‘Bring Harvey huis toe’, pleit boelhond se ma

Harvey se gesin is verpletter nadat hy op 12 Julie spoorloos verdwyn het. (Foto: Facebook)

“Dit voel asof iemand my baba gevat het.”

Só het ʼn emosionele Roxy Athens vandeesweek gesê nadat Harvey, haar bruin Franse boelterriër verlede Sondag spoorloos by Athens en haar man, Dimitri, se huis in Northcliff in Johannesburg verdwyn het.

Athens sê sy het Harvey op 12 Julie na die agterplaas uitgelaat en toe sy minute later weer na hom soek, was daar geen teken van die vyfjarige hond nie. Die erf is heeltemal toegemaak en die enigste manier hoe Harvey moontlik kon ontsnap, was dalk deur die bure se elektriese heining wat in daardie stadium afgeskakel was.

Harvey en sy mens-ma, Roxy Athens.

Athens sê die afgelope tien dae was soos ʼn nagmerrie waaruit sy net nie kon wakker word nie – “die slegste tyd in my lewe”, maar ook ʼn tydperk waarin sy mense se ongelooflike goedhartigheid beleef het.

Honderde vrywilligers wat van die soektog na Harvey te hore gekom het, het plakkate opgeplak, pamflette versprei en op hul eie tyd en onkoste van veearts na diereskuiling gery om na die geliefde brakkie te help soek.

“Selfs wildvreemdelinge het opgedaag om na hom te help soek. Hulle is soos beskermengele en ons sou nie sonder hulle hierdeur kon kom nie. Dit is ongelooflik. Ek het nog nooit mense se goedheid so beleef nie.”

Ondanks hulle beste pogings was daar tot dusver egter geen spoor van Harvey nie.

Duisende mense help reeds in die soektog na die skattige hondjie.

“Dis die onsekerheid oor waar hy is wat vir my die ergste is. Hy is die mees liefdevolle karaktertjie en so goedgelowig. Ek hoop hy is by iemand wat vir hom lief is.

“Ons het hom verlede jaar aangeneem en vir die eerste keer het hy mense vertrou. Hy wonder seker waar sy ma en pa is en hoekom hulle hom nie kom haal nie. Hy moet só verward wees.”

Ook Pepper, Harvey se beste maat, is in rou gedompel. Athens sê Pepper is depressief en wil sedert Harvey se verdwyning nie eens behoorlik eet nie. Ook sý wag vir hom om huis toe te kom.

Die gesin het nou ʼn beloning van R20 000 uitgeloof vir wie ook al Harvey veilig aan hulle terugbesorg. Die beloning is danksy vriende, familie, plaaslike sakeondernemings en vreemdelinge bymekaargemaak.

Athens het ook ʼn hartroerende boodskap op Facebook geplaas aan die persoon wat Harvey dalk het. “Jy het nou die kans om die regte ding te doen en ʼn geliefde, kosbare siel aan ʼn familie wat mal oor hom is, terug te besorg.”

Harvey en Pepper. Die twee is onafskeidbaar.

Duisende mense volg reeds die Facebook-blad Bring Harvey Home waar Athens inligting oor haar soektog na die hond deel.

“Baie mense vra hoekom ons so ʼn groot ophef hiervan maak, maar hy is een van my kinders en ek het hom net so lief soos enige van my ander familielede.

“Vir sommige mense is hy dalk ‘net ʼn hond’, maar vir ons is hy kosbaar, ʼn kerndeel van ons familie, ons vreugde, ons hartklop. En ons sal nooit moed opgee nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daleen ·

‘n Paar maande terug was ek ook een van daai mense wat sou gevra het wat is die ophef oor ‘n hond. Tot my seun se geliefde Pitbull eendag verdwyn het en ek my seun van 30 sien snik het oor sy “monster” wat weg is. Enigste ander keer wat ek hom so sien huil het was met sy broer en nefie se dood saam in’ n motorongeluk. En toe het ek besef dat honde is baie spesiaal vir verskillende mense vir verskillende redes. Ek hoop regtig julle is so gelukkig soos my seun hulle en julle kry julle hondekind terug. Sterkte.

Chris ·

Regstelling. Dit is ‘n Franse Bulhond en nie Franse Boelterriër nie. Effense groot verskil.

Kattebol ·

As ‘n troetel diertjie sterf, is die verlies net soos met die dood van ‘n familielid. ‘n troetel diertjie wat wegraak, is ‘n gemis en pyn wat onbeskryflik is. Die wonder wat met hulle gebeur (het) raak met tye ondraaglik. Ek wens dit nie eers my grootste vyand toe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.