Brig. De Waal was ‘eerbaar, opreg’

Brig. Dick de Waal is Vrydag aan Covid-19 oorlede. (Foto: Dick de Waal/ Facebook)

“Ons salueer jou, brig. De Waal. Jy was ʼn speurder enig in jou soort.”

Kollegas, vriende en familie het Donderdag vir brig. Dick de Waal (58), hoof van die Valke in die Noord-Kaap, finaal gegroet en hul respek betoon. De Waal, wat die berugte Griekwastad-moorde en onlangs ook die moord op die hoteleienaar in Pofadder ondersoek het, is Vrydag aan Covid-19 dood.

Maroela Media het vroeër berig De Waal is sowat twee weke gelede in die MediClinic Gariep in Kimberley vir Covid-19 opgeneem. Sy dood het skokgolwe deur die land gestuur.

Die roudiens is Donderdag om 10:00 in die NG kerk Harmonie in Kimberley deur leraar dr. Abraham Swanepoel gelei.

“Ons het ʼn groot man verloor. Dick se dood het ons sprakeloos gelaat. Ons het gebid dat die Here hom vir ons moet spaar, omdat ons hom nog so nodig het. Die Here het egter besluit om hom te roep en vry te spreek. Hoewel ons nou huil, word ons ook daardeur vertroos dat die hemel vir Dick oopgegaan het. Hy is nou op ʼn beter en veiliger plek,” het Swanepoel in sy troosboodskap gesê.

Swanepoel het in sy boodskap benadruk hoe eerbaar en opreg De Waal in sy werk was. Volgens hom wou De Waal altyd die waarheid laat seëvier.

“Hy was die stem vir die mense wat nie meer vir hulself kon praat nie. Hy was ook ons rots. Vir die Noord-Kaap was hy ʼn trots.”

Joe Scholtz, voorsitter van Agri Noord-Kaap, wat die afgelope 34 jaar nou saam met De Waal gewerk het, het tydens die roudiens vertel hoe ʼn groot leemte De Waal in die polisiediens agterlaat.

“Hy het fondamente en hoekstene gelê waarop die polisie in die Noord-Kaap kan voortbou. Hy het respek verdien by die hele Suid-Afrik

Adv Hannes Cloete (links) en brig. Dick de Waal (Foto: Dick de Waal, Facebook)

a en al sy kollegas,” vertel Scholtz.

ʼn Emosionele genl.maj. Koliswa Otola, adjunk- provinsiale polisiekommissaris, het tydens haar huldeblyk aan De Waal vertel hoe sy nie nou al gereed is om hom te groet nie.

“Ek het gedink dat ek in 2023, wanneer Dick sou aftree, mét hom sou praat. Ek het nie besef dat ek vandag hier sal staan en óór hom sou praat nie,” het Otola gesê.

“Hy was ʼn ware leier en het ʼn groot passie vir sy werk gehad. Hy was ook lojaal en toegewyd in sy werk en geliefd onder sy span. Geen taak of saak was te groot vir hom gewees nie.

“Hy het nou sy doel op aarde bereik. En ons het ʼn vriend, kollega en familielid verloor, maar ʼn engel bygekry.”

Brig. Dick de Waal en sy vrou, genl.maj. Henriette de Waal (Foto: Henriëtte de Waal, Facebook)

Lt.genl. Johannes Riet, ʼn oudkollega van De Waal, het in sy huldeblyk vertel hoe ʼn groot mentor De Waal vir hom as jong polisieman in die 1980’s was. Hy beskryf De Waal as een van die beste speurders in die land wat onbaatsugtige diens aan die gemeenskap gelewer het.

“Hy het altyd gesê hy sal enigiets in sy vermoë doen om onskuldige mense te beskerm. Hy het ook altyd die goeie nagestreef.

“Hy het in ons as sy kollegas geglo en ook in ons vermoëns. Maar sy familie en vriende was sy eerste prioriteit. Ek onthou hoe hy altyd hand aan hand met sy vrou, genl.maj. Henriette de Waal, in die straat geloop het. Hy was die toonbeeld van ʼn goeie man en pa.”

De Waal het die afgelope 35 jaar in die Suid-Afrikaanse polisie gedien. Hy is vir die eerste keer werklik in die kollig geplaas met die ondersoek na die Griekwastad-moorde in 2012, toe die 15-jarige Don Steenkamp sy gesin wreed vermoor het op hul plaas buite dié Noord-Kaapse dorp. Die Suid-Afrikaanse Hollywood-akteur Arnold Vosloo het De Waal later in die film Griekwastad vertolk.

Sy vrou, genl.maj. De Waal, dien tans as waarnemende polisiekommissaris van die Noord-Kaap. Hy word ook oorleef deur sy seun en dogter, Brando en Annalize de Waal, susters, Bettie van Zyl, Marie de Waal en Poppie de Waal-Odendaal, asook sy stiefkinders, Henri en Arno Olivier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

RIV< nog n groot boom van die Noord Kaap het geval, sterkte aan sy geliefdes.

Johanna ·

Dit is n eer om te hoor van so toegewyde Brigadier.
Ek bid dat ander by hom sal oorneem en die werk sal doen met self respek en.liefde vir Geregtigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.