‘Bring terug ons boeke!’ pleit Kaapse biblioteke

(Argieffoto: Jamie Taylor/Unspslash)

Biblioteke in Kaapstad ly tans ’n verlies van bykans R3 miljoen met meer as 22 000 boeke, DVD’s en ander leesstof wat weg of uitstaande is.

Die metroraad doen in die lig hiervan ’n dringende beroep op biblioteekgebruikers om uitstaande items aan hul naaste biblioteke terug te besorg.

Indien gebruikers dié items tussen 5 en 10 September terugneem, hoef hulle ook nie bekommerd te wees om ’n boete te betaal nie.

“Ons kan nie die realiteit van verlore of uitstaande items ignoreer nie. ’n Item word as ‘verlore’ beskou wanneer dit ná drie maande nie aan die biblioteek terugbesorg is nie,” het Patricia van der Ross, die DA se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, gesê.

“Dit ontneem ander gebruikers van die geleentheid om hierdie lees- en kykstof te geniet en te benut, terwyl biblioteke verliese ly wat hulle nie kan bekostig nie.”

Volgens Van der Ross is gr. 12 geografie studiegidse en sprokiesverhale soos “Aspoestertjie”, “Jan en die boontjierank”, “Alice in Wonderland” en “Rooikappie” boaan die lys van verlore of uitstaande items.

As deel van Internasionale Geletterdheidsdag wat op 8 September gevier word, beplan die stad se biblioteke verskeie aktiwiteite, waarvan hul veldtog om uitstaande items in te vorder deel is.

Tydens ’n soortgelyke veldtog in Maart vanjaar het biblioteke 2 798 uitstaande boeke, tydskrifte, DVD’s en ander materiaal ingevorder.

“Om geletterdheid te bevorder is ʼn kerndeel van ons pogings om die ongelykheidsgaping in onderrig en armoede te verklein.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pannies ·

Wys jou net hoe gaan die opvoedingspeil van ons samelewing agteruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.