeen te kom byt – noudat ons nie meer die mag het nie, besluit ons skielik ons is after all Europeërs en westerlinge, net om te vind dat hierdie moondhede ons nou hou by waarop ons self aangedring het.

Anoniem ·

Ek stel ook nie belang daarin om hoegenaamd terug te gaan vanwaar my voorsate 300 jaar+ gelede hier aangekom het nie. Ek sal ook nie in Duitsland, Nederland of Frankryk aard nie, my Boerebloed lê hier.

Anoniem ·

Dis wat beskaafde ontwikkelde lande doen, laat slegs diegene toe wat waarde kan byvoeg, geen plakkers of rugryers nie.

fs ·

So baie mense vlug uit SA en vele ander Afrika lande… NZ is maar die eerste van vele ander lande wat begin besef hul moet eers na hul eie mense omsien en werk verskaf voor daar na die immigrante gekyk word… ek stem 100% met NZ saam! Al beteken dit dat baie van ons nou ons planne kwyt is….

JohanCzu ·

Mense wie wil emigreer kan gerus kyk na Paraguay. Dis ‘n snelontwikkelende land met vriendelike mense, baie min misdaad en alle dienste werk klopdisselboom. Boonop is die immigrasieproses eenvoudig en relatief goedkoop, en Suid Afrikaanse paspoortdraers benodig ook nie ‘n visum nie. Dis in die suidelike halfrond, so die seisoene bly dieselfde, en vir meeste Suid Afrikaners sal die klimaat ook goed wees. Die enigste “probleem” is dat jy Spaans sal moet leer, wat ook nie te moeilik is nie.

Rooikoos ·

Of Argentinië is ook n opsie. Na die boereoorlog is n klomp boere soontoe.

Dorothea ·

Ons woon in NZ en waaroor dit eintlik gaan, is om meer opgeleide mense in te kry in plaas van werkers sonder opleiding. Dit maak sin. Toe ons gekom het, het ons punte gekry vir opleiding. Dit maak dus nie die deure vir almal toe nie.

Kirst ·

Dis die ou “catch 22”. As jy nie ervaring het nie soek hulle jou nie. As jy egter ervaring het is jy waarskynlik nie meer so jonk nie, en tensy jy ou geld agter jou het maak dit nie sin om oor te begin op ouer as 35 nie. Dit gaan jou heelwat meer as R1 miljoen kos om al die papierwerk te doen en jou gesin daar te kry. Dan land jy daar met jou tas vol klere en later kom jou vraghouer met meubels. Die gemiddelde huisprys in NZ is R5,7 miljoen vir ‘n drieslaapkamer op 300 vkm. Ek soek nie daardie groot verband nie (as jy dit kan kry). Dan beter jy ook ‘n goeie salaris verdien, My skoonsuster-hulle is nou in hulle derde jaar in NZ en hulle lewe van die hand na die mond. Hulle huis hier verkoop om daar peperduur te gaan huur. Die argument is dat jy dit vir jou kinders se toekoms doen, maar jy doen dit ten koste van jouself. Ek koop vir myne effektetrusts so as hulle oor die water wil gaan swot kan hulle na skool gaan. Besef ook dat NZ een van die mees sekulere lande ter wereld is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.